Ons praat met

Sarah Theron: “Dit is die huis van my hart”

“Ek is nie min trots hierop nie. Country laat ons toe om stories te vertel oor verlore liefdes, ‘n lekker koppie koffie of die motor wat vanoggend nie wou vat nie. Dis musiek vir gewone mense, met wie al dié dinge elke dag gebeur. Op dié album hoor mens maar ‘n goeie skoot blues en gospel-invloede deurkom. Dis sielsmusiek. Ek voel dat die liedjies hierop alles weerspieël wat ek die afgelope twee dekades geleer het as sangeres en vertolker,” sê sy.

Terloops, die ander benoemdes vir Beste Country-album is Ray Dylan, Manie Jackson, Die Campbells en Pieter Naudé.

Lekker naam vir ‘n album en produksie

“Kyk, ek het ’n lang familiestamboom van sterk vroue. My ouma Soes, letterlik Sêra, is ‘n formidabele vrou na wie ek vernoem is. Ek’s van kleins af geleer dat ek in my eie krag moet glo. Ouma Sêra en ook my ma, Marbeth (Sarah Maria Elizabeth), het my geleer dat mens nie na ander kyk vir jou geluk nie. Jy moet dit sélf maak. Die titelsnit, ‘Storm in a D-Cup’, is ‘n vlaglied vir vroue. Die boodskap is: dis oukei om jouself te wees. My songs gaan op een of ander level maar altyd oor girlpower.”

Sarah, bekend vir haar gul kurwes (sy is boonop baie gemaklik daarmee!), is vroeër vanjaar deur die Pretoriase mode-ontwerper Simon Rademan aangewys as een van Suid-Afrika se tien besgeklede vroue.

Hieroor sê sy: “Dis ‘n vreeslike kompliment. My klerestyl is baie eenvoudig. Gewoonlik een donker kleur met aksente hier en daar. Ek lê maar die klem op my beter bates, die borsgleufie by die `D-Cup’ en rokerige ooggrimering of `n lekker helderrooi mond.”

Sy is vir seker lief vir onderklere en ja, sy het ’n taamlike versameling.”Stelletjies broekies en bra’s. ‘n Meisie kan mos nooit genoeg fyn ondergoedjies hê nie.”

Ewe filosofies vertel sy dat sy ‘n late bloomer is. “Ai, maar so gemaak en so laat staan. Ek het werklik my tyd geneem om nuwe drome te ontwikkel. Ek glo aan jarelange vakleerlingskap voor jy jou pogings aan die publiek aanbied…”

‘n Nostalgiese vertelling oor kuier en kosmaak, “Skil die tamaties” asook “Bakke vol liefde” (‘n eg-Kaapse gospel-country-nommer wat die voete laat jeuk) tel onder haar gunstelinge op die album. “Maar ek kies swaar, want ek is trots op elke song op hierdie album.”

Sing is vir haar amper soos kerk hou.

“Jy dra die evangelie uit tot mense daarin glo. Ek vind my inspirasie in mense en die lewe. Ek is ‘n groot Bruce Lee-aanhanger, lief die sangeres Bette Midler en is steeds verpletter oor die dood van Whitney Houston. Ek is wel meer aangetrokke tot idees as mense…”

Maar sy gee toe, haar grootste droom is om ook soos Steve Hofmeyr die Superbowl by Sun City te kan volmaak. Sommer 5 000 gesigte voor haar. “Ek weet dit sit baie druk op jou, maar ai, dit moet darem lekker wees as so baie mense in hul motors klim en die gopse in vaar om jou konsert te sien!”
En sy het al lekker toneel gespeel in haar lewe – in André le Roux se Op die vrou af (saam met Pedro Kruger). “As André `n TV-drama skryf, sal ek letterlik sméék vir ‘n rol!” Sy het al ’n draai gemaak by die M-Net-sepie Egoli.

Wat van ’n Afrikaanse fliek?

As ek in enigiets wat Deon Meyer geskryf het kon speel, sal ek die produksiepan bel, briewe skryf en blomme stuur…”

Sarah Theron - Storm in a D-cup

Maar eers gaan sy toer.

Vanjaar neem sy Storm in a D-Cup landwyd – na elke fees, klein dorpies. “Ek is ook deel van die Funny Kaap geselskap met onder andere Emo Adams, Dowwe Dolla en Pedro Kruger. Dis ‘n heerlike lag-en-musiek-konsert waar mense kan ontspan.”

Saans voor sy gaan slaap, kyk sy na die Country Melody-toekening op die boekrak langs haar bed wat sy in 2010 gekry het. Sy en Lance James was die enigste twee kunstenaar wat daardie jaar 3 SA Country top 10-treffers behaal het.

Ek het nog baie drome. Ek verluister my gereeld aan mense soos die sangers k.d. Lang, Reba McIntyre, Brad Paisley. Vergeet nie dat die nommer-een kunstenaar van alle tye op die Billboard Charts  Elvis was nie. Country-musiek is die afgelope 100 jaar deel van die mens se geskiedenis.”

Sarah is op ‘n goeie plek. “Maar ek het daagliks mense se hulp nodig om my drome waar te maak. My probleem is omdat mense my as bekwaam sien, neem hulle my nie altyd ernstig op as ek om hulp vra nie. Ek lyk altyd oukei. Mense luister met hul oë en nie met hul ore nie.”

  • Riana-Jaekel Priem

    Sarah–Ek is net soos jy baie opgewonde oor die Ghoemas!!!! Jy het die verhoor persoonlikheid,
    die Liedjies en dan die belangrikste van alles die wonderlike STEM. Jy gaan sommer al 3 wen!!!
    Ek luister met my ore. Sterkte Sarah! Kan ook nie meer wag nie. Riana xx

  • SARAH THERON

    DANKIE RIANA!! EK WAARDEER JOU POSITIEWE KOMMENTAAR OPREG!!! SJOE!! DANKIE! ONS HOU DUIME>>>>>SARAH X