Ons praat met

Cameron van der Burgh SA se Sportman van die Jaar

Cameron het in 2009 die wêreldrekord in die 50 m-borsslag tot 27.06 sekondes by die SA swemkampioenskappe verbeter. In dieselfde jaar het hy die 50 m-borsslag by die wêreldkampioenskappe in Rome gewen. In 2010 het hy daarop voortgebou en die goue medalje met ‘n nuwe spelerekord by die Statebondspele losgeswem. Ná afloop van die Wêreld-swemkampioenskappe, wat in Julie vanjaar in Sjanghai plaasgevind het, het hy bronsmedaljes vir die 50 m- en 100m- borsslag huis toe gebring.

[box:full:grey:both]

sarie.com het met hom gesels

[/box]

Op watter ouderdom het jy begin swem?

Ek het op 11 begin swem en soos enige kind aan verskeie sportsoorte deelgeneem, maar ek het uitgeblink in swem en dit het vinnig my nommer-een-prioriteit geword.

Hoe het jy geweet jy wil professioneel swem?

Op 15 het ek my enkel gebreek terwyl ek op ’n duikplank gespeel het. Twee operasies later en vier maande uit die swembad het ek net geweet … Ek het swem verskriklik gemis in daardie tyd en agtergekom ek het ’n passie daarvoor. Hulle sê mos jy weet eers wat jy het totdat dit weggeneem word van jou af. Wel, toe ek weer kon swem, het ek net nooit weer opgehou nie.

Hoe motiveer jy jouself?

Ek dryf myself deur my gedagtes te vul met dit wat ek wil bereik. Ek sien myself met ’n Olimpiese goue medalje en dan dink ek wat ek alles moet doen om dit te behaal. Dit motiveer my om dit dan te gaan doen.

Wat is jou leuse?

Wees vriendelik met die mense wat jy langs die pad ontmoet, jy gaan hulle weer raakloop op pad terug.

Wat doen jy om te ontspan?

Ek is mal oor gholf. Ek is nie noodwendig baie goed daarin nie, maar ek hou daarvan om buite te wees sonder enigiets wat my pla. Om droog te wees is ook lekker!

Sit dit druk op jou as mense nou al sê jy is iemand om dop te hou vir volgende jaar se Olimpiese Spele?

Die enigste druk wat ek voel, is die druk wat ek op myself plaas. Ek is baie doelwit-gedrewe, so ek werk hard om dit te behaal. En deur hard te werk, kan ek die kompetisie geniet en nie tob oor dit wat ek nie gedoen het nie.

Het jy verwag om SA se Sportman van die Jaar te wees?

Glad nie! Swem is so klein in SA, veral as jy kyk na rugby en sokker. Ek was regtig verbaas. Ek wil graag help om swem in SA te laat groei en om dit meer erkenning te laat kry, soos wat Ryk Neethling gedoen het en steeds doen.

Wat is die grootste uitdagings in jou loopbaan?

Opoffering. Daar is so baie dinge wat ek misloop. Laat slaap, lang vakansies en studentelewe is dinge wat ek nie ken nie, maar ek sal steeds nie my leefstyl wil verander om ’n “normale” lewe te hê nie.

Wat is jou grootste droom?

Om ‘n goue medalje by die Olimpiese Spele te wen.

Het jy ’n meisie?

Ja, ons gaan al ’n paar jaar uit. Dit is baie lekker om iemand te hê wat lief is vir jou en jou ondersteun en bystaan. Veral as jy so baie soos ek reis.

[box:full:grey:both]

Cameron se gunstelinge

Kos: Thai

Drankie: Gin and tonic

Fliek: Man on Fire

Boek: Good to Great, Jim Collins

Sportheld:
Penny Heyns

Vakansie-bestemming: Thailand

[/box]

Volg Cameron op Twitter en Facebook

Volg SARIE op Twitter en Facebook