Ons praat met

Sandi Schultz se hoop, vrees en lewenslesse

EK HOOP

mense beskou my as meer as net die poster child, die kampvegter teen molestering en verkragting. Ek doen dit graag as ek ander vroue en kinders kan help om ook oor hul ervarings te praat, maar ek hoop ook mense besef dis net iets wat met my gebeur het. Dis nie wie ék is nie. Ek is ook snaaks en funky en normaal en eksentriek en talentvol en kreatief en baie ander dinge.

om geluk met albei hande aan te gryp, om dit te vertroetel en te laat groei van ’n eensame kooltjie in ’n yskoue land tot ’n knetterende vuur.

om elke dag hard te lag, liefde uit te deel en alles wat positief en goed is te weerspieël.

mense sal onthou hoe dit was toe ons nooit ons deure gesluit het nie. Toe jy nie twee keer gedink het voor jy jou medemens gehelp het nie. Dat mense sal onthou hoe kosbaar die lewe werklik is.

ek kan weer my bene heeltemal split, want dit beteken dat ek by joga uitkom!

EK IS BANG

vir mense met ’n eng lewensuitkyk wat dink nét hulle weet wat die waarheid is. Of ’n trop-mentaliteit sonder rede.

vir daai goeters wat jy moet eet op programme soos Fear Factor. Nie vir my nie, dankie.

vir die geweld waaraan ons almal in die land blootgestel is. Die realiteit is dat elkeen ’n storie het. As ons net tot stilstand kom om vas te stel wat dit is, sal ons nooit eers oorweeg om mekaar skade te berokken nie.

vir verkragting. Die vrees sal altyd by my bly, maar ek staan vandag hier as iemand wat aan die anderkant uitgekom het. Ek is ’n survivor, al wou iemand van my ’n slagoffer maak.

WAT EK GELEER HET

Ek was getroud met ’n Hollywoodakteur (John Savage) en het baie celebs in Amerika ontmoet. Beroemdes is maar net soos enigeen van ons – met hul eie dramas, lief en leed. Hulle het dalk meer geld as wat enigeen van ons ooit sal hê, maar hulle is nie altyd gelukkig nie.

My grootste uitdaging is om in die hede te lewe en nie asof vandag net ’n oorgang is na daardie “perfekte” toekoms wanneer ek mooi/maer/talentvol/ryk/gesond/fiks/gelukkig
genoeg gaan wees nie.

Verhoudings is harde werk. ’n Goeie vriendin sê altyd: “Verhoudings bestaan nie om jou gelukkig te maak nie, maar om jou te laat groei.” Dis ongelukkig waar.

Glo in jouself. Jy is goed genoeg. Dís die beste raad wat ek nóg gekry het. Ons vroue onderskat onsself dikwels.

Vroue is gemaak van die hardste, duursaamste materiaal op aarde – ons kan byna enigiets oorleef. Maar ons kan onsself ook omskep in die sagste, mees vertroostende toevlugsoord.

Liefdesverhoudings kom en gaan, maar vriende bly. Die vriende wat al lank in my lewe is, is “getuies” van wie ek was voor ek geword het wie ek nou is. Ek weet hulle sal altyd daar wees. Ons het dalk nie heeltyd kontak nie, maar my binnekring weet ek is daar as hulle my nodig het, dag of nag.

My boodskap aan ander vroue wat ook gemolesteer of verkrag is: Daar is lig aan die einde van die tonnel. Fokus daarop. Jy sal weer eendag kan lag, kan liefhê, kan leef. Dit gebeur nie oornag nie. Dit verg tyd. Praat daaroor. Dis ’n baie goeie manier om dit te verwerk.

Ek vind nie te veel baat by ’n geween oor wat kon gewees het nie. Ek is dalk tog spyt oor een ding: Dat ek 12 jaar gewag het voordat ek my geheim (dat my stiefpa my as kind  gemolesteer het) verklap het.

Ek gee hoelahoepel-werksessies vir vroue wat ’n soortgelyke nagmerrie as ek beleef het. Om só te dans het my onderlyf weer “lewendig gemaak” nadat ek dit lank as deel van my liggaam misken het. Die hoelahoepel gee die klein meisie in my kans om te speel en dit bring die vrou in my na vore.