FOTO: Johan Wilke

FOTO: Johan Wilke

Ons praat met

Sandra sonder ophou

Dié energie wat haar laat straal van jeugdigheid.Op haar hoë hakke, swart broek en hemp, kom Sandra Prinsloo effe uitasem by haar huis in Kalkbaai aan. Sy moes eers ’n verjaardagkoek gaan koop vir haar huishulp, Rebecca Matshe, se dogtertjie wat vyf word.

Sy groet haar vier “kinders” vriendelik. Die labradors Oliver, Donna, Romeo en die swarte genaamd Masja.“Die stoutste en intelligentste.”

Die huis waarheen Sandra en prof.Willem van Riet sowat ’n jaar gelede uit Johannesburg getrek het en wat hulle reeds die afgelope vier jaar besit, het ’n Europese gevoel. Propvol boeke, lekker ingeleef met kelims,mooi kunswerke en kleurryke kussings, ’n oopplan- kombuis waar gereeld gekook word en die gerusstellende reuke van ’n hondefamilie.

Dit was vir haar geen probleem om te verhuis nie. Sy’s ’n sigeuner, verseker sy, aanpasbaar, ’n vry siel.

Haar selfoon lui. Dis Sylvia, haar “informant”, wat vertel daar’s vars vis op die hawe. Dan bel iemand om te sê daar’s tofu by die gesondheidswinkel. “Al my suppliers ken my al,” sê sy.

Sy vertel hoe sy kleintyd eintlik haarkapper wou word.“Want ek het toe al geweet: net nie huisvrou nie. Ek weet nie hoekom nie. Ek het altyd so lekker met my poppe se hare gespeel. Maar ek het nooit gedroom van trou en babatjies kry nie.

“Ek het van 5 jaar tot 17 ballet gedoen en toe ek begin karakterrolle dans en mense sê my dansery het hulle ontroer, het die idee by my posgevat dat ek dalk moet begin toneelspeel. My ouers was ongelooflik. Hulle het my nooit met enigiets teruggehou nie. Eerder aangemoedig.”

Jy lyk ongelooflik.Wat is jou skoonheidsgeheim?
Ek eet al sowat vyftien jaar nie pasta, brood of verfynde koolhidrate nie. Ek volg ’n dieet van onder meer rou groente, vrugte en vis en drink sowat 2 liter water per dag, en baie rooibos en kruietee. Voordat ek dertig jaar gelede ophou rook het, het ek sommige dae sommer sestig sigarette gerook. Ek en Willem hou van ’n glas rooiwyn of ’n whiskey ná ’n dag se werk (en daar’s níks fout met lekker Franse sjampanje nie!), maar so af en toe drink ons vir sowat ses weke geen alkohol nie.Dit maak ’n mens baie vet!

Ek het onlangs bloedtoetse laat doen en dit na Duitsland gestuur. Hulle bepaal jou metabolisme en daarvolgens behoort ek eintlik vyf keer per week rooivleis te eet. Ek het dit geleidelik by my dieet ingesluit. Volgens die Life Science Programme vas ek soms en drink dan nét water. Dit was aanvanklik baie moeilik en party mense is naar en kry erge hoof- en spierpyne,maar jy ontgif ongelooflik. Jou vel lyk pragtig, want nuwe selle word só vinnig gevorm. Maar mense moet dit nie sonder dokterstoesig aanpak nie, anders kan dit gevaarlik wees.

Willem vra wáár kry jy jou energie vandaan?
Ek is nét so energiek soos hy, anders gaan ek agterbly. En soos hy weet, het ek hom  geleer om reg te eet en genoeg te oefen, maar nog nie om genoeg te rus nie!

Hoe belangrik is gereelde oefening?
Ek hou van fikswees. In my vormingsjare was ek gewoond aan die dissipline van ballet en ek voel sommer “af ” as ek nie beweeg nie. Ek stap elke dag ’n uur met my honde en doen ook ’n uur aërobiese oefening.Dinsdae doen ek nóg ’n ekstra uur Pilatesoefeninge in die aand. Naweke roei en swem ek en Willem. Ek is ’n alles-of-niks-mens.

In ’n stadium het ek gereeld ’n sielkundige gaan sien daaroor,maar nou is ek uitgesorteer. As ek té veel na die een rigting oorhel, sal ek outomaties terugneig na die teenoorgestelde kant om meer in balans te kom. Ek dink ook dit kan baie vervelig wees om heeltyd absoluut in balans te wees. Met alles wat ek doen, voel ek ’n bietjie soos ’n koorddanser.

