feb06praatmet1a
Ons praat met

Sal jy saam met dié man in ’n motor klim? O, ja!

Colin Moss is nie mooi nie. Hy is slím. Oukei, hy is nie te onaardig nie, maar die grootste indruk wat hy op jou maak, is een van skerp waarnemingsvermoë, humor en intelligensie. Enige man wat sy IK werd is, kan oor homself ook grappies maak. Ek wag vir hom op die Johannesburg Internasionale Lughawe. Die restaurante is gepak van mense wat wag op hul vlugte.

Colin is pas klaar met Idols 2005 en op pad terug Kaap toe. Ons kon hom nie vroeër sien nie, want hy moes sy hele trek terug reël, kleed-repetisies vir die laaste Idols-program inpas, opnames maak vir sy liedjies op die nuwe Number 10-klankbaan en nog die een en ander. Net die vorige dag moes hy ook nog sy 1965-Mustang Coupé op die trein laat sit en sy woonstel ontruim. So, dit is die enigste gaping in ’n besige program.

Hy skud my hand entoesiasties. “Dankie dat jy lughawe toe gekom het. Ek weet nie hoe ons andersins sou kon gesels nie . . .” Benewens sy loopbaan as skerpskertser – en dis wérklik sy passie – is Colin die aanbieder van verskeie TV-programme, en het hy pas klaar geskiet aan die nuwe rugby-rolprent, Number 10, wat op 26 Februarie uitgereik word. Vir iemand wat nog nie dertig is nie, het hy nou al die akkolades goed ingeryg. Hy is ook onder meer in 2003 gekies as die gewildste tiener-idol – twee jaar ná mekaar – en as die beste TV-aanbieder deur lesers van die tydskrif Best of Johannesburg. Alpha se stylklub het hom kort daarna aangewys as die stylvolste TV-persoonlikheid in die land. Boonop is hy as Cosmo se sexyste man van die jaar aangewys.

Maar van die sexyste man of die blinkste Idols-aanbieder is daar nou niks te sien nie. Hy lyk soos enige ander energieke jong man. Incognito met ’n bofbalkeps oor die oë, verbleikte jeans en ’n ligte somershemp. Rugsak skuins oor die een skouer. Sonbril teen die voorkop opgeskuif en ’n vliegkaartjie in die hand. Net nog ’n reisiger. En hy is kort! Net ’n bietjie langer as ek, en dis ’n verleë 1,7 m (die destydse vyf voet ses).

“Hoe is jou Afrikaans?” vra ek hoopvol. “Nie baie goed nie,” antwoord hy, in Afrikaans. “Ek het Engels grootgeword in Durban. Maar vandat ek so baie Gauteng toe kom, het my Afrikaans heelwat verbeter.” Hy praat onverpoos. Veral oor die rolprent wat pas klaar is. Number 10 gaan oor die verhaal van ’n losskakel en sy stryd om suksesvol te wees in die rugbywêreld. “Maar,” sê Colin, “die fliek is veel meer as dit. Dis ’n ‘foto’ van ons land, geneem teen die medium wat die grootste gedeelte van die bevolking die beste verstaan. Die palet van sport. “Op dié manier kan jy sosiale werklikhede tuisbring wat jy nie maklik op ander maniere sou kon doen nie. Dinge sê oor goed wat aandag moet kry, maar op ’n vermaaklike wyse.”

En sy eie rugbyvermoëns? Sy loopbaan as flank is in st. 8 (nou gr. 10) in die kiem gesmoor weens ’n gekraakte sternum. Nou skree hy maar vir die Haaie. “Ek is mos maar eintlik in my hart ’n banana boy. Maar ek bly al so lank in die Kaap dat ek ook baie lief geword het vir die Stormers. Met die verfilming van Number 10 het ons ook baie na aan die spelers en bestuur van die Valke (ou Oos-Transvaalse span) gekom. Hulle was oneindig geduldig, professioneel en goed vir ons. Dus is daar nou al plek vir ’n derde span in my hart!” Volgens Colin gebeur wonderlike dinge tans in die SA rolprentbedryf. “Die regisseur van Number 10, Darryl Roodt, wat vir sy rolprent Yesterday vir ’n Oscar benoem is, weet wat hy doen. In Darryl se hande is jy altyd veilig.” Colin se “pa” in die rolprent is die gesoute akteur Ian Roberts.

Oor Colin sê Ian: “Jong, as ek nou eerlik moet wees …” hy kug, volg dit op met ’n kekkel-laggie. “Ek het vooraf – en aanvanklik – gedink hy is ’n toughed up dwerg. ’n Kompakte jongeling met TV-maniere. Maar toe kom verbaas hy ons almal. ’n Hele klomp van die mense op stel het ’n les of twee by hom geleer oor professionaliteit. En fokus. Daar was veral een akteur wat deurgaans baie negatief en baie aggressief was, en dit het almal se gemoedere aangetas. Totdat Colin die dag ge-strip en vir die ou laat weet het dat hierdie vir álmal ’n harde tyd is, dat daar ’n span is wat moet saamwerk, en nog baie meer … Daai dag het die gees op stel nét so verander.”

