sr1007myselfhoof_05
Ons praat met

Sangeres Alta Joubert se woema-geheime

Sy het drie kinders onder vyf (die jongste is nege maande), maar dis haar ánder baba, Lollos, wat hande uitruk. ’n “Showtjie” om die Lollos-CD te bemark het oornag ’n groot bedryf geword. Alta en haar vennoot, Minki Burger, kan nie voorbly met vertonings nie. En een konsert van 45 minute laat ’n strawwe gim-sessie na ligte oefening lyk. Hul eerste DVD het goue status bereik, hul tweede CD, Bons dat dit gons! (Lollos 2), is onlangs uitgereik en die DVD volg. Daar’s poppe, T-hemde . . . en groot planne.

MY PASSIE

IS MY WERK
“Hierdie is my droom en dít gee my energie. Dis lekker om dit te kan doen vir Annabelle (4½), Lielamarie (2) en Schalk. Ek wou iets cool en funky in Afrikaans skep vir Annabelle (toe 2). Daar was ’n gaping in die mark . . . al is ek hoe lief vir oom Jan en tannie Carike!

“Nou is ons pas klaar met ons tweede DVD. Ek het ’n paar wilde maande agter my. Ons het getrek, huis gerestoureer op Stellenbosch, in die ateljee gewerk, gerepeteer in die Paarl, opgetree, en ek was ’n maand sonder huishulp. Gelukkig is my ma fantasties ondersteunend.”

BRON VAN ENERGIE
“Dis ’n doelbewuste ingesteldheid: Lollos word gróót, maar ek kán dit doen. Ek slaap snags vyf uur, maar oor vyf, ses jaar kan ek slaap soveel ek wil. Ek maak dit so maklik moontlik. Ek en my man, Daneel (van Zyl), het ’n koningsgrootte én ’n driekwartbed. Die kinders kom snags een-een in en soggens word almal saam wakker. Dís hoe ek energie bespaar.
“Oefening herlaai ook my batterye. Met ons konserte pomp die adrenalien, ons sweet, die kinders sweet. Een keer per week gaan ek na ’n dieetkenner wat my help met ’n gesonde dieet. En soggens as ek wakker word, drink ek ’n glas lou kookwater – dis reinigend.”

DIE KINDERS GAAN SAA
M
“My kinders bly my prioriteit en hulle gaan dikwels saam. As ’n kind siek word, stres ek – dis al wat my werklik onderkry. By een konsert kon ek van die verhoog sien Liela is nie lekker nie. Daneel het haar op die heup, Schalk in die stootwa en voor dans Annabelle. Terwyl ek sing, beduie ek heeltyd vir Daneel met my hand op my voorkop die kind het koors! Maar hy dans net meer om haar te vermaak, en ek kan sien hoe raak sy ál moeiliker, en papper. Ons was skaars klaar, toe ek afstorm om by haar te wees en vir haar medisyne te gee!”

GEESTELIKE KRAG
“Die Here gee my krag. Ek praat heeldag met Hom en vra sy hulp as dit woes raak. Ek kry deesdae min tyd om werklik gefokus Bybel te lees, maar dit gee my altyd ’n boost – die wete dat Hy niks oor my pad bring wat ek nie kan hanteer nie.
“Daneel – ’n sakeman en ook dikwels weg van die huis – is ’n baie positiewe mens, hy sê altyd niks is so erg nie! Dit motiveer en inspireer my.”

MAL OOR DIE FOTO’S VAN HAAR EN HAAR KINDERS? KYK NA NOG EKSTRA FOTO’S HIER.

WAT EK NOU WEET

1. Ek kry energie as ek na my kinders kyk – wat ’n geskenk! Ek het nooit gedink ek gaan trou nie.

2. Ek wil ’n ma wees na wie my kinders kan opkyk. Hulle moet weet as jy iets wil hê, moet jy bereid wees om dit te gaan haal.

3. Om met my gesin die bergpad op Stellenbosch te stap – dis soos ’n inspuiting.

4. Hoe meer jy doen, hoe meer kan jy doen. Maar ek moet ook nee sê – my man probeer my leer.

5. ’n Goeie koppie koffie gee my nuwe woema.

6. Ek glo werklik: Wanneer God ’n droom in jou hart sit, dan is dit sy bedoeling dat die droom moet waar word.

• Besoek ook www.lollos.co.za.

 

WEN!

Lollos 2