Die eerste keer in 15 jaar het jy ’n eenvroutoneelstuk, Die Naaimasjien, aangepak. Hiervoor het jy die SARIE-Kanna vir beste vrouekunstenaar by die KKNK losgeslaan en die odes stroom in.
Die karakter Magdaleen is só lekker.Daar’s min goeie rolle vir ouer aktrises. Ek wou huil toe ek die teks die eerste keer lees. Hoewel Rachelle (Greeff, die skrywer) gedink het daar was niks snaaks in dié stuk nie, het ek tog ook die komiese daarin ontdek.

In die gewilde TV-reeks Erfsondes II speel jy die posh matriarg Lucille Spencer, ’n gerehabiliteerde alkoholis wat haar gesin bymekaar probeer hou. Was dit ook ’n vervullende rol?
Dis dalk ’n veralgemening, maar dis moeilik vir mans om volronde vrouekarakters te skryf. Henriëtta Gryffenberg skep karakters waarin jy jou tande kan inkry. Dis ook heerlik om saam met die regisseur Bobby Heaney te werk. Ek het destyds in Shakespeare en Sarah Bernhardt onder sy regie in die teater gespeel. Teater bly maar my groot liefde.

Jy’t al in SARIE gesê jy het nog altyd geglo ’n mens het baie liefdes, maar Willem is jou ware geesgenoot. Ek wil nie ’n verhouding hê waarin ek alles alleen doen nie. Dis wonderlik om soveel goed te deel – uiteet, gim, roei, swem, stap, reis. Ons leef in harmonie. Ek was sewe jaar enkellopend voordat ek Willem in 2004 as gas op my program Sandra op ’n drafstap ontmoet het.

Ek was destyds gelukkig en het nou en dan ’n fling gehad vir die pret. Voor dit het ek verhoudings gehad wat elk sowat sewe jaar geduur het. Ek’s ’n sewe-jaar-girl! Willem was getroud toe ons mekaar ontmoet het, maar ons liefde was groter as als. Ek is, terloops, beste vriende met al my vorige kêrels. Ek het sowat vyf gróót liefdes in my lewe gehad.

En die liefde het my geleer: Alles is verganklik. Wat so pynlik is vandag, is môre skaars ’n herinnering. Maar Willem het my geleer om myself nooit te onderskat nie. Ons skep spesiale oomblikke. By hom is elke klein dingetjie belangrik. Om te sit en rooiwyn drink voor die kaggel by ons kuierplek by Verlorenvlei aan die Weskus, saam rugby te kyk, kos te maak, in die veld te loop, kano te roei, nuwe dinge te ontdek op buitelandse reise. Ons gaan nie trou nie. Why spoil a good thing?

Ek was een keer vir driejaar getroud met Jeremy Taylor . . .Willem en ek probeer mekaar nie vasbind nie. Ons vertrou mekaar en gee mekaar vryheid. Ons kan kommunikeer en is geïnteresseerd in mekaar. En ons kan lag!

Glo jy aan ’n vurige sekslewe? Beslis. Dis mos al asof mense dink dis onbetaamlik ná ’n sekere ouderdom. Nonsens. Jy verander mos nie. Sensualiteit is vir my seks, lekker wyn, parfuum, massering. Hoekom het mense nie meer behoefte aan liefkosing op ’n sekere ouderdom nie? Bobbejane het dan. Evette Weyers, Marius (akteur) se vrou, noem dit so mooi “lyfkoos”.

Rachelle Greeff, skrywer, vra: Dink jy die mens se geheue is van so ’n verfynde aard dat dit aan jou teruggee nét daardie herinneringe wat jy nodig het vir jou eie emosionele evolusie? Ons is bang vir negatiewe ondervindings en wil altyd daarvan weghardloop,maar dis juis daar waar die grootste groei lê.

Mense wat jou goed ken, beskryf jou as avontuurlik?
Ek leef in die oomblik. As Willem se buitelandse kollegas (hy’s ’n ekoloog)kom kuier en hy wil vir hulle die witdoodshaai gaan wys, is ek by. As hy wil hangsweef, is ek daar. Dis alles ervarings. Ons ry saam in die hoogste branders en ons honde kyk op die strand hoe ons gil en skree. Ek het my skipperslisensie en het ’n aandeel in die seiljag Cape Corsair. Ons wil dit in Augustus oorbring van die suide van Engeland. Ek wil ’n paar leeftye hê. Ons wil Mongolië, Chili, Indië, China, die Suidpool, Ethiopië . . . ag, daar is só baie plekke om te besoek.

