Ons praat met

Sanger Tobi Jooste se hoop, vrese en lewenslesse

EK HOOP
om eendag op ’n stadsplein in Europa voor duisende mense te sing met ’n koor en simfonieorkes agter my. Dis my groot droom.

dat elkeen in ons land hul gesindheid sal verander. As ons almal net ’n druppel positiwiteit laat uitvloei, gaan dit ’n rivier vorm. Só red jy ’n land, ’n nasie, ’n familie en uiteindelik: jouself.

dat ek eendag in herinnering sal bly voortleef vanweë die verskil wat ek in mense se lewe gemaak het deur my passie vir die lewe en my talent.

om eendag ’n huis te kan bou, te leer Italiaans praat en in Kaapstad te woon.

EK IS BANG
vir mense wat bang is om te leef.

vir slange. My lyf gaan in ’n spasma as ek net na een kyk!

my mikrofoon is af as ek begin sing. Elke keer!

dat ek eendag spyt gaan wees oor verspeelde kanse.

vir mense wat niemand sukses gun nie. Die meeste van die skaduwees in die lewe word veroorsaak deurdat ons in ons eie sonlig staan.

WAT EK NOU WEET
Die beste ding wat ek kon doen, was om heel onder te begin in my sangloopbaan. Ek verstaan die pad. Mense wat bo begin, weet nie hoe lyk dit ondertoe nie. Ek het my eerste konserte self gereël deur van huis tot huis te stap met ’n draagbare radio en ’n opname van my, vir die mense my musiek gespeel, en só my kaartjies verkoop.

Ek sal nooit by die punt kom nie waar ek sê: “Nóú het ek dit gemaak.” Sukses gaan nie vir my oor wat ek bereik het nie, maar oor wat dit aan my gedoen het. Mense sien my materiële suksesse, maar dis nie ’n druppel in die emmer teenoor die emosionele oorwinnings wat ek elke dag behaal soos ek ouer word nie.

As aanbieder van Reik na die sterre op kykNET het ek besef as ek ooit moet kies (hoewel dit ’n baie moeilike keuse sal wees), sal ek aanbieding bo sing kies. Die adrenalien en druk op jou as die kameras rol, laat my tiek! Ek hou ook van op my voete dink.

Ek wil bekend wees vir my stem. Daarom kies ek die pad van my hart: klassieke musiek. Die verhoog is verhewe. Om op ’n verhoog te stap is soos om ’n kerk binne te gaan. Ek wil mense met my talent inspireer, al neem dit ’n leeftyd. Klassieke musiek het siel, kommersiële musiek het ritme. Albei is goed, maar jy kan tog nie Coke met wyn vergelyk nie.

Die lewe het my geleer as jy iets gedoen wil hê, staan op en doen dit self! Die lewe skuld jou niks.

Ek het in ’n huis grootgeword waar ons baie gelag het, met ongelooflik positiewe ouers. Ek is optimisties en gee iemand altyd die voordeel van die twyfel. My slegste eienskap is my ongeduld. Alles moet nóú gebeur!

Ek’s koffie-mal en drink so 10 espresso’s per dag. My gunsteling is Arabiese bone. Ek is seker die grond in die hemel ruik soos varsgemaalde koffie.

My ideale meisie moet goed kan soen, want ek’s ’n meester! Vir iemand wat nog single is, is ek maar grootbek, nè?

As plaaskind was daar min kans om my talent te ontwikkel. Ek moes drie jaar wag vir ’n klavierjuffrou. Ons het nie ’n klavier gehad nie, maar dit het my nie gekeer nie. Ek het wit en swart note op ’n karton geteken en my lesse op die eetkamertafel geoefen. Dit het my droom en passie net sterker gemaak.

My ouers het my geleer, glo net in twee goed: God en jouself.

Ek hou daarvan om eerder uit ander mense se foute te leer as om self die pad te stap.

As jou droom jou niks kos nie, sal dit altyd ’n dagdroom bly. ’n Droom bly net dit, tensy jy hom ’n sperdatum gee.

Ek is bevoorreg om ’n skreeusnaakse ouma te hê en ’n ma wat ons altyd poetse gebak het. Albei sien humor in die doodgewone, en ek het dit onbewustelik aangeneem. ’n Groot deel van my konserte bestaan uit humor, veral met my Karoo-aksent, wat ek nie kan afleer nie! My boek Inluister is in sy derde druk en ook baie snaaks.

As jy nie weet wat jy uit die lewe wil hê nie, moenie kla oor wat die lewe jou dan bied nie.

Branders laat my tiek. Ook spoed, wyn, ’n viool en stilte.

* Tobi se vierde album, Amore, word uitgegee deur STORM REKORDZ. Besoek ook www.tobijooste.co.za of skakel 083 300 5447.

Hier’s sy Engel:

* Kry jou April-uitgawe van SARIE, vanaf Maandag 8 Maart.