bennie
Ons praat met

SARIE se 2016-sterre: Bennie Fourie is meer as net ’n grapjas!

Hy het jou al baie laat lag. Van 2015 se “zitaar” in Mooirivier tot die one-liners in Hotel: “As die lewe jou suurlemoene gee, sê nee dankie, ek wag vir my mango’s”. Akteur Bennie Fourie het ’n besige jaar agter die rug. Ons het gaan hoor of sy grappies ooit gaan opdroog. 

In Januarie het ons 10 nuwelinge in die vermaakwêreld uitgesonder as jong SA sterre om dop te hou. Dié bekendes het jy die afgelope jaar op verskillende platforms gesien: op die verhoog, op jou slimfoon, op die kassie, op die groot skerm en soms was hulle selfs agter die skerms doenig. Ons gaan nou by hulle almal inloer en hoor hoe elkeen se 2016 was. Ons skop af met Bennie Fourie.

Dit is moeilik om net te sê dat Bennie ’n akteur is en jy kan hom in dit en dat sien speel. Hy het hom hierdie jaar met baie meer as toneelspel besig gehou en was – in ’n neutedop – akteur, mentor, skrywer, regisseur, meubelmaker, blogger, toergids en het homself ook uitgedaag om as komediant op te tree!

bennie

Bennie Fourie tree op by Poppy’s as komediant. FOTO Instagram (@bennieboekfilm)

Ja, jy het reg gelees. Aan die begin van 2016 het hy ’n uitdaging vir homself gestel: “om stand-up te probeer”. In Julie het Schalk Bezuidenhout hom na Poppy’s in Melville, Johannesburg, gesleep vir sy eerste probeerslag. Dit was “addictively paralyzing”, skryf Bennie op sy Instagram-blad. Die grappies was oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe, van Pokémon GO tot by langafstandverhoudings. Die rush, sê hy, is verslawend en dit sal nie die laaste keer wees dat hy dit aandurf nie.

So is Bennie se 2016 toe die jaar van eerstes. Hy het vroeg in die jaar by kykNET se Silwerskermfees 2016 betrokke geraak as teksmentor vir vyf van die kortfilms. Hy is juis baie vertroud met dié fees, aangesien sy en Bouwer Bosch se kortfilm, Vuil Wasgoed, in 2014 met die prys vir beste kortfilm weggestap het. Bennie het dit geskryf en die regie behartig, Bouwer was verantwoordelik vir die redigering van die fliek en hulle het albei daarin gespeel en dit vervaardig. ’n Verdere kontantprys vir die ontwikkeling van die storie is aan hulle toegeken, daarom skryf Bennie nou aan Vuil Wasgoed, die fliek. Die kortfilm is ook vroeër vanjaar benoem vir ’n SAFTA (South African Film and Television Awards).

hotel

Uit die pen, oftewel, die tikkende vingers, van Bennie en sy akteur- en skrywersvriend Stiaan Smith het Hotel ontstaan, ’n TV-reeks van 13 episodes wat in Junie begin wys het. Dit het kykNET-gehore aan die lag, giggel en grinnik gehad. Bennie en Stiaan het die rolle van skrywers en regisseurs vervul. Bekende aanhalings van Schalk Bezuidenhout en James Borthwick, soos “Wat’s die grootste verskil tussen rooiwyn en witwyn? Die een is rooi en die ander een is wit” en “Ek verkoop papier. Papier vir muurpapier. My besigheid se naam is MuurpapierPapier”, bly ons steeds by. Selfs Bennie se pa het sy verskyning in die laaste episode gemaak!

bennie

Bennie en sy pa, Ben, tydens die verfilming van die laaste episode. FOTO Instagram (@bennieboekfilm)

Die reeks Sterlopers, waaraan Bennie help skryf het, was ook vanjaar op kykNET.

Die res van 2016

sy klink soos lente

FOTO: Werner Botha van Plastiek

Sien vir Bennie as JJ in Sy Klink Soos Lente, ’n romkom soos geen ander nie – dink karre, kitare, musiek, kwinkslae en Johannesburg op sy mooiste. Dié fliek, met Amalia Uys, Stiaan Smith, Elize Cawood, Wilson Dunster en nog vele meer, draai nog by teaters landwyd. Klik hier vir die parodie-video waarin Bennie Sy Klink Soos Lente bemark deur “not Michael de Broglio” te speel.

In Junie 2016 het SARIE ’n onderhoud met Bennie, Bouwer en Stiaan gevoer, juis om te hoor hoe hulle dit regkry om al hierdie dinge op een slag te doen. Bennie se antwoord:

“[…] [jy] kom soms op ’n plek waar jy dink: ‘Hoorie, ek weet regtig nou nie wat ek doen nie’. Dis wat dit so lekker maak om saam met mense soos Bouwer en Stiaan te werk. Jy het ’n partner in crime, iemand wat saam sukkel en ook verantwoordelikheid deel.”