Wat was van jou beste ontdekkings op reise? Toe ek op 23 die eerste keer in Griekeland was, het ek vier dae en nagte op die boeg van ’n boot gesit en niks geslaap nie. Dit het gevoel asof ek deel van die heelal word. Ek kon vir die eerste keer begryp hoe klein ek is, maar terselfdertyd hoe ek déél is van die sterre wat sing.

Watter rol het Parys in jou lewe gespeel?
Ek het in my dertigs sewe jaar nou en dan daar gebly toe ek met die Fransman Eric Aubin uitgegaan het. Dit was ongelooflike jare. Wat ’n gesofistikeerde, sjiek stad. Ek kon my verlustig in die Franse se omgang met kos. Hulle gryp nooit haastig na iets en eet dit net  nie. Gehalte is belangrik. Hulle koop klein hoeveelhede kos op markte, en goeie koffie, wyn, sjokolade en vrugte en groente is belangrik.

Jy kan jou verkyk aan die mense, kunswerke, argitektuur, die parke. Om te sit en koffie drink in ’n kafee is heerlik. Ek mis die Franse se filosofiese uitkyk op die lewe. En ek is mál oor mooi aantrek. Veral oor mooi skoene. Hakke is vir my mooi. Klere met ’n goeie snit, tekstuur en tekstielstowwe is moeilik om plaaslik te kry sonder om baie duur te betaal. In Parys kan jy by die regte uitverkopings geholpe raak.

Maree, jou broer (’n personeelbestuurder), vra: Jy het groot hoogtes as aktrise bereik, maar as jy ’n ander beroep moes kies, wat sou dit wees?
Ek sou sonder twyfel ’n mariene bioloog óf ’n lid van Jacques Cousteau se span wou wees. Die wêreld onder die water hou nog altyd vir my meer misterie in as die wêreld bo die water.

Jy het ook as regisseur beïndruk. Wat staan vir jou uit?
Kombuisblues met Trudie Taljaard was ongelooflik. Dancing with John saam met Nataniël – sy kop is vol feëverhale en humor. Al my produksies met Alexa Strachan was vervullend. Sy skryf feisty, mooi songs. Baie van my regie was vir musiekteater, hoewel ek glad nie ’n sanger is nie. Ek het dit ook geniet om met die goeie akteurs in P.G.du Plessis se Sophia Mentz beredder haar boedel te werk.

Hennie van Greunen, regisseur (ook van Die Naaimasjien), wil weet wat is die voorste vyf vrouerolle wat jy al gespeel het.
Hedda Gabler, Cleopatra, Katharina (Vasvat van ’n feeks), Nina (Die Seemeeu) en Magdaleen.

Hoe hanteer jy senuwees voor optredes?
Ek herinner myself ek’s daar om ’n storie met mense te deel, nié om te misluk of suksesvol te wees nie. Vrees tree in as jy bang is mense beoordeel jou. Ek verander vrees in blydskap. Swart akteurs is byna nooit senuweeagtig nie.Hulle kan nie wag om op te tree nie.Mense wat kom kyk, wil tog sien dat jy fantasties is.

Wat is die rede vir jou sukses?
Harde werk en ’n bietjie geluk. Ook goeie mentors soos Francois Swart, Barney Simon en  Lucille Gillwald. Ek was bevoorreg om een keer saam met Athol Fugard te werk. Onthou ook, jy is net so goed soos jou medespelers. En moet nooit bang wees om ’n rol aan te durf nie.Gelukkig het die kamera van my gesig gehou.

Hoe voel jy oor Botox?
Ek is bang vir vreemde goed in my lyf, maar ek oorweeg dit om ontslae te raak van my kwaai fronslyn. Ek dink plastiese snykunde is wonderlik.’n Mens moet net versigtig wees dat jy nie opeindig soos daai vroue in Amerika wat so getrek en mismaak lyk nie!

Is jy bang vir die dood? Ek dink nie die proses is lekker nie.Dís ons eie skuld. Ons het so slim geword dat ons die dood té veel kan uitstel en dan is dit teen die einde moeilik. Maar ons is nog nie slim genoeg in die Westerse filosofie om die dood as déél van die lewe te omhels nie. Ons beskou dit as iets wat tot elke prys vermy moet word, terwyl ons dit as net nóg ’n stappie van die reis moet sien.