sk0911barbara_herman08
Ons praat met

SARIE KOS se Barbara Joubert gesels kos

Barbara Joubert, redakteur van SARIE KOS, het pas die uiters gesogte jaarlikse Galliova-toekenning as die beste kosskrywer in die land losgeslaan. Marguerite van Wyk het met haar gesels oor inspirasie, haar gunsteling-kombuisgereedskap en haar oorspronklikste ‘kosskeppings’.

Hoe het jy gevoel toe hulle aankondig jý is die wenner?
Ek kan nie lekker onthou nie. Dit het als so vinnig gebeur!

Wat móét ‘n goeie kok altyd doen?
Lus wees om haar eie kos te eet.

Wat is jou gunsteling-kombuisgereedskap?
My R10-toetspennetjie waarmee ek als toets – van die krakerigheid van my groente, my aartappels en gebak, en my Le Creuset-potte.

Waar het jy die lekkerste kos ooit geëet?
In Parys op die stasie. Die vorige dag het ek niks geëet nie, en toe ek op die stasie kom, was ek baie honger en die croissant en koffie was koningskos.

Kan almal lekker kos maak?
Ja, as jy ‘n resep kan lees en wíl kook.

Wat dink jy is die geheim van jou kos-sukses?
Ek wil hê my kos moet toeganklik wees en almal moet dit kan kook. En hulle kán, dis só maklik.

Wat is jou grootste wens vir jou kos-loopbaan?
Dat mense nie moeg sal word vir my resepte nie en sal aanhou om my kos te maak.

Wat is die waardevolste wenke wat jou ma, Rita Burgers, jou geleer het oor kosmaak?
Proe terwyl jy kosmaak en doen dit met ‘n glasie wyn in die hand.

Wat probeer jy vir jou drie dogters, Nina, Anya en Mia, leer oor kos?
Moet nooit vir my sê jy gaan dit nie eet voor jy dit nie eers geproe het nie.

Jy sê altyd kosmaak is so kreatief, maar wáár kry jy jou inspirasie vandaan?
In die supermark as ek met die kostrollie in die paadjie loop en lekker produkte sien.

Wat is die grootste uitdaging vir enige kok?
Dat mense sy/haar kos gaan geniet en dit nie gaan toegooi met tamatiesous, Worcestersous of Tobascosous nie.

Wat is die heel oorspronklikste ‘kosskeppings’ van jou?
Pampoenbeskuit en geglasuurde Eisbein.

  • Anita van Rensburg

    Jissie die vrou is FANTASTIES!!! As sy jou nie kan inspireer om van kosmaak te hou nie, dan kan niemand nie!!!!!!

  • Elize Enslin

    Barbara,

    Baie dankie vir jou wonderlike manier van elke dag kook en tog iets besonders daarvan maak. Ek is op soek na klein hoendertjies en kwartels om gaar te maak maar weet nie waar om dit aan te koop nie. Vroëer het WoolWorths die klein hoendertjies aangehou maar hulle doen nie meer nie. Kan jy raad gee asb.