img_5701
Ons praat met

Sandi Schultz uit Survivor, sy praat met SARIE

Die 45-jarige Sandi Schultz is onverwags betrap toe haar stam op die laaste nippertjie besluit het om haar uit te stem. Dít terwyl sy die heeldag gehuil het omdat sy verwag het een van haar gunsteling-stamlede sou huis toe gaan.

Wat ‘n verrassing toe jy uitgestem is! Die een oomblik sou dit ProVerb wees en die volgende oomblik is jy uitgestem.
Die ironie is dat ek ontsteld was omdat ons ProVerb sou uitstem. Hy was een van my gunsteling-mense op die eiland. Hy’t die ongelooflikste gees. Ek het omtrent die heeldag gehuil omdat ek gedink het ProVerb gaan huis toe. Ek was verras om uitgestem te word, maar Survivor is ‘n TV-program. Die doel op die eiland is: Outwit, outlast, outplay. Die mense wat vir my gestem het, het gedoen wat waarvoor hulle eiland toe gegaan het. Hoe kan ek kwaad wees vir hulle daaroor?

Dit lyk asof Ashley almal in jul stam aan die neuse rondlei en niemand kom dit agter nie?

Ek kon dit agterkom, maar ek het gedink ek gaan nog veilig wees vir een of twee stemme. Ek was bewus daarvan dat sy ‘n strategie het. Ek dink sy speel Survivor goed. Sy doen presies wat sy moet doen om ver te kom. Dit beteken sy moet lieg, bedrieg en mense in die rug steek. Ek het ‘n geskiedenis met Gys en Ashley wat 20 jaar teruggaan. Ek en Ashley was saam aanbieders by M-Net en ek ken Gys van my dramaskooldae in die Kaap. Ek het verkeerdelik gedink dit tel vir iets.

Hoekom het jy deelgeneem?
Dis die soort geleentheid wat jy nie elke dag kry nie. Dit kom een keer in ‘n leeftyd. Ek het die kans gekry om te kyk hoe ver ek myself kan dryf. Ek is bly ek het deelgeneem.

Dit het gelyk of jou strategie was om op die agtergrond te bly?
Sommige mense het vir die kamera gespeel. Ek was voor die kameras op die agtergrond, maar nie ten opsigte van ons kamplewe nie. Ek het net so ‘n groot rol in die kamp gespeel soos die ander. Daar is baie dinge wat moet gebeur om te kan oorleef, dit gaan nie net oor visvang nie. Ek het hout aangedra en uitgevind ons kon ons panga op nat sand slyp. Dít sien die kyker nie, want dit is nie opwindende TV nie.

Hoekom het julle span nie enige van jul waardevolle items weggesteek soos Chibudu nie?
As ek nou daaraan terugdink het Chibudu Survivor gespeel soos hulle dit moes speel. Ons het vir ‘n oomblik daaraan gedink om ons goed weg te steek, maar het besluit om dit nie te doen nie, want ons wou nie vuil speel nie. Ons was verskriklik kwaad toe Louw met net ‘n hoender opdaag.

Wat het jy die meeste gemis?
Toiletpapier, tandepasta en vlos. Ek was verbaas hoe swak ek fisiek is. Ek het gedink ek is sterker as wat ek is. Ek oefen nou verbete in die gim. Ek het selfs ‘n persoonlike fiksheidsafrigter gekry!