Voor Number 10 het Colin ook gewerk aan die Crazy Monkey-fliek, ’n vollengte weergawe van die gewilde MTV-insetsels. Dié insetsels het letterlik die hele wêreld se jeug aan die praat, veral in Westerse lande soos Amerika, Kanada, Engeland, Australië. Selfs Asië en Suid-Amerika. Geen wonder Colin hardloop so rond nie.

Waarheen is jy op pad?
Na nêrens. Na orals. Na waarheen my lewe my lei.Of bedoel jy nou, hier vanaf die lughawe? Terug huis toe, wat veronderstel is om in die Kaap te wees, hoewel ek hierdie afgelope jaar slegs drie maande daar deurgebring het. Drie maande! (Hy skud sy kop.) Dis nie eintlik ’n lewe nie. Maar ek geniet dit. Ek word een van die dae dertig en vermoed dat ek in ’n stadium bietjie sal begin afskaal. Ek sal moet.

Het Idols jou lewe verander?
Ek sou eintlik sê dat my komedie-werk my lewe verander het. Ek is “raakgesien” een aand tydens een van my vertonings en is gevra om vir ’n aanbiederstoets te gaan. So het Fear Factor en die Idols-reeks gevolg, wat natuurlik nou weer die gehore by my komedie-optredes beïnvloed. Ek sien nou daardie ou raak wat teësinnig saam met sy vrou gekom het, die een wat dink: “Ja, goed, mannetjie. Ek is hier omdat my vrou my saamgesleep het. Beïndruk my nou.” En dan moet jy! Die geheim is maar eintlik om die menslike – wat blêrrie snaaks kan wees – in jouself en jou omgewing uit te lig. Dit snoer mense saam. Mense dínk eintlik meer oor dinge as hulle daaroor lag. Dis asof dít wat gesê is ná die tyd stadig insink, asof dit só makliker is om ’n moeilike waarheid in die gesig te staar.

GUNSTELINGE

KOS My eie

DRANKIE Jack Daniels of ekstra droë Martini

MUSIEK Omtrent alles. Ek is mal oor sewentiger- rockers soos Jimi Hendrix, The Stones, Led Zeppelin, en luister baie jazz, veral Miles Davis en John Coltrane

KUNSTENAAR Esias Bosch, Pablo Picasso en Salvador Dali

SKRYWER Tom Robbins

FILM True Romance, Clockwork Orange, Snatch

AKTEUR/AKTRISE Edward Norton, Johnny Depp

GESEGDE “Tevredenheid is nie die verwesenliking van wat jy wil hê nie, maar die besef van hoeveel
jy reeds het.”

PLEK Onder die water in die Rooisee

TYDVERDRYF Tango, speel saxofoon, skuba-duik en luier rond in my Mustang

Vertel my meer van jou rol as komediant?
Dis nie ’n rol nie. Dis ék! Komedie is ook nie net ’n passie nie. Of iets wat ek moet doen nie. Dis dwingend – ek kan dit nie help nie. Komedie is regtig my lewe. Dis ’n ontsettende kragtige manier om ’n “diep” of moeilike boodskap oor te dra. En dit hou die swart hond in jou eie lyf ook in toom. Die meeste komediante swaai tussen donker en lig, tussen bo en onder, met min tyd tussen-in.

Dis ’n bipolêre affêre. Dink maar aan Robin Williams, Michael Keaton of ons eie ouens soos Barry Hilton en Leon Schuster. Die meeste van hulle raak donker, depressief, en komedie is dan die pad na die lig. Ek’s nie anders nie, dis so met my ook. Onthou, die antieke Grieke het gereken komedie is die hoogste vorm van teater, hoër nog as tragedie of drama.

En ware komedie het niks te doen met slapstick nie. Ware komedie gebeur wanneer jy jouself so ver kan verwyder van die onderwerp dat jy ’n unieke, nuwe invalshoek het. ’n Ou waarheid nuut ontdek. Wanneer jy dan die ware elemente in ’n situasie raakvat en uiteindelik vir jouself en die mense wat luister, wys: Kyk hier, kyk hoe belaglik is ons soms. Kyk wat doen ons as ons dink ons is baie ernstig, vroom of slim. Ons aksies is meestal, gesien teen die groter kosmos, ’n grap. Maar eish! hierdie raak nou heavy . . .

Is Idols gesond?
In ’n mate. Ek dink soos die stemmery nou daar uitsien, is dit gesonder as vantevore waar ’n sekere deel van die bevolking dalk groter toegang tot SMS’e gehad het. Dit maak nou meer sin. My musieksmaak is miskien meer eklekties. Ek het om die draai van die Durbanse legende Nibs van der Spuy grootgeword, en is kleintyd al blootgestel aan ouens soos Steve Newman en Tony Cox. Hulle is jammerlik onbekend in Suid-Afrika, maar word internasionaal as reuse geag.

Wat dink jy van Karin?
Ek dink ons kon nie vir ’n beter Idol gevra het nie. Sy het die talent – wat ’n wonderlike stem! En haar verhaal is soos ’n sprokie, die droom-word-werklikheid, wat Idols eintlik maar tog verteenwoordig. Van appelpakker tot superster, hoe’s daai?

Jy self sing en speel saxofoon – het jy al in ’n band gespeel?
Nie sedert skool nie. Nou speel ek net vir myself in my eie tyd – en dan meestal jazz.

Vertel bietjie meer van die nuwe CD?
EMI het die klankbaan van Number 10 opgeneem en my gevra om twee liedjies daarop te sing. Verder kan ek nie eintlik meer sê nie, die mense sal maar moet luister of ek wel kan noot hou! Ek het dit nogal geniet, moet ek bely.

As jy deel was van ’n Mej. Wêreldkompetisie en hulle vra jou daardie een vraag . . . Jy weet, ‘wat sal jy met jou titel doen’ of ‘wat is jou wens vir die aarde?’.
Mmm. Dis ’n lekker een. As ek die titel wen, sal ek probeer help om armoede te verlig en om vooroordeel teen te gaan. En ek sal ál die mense laat hande vashou sodat hulle vriende kan raak. Ek sal vir Kim Jung soen en hom in ’n prins verander en almal sal vir altyd gelukkig saambly . . .

Ek hoor jy is so lief vir kosmaak?
Dit is so. Ek vrek oor kook. Veral Thai-kos. Hulle kerries is nie oorweldigend nie, en kruie soos sitroengras en koljander speel ’n groot rol. Dit moet net vars wees. En as jy eers agter die kap van die byl gekom het, is dit nogal heel eenvoudig. Ek eksperimenteer lekker met my eie Suid-Afrikaanse weergawe van Thai-kos, voeg lam en vissoorte in roerbraai, wat die Thailanders nie juis ken nie … Ian Roberts is ook ’n groot kok. (Ian het juis ingestem om by te dra tot ’n bekendes-om-die-pot-kookboek wat beplan word.) Ons kan lank oor kos klets. Dis ontspannend om kos te maak, en sensueel. Dit vat jou oombliklik weg uit jou omgewing.

Wat anders doen jy om stres te verminder?
Ek is ’n groot voorstander van die Oosterse gevegsport, Mauy Thai. Dit beteken letterlik “krag van die draak”. Dis baie fisiek, jou hele liggaam is betrokke. Maar dit leer jou ook om jou gedagtes te fokus, te beheer. En dis baie goed om jou gewig in toom te hou! In die klub in Kaapstad waar ek oefen, is daar heelparty modelle wat dit uitsluitlik om dié rede beoefen. Ek het vroeër jare, veral op universiteit, geskerm ook. Maar deesdae verkies ek Mauy Thai.

Watter van jou eie gewoontes irriteer jou die meeste? En van ander mense?

As een van my eie gewoontes my irriteer, verander ek dit of hou op om dit te doen. ’n Ding wat my vreeslik irriteer, is as mense oopmond popcorn kou in ’n fliek. Ek haat dit. Dit trek mens se aandag af en dit is grillerig.

As jy nie in hierdie bedryf was nie, wat sou jy graag wou doen?
Kopie skryf, ek hou daarvan om kort, pittige sinsnedes op te maak wat die oorspronklike betekenis van ’n woord op sy kop draai.

Is jy ’n amateur-kenner op enige vakgebied?
Ja, ek glo ek is. Veral astronomie – die sterre fassineer my van kleins af. Ook filosofie, en motor-meganika. Ek lees baie graag wetenskapboeke om ’n groter begrip van die heelal te kry, hetsy biologie of die dinge van die kop, oor hoe ons dink oor die betekenis van die lewe. Ek stel ook baie belang in inheemse medisinale botanie.

Het jy al ooit in ’n vreemde land gewoon?
Nee, maar ek sal baie graag bietjie tyd in Italië wil deurbring.

Watter vraag het niemand jou nog gevra nie, wat jy graag gevra wil word?
Wie was jou gunsteling-karakter in The A Team en hoekom?

Goed, ek vra.
Mad Murdoch! Ek dink dis omdat hy my normaal laat voel het.

Wie is die naaste aan jou?
Ek het ’n ouer broer wat ’n onderwyser in Londen is. Ons probeer mekaar gereeld sien en kommunikeer baie per e-pos. My beste vriend, Cokey Falkow, is ook ’n komediant. En my meisie, wat ’n jong rolprentmaker is.  

(Ai…)

                ***

Die eentonige stem oor die interkom kondig weer sy vlug aan. Ons vra mense om ’n foto van ons te neem, maar kry net blanko gesigte. Ons neem dan maar self een, ’n selfportret so uit die lug. Hy gryp my hand, skud dit weer stewig, op en af. Hy draf krapstyl vinnig weg, op pad na nêrens.