Deur die jaar het jy seker ook die video’s gesien wat Bennie en Bouwer vir King Price se #olympicfever en Braaidag gemaak het. Nie? Kyk hier! Bennie skryf hierdie sketse en hy en Bouwer behartig saam die regie en produksie daarvan. Deur die loop van November word daar ook ’n hele reeks nuwe video’s bekend gestel ter viering van Movember. Dié advertensies met die barbier Peter de Villiers sal jy ook op SuperSport sien.

bennie

Bouwer Bosch, Peter de Villiers en Bennie Fourie. FOTO Instagram (@bennieboekfilm)

O, en kyk uit vir die Honda BRV-advertensie op TV, waarin Bennie die rol van die bestuurder speel!

Maar Bennie se jaar is nog glad nie op sy rug nie. Hy speel saam met onder andere Simoné Nortmann, Francois Jacobs, Elize Cawood, Nicola Hanekom en Neels van Jaarsveld in Quentin Krog se nuutste fliek, Vir die VoëlsVir die Voëls speel in die laat 1970’s af en gaan die nostalgiese hartsnare roer. Dit is ’n fliek oor ’n sterk vrou (gespeel deur Simoné) wat haar tyd vooruit was en ’n man (gespeel deur Francois) met so ’n sterk selfbeeld dat hy ’n vrou kan respekteer en vir haar liefde veg.

bennie

Bennie se karakter is die beste vriend van Francois Jacobs s’n. FOTO Dehan Janse van Rensburg

bennie

Bennie en sy vrou, gespeel deur Lara Kinnear. FOTO Dehan Janse van Rensburg

2017

En hoe voel hy oor 2017?

“2016 was nogal propvol en vol nice eerstes soos Hotel en nou Phil101. Mens hoop maar net dat jy in die jaar daarop ook só besig sal wees.”

bennie

Bennie en aktrise Mila Guy op die stel van Phil101. FOTO Instagram (@milaguy)

Phil101, ’n komedie met drama-elemente, begin in April 2017 op kykNET wys. Die reeks van 13 episodes gaan oor ’n filosofiedepartement by ’n universiteit en Bennie speel een van die dosente. Dit is die eerste keer dat hy net akteur is en die hoofrol in ’n reeks speel, ’n leer-ervaring waaroor hy baie dankbaar en opgewonde is.

bennie

Die plakkaat van die kortfilm, Vuil Wasgoed.

Hy en Bouwer het reeds ’n datum vir die nasionale uitreiking van die fliek Vuil Wasgoed: 22 Desember 2017. Bennie sê: “Vuil Wasgoed is ’n donker aksie-komedie, ’n komedie wat mense nie noodwendig al aan gewoond is nie”. Bekende karakters van die kortfilm is terug en akteurs soos Leandie du Randt en Simoné Nortmann gaan weer hul verskyning maak, saam met Bennie en Bouwer wat ook deel van die rolverdeling is.

Stiaan en Bennie hoop ook vir ’n tweede seisoen van Hotel.

Oor mense wat dink drama is moeiliker as komedie, sê Bennie:

“Komedie kom baie lig voor en lyk dalk maklik, speels en glad nie diep nie. Dis die lawwe kleinboetie van diep. Maar komedie vat baie probeerslae en goeie tydsberekening van die akteur af. Komedie soek vir alledaagse situasies om onder die vergrootglas te sit. Mense lag as dit iets is waarmee almal kan vereenselwig of al beleef het. Iets soos ’n blikkie oopmaak met koue vingers kan snaaks wees, want mense weet dis moeilik en seer.”

Tussen al hierdie projekte waaraan Bennie werk, skryf en in speel, het hy stokperdjies ook. Sy liefde vir houtwerk hou sy brein en hande besig in tye wat hy nie kan stilsit om te tik nie. Kyk net hierdie mooi tafel!

bennie

Een van die koper-en-houttafels wat Bennie gemaak het, het in SARIE se September 2015-uitgawe verskyn. FOTO Henk Hattingh

Hy beplan om weer toergids te wees vir ’n groep skoolkinders wat in 2017 se Junie-skoolvakansie New York en Washington gaan besoek. Hy was vanjaar Italië toe met so ’n groep, en in 2015 het hy ’n skoolgroep Spanje toe begelei.

Kan jy jouself net die grappies op die toerbus indink! Kyk net hierdie snaakse video van sy reis in Italië:

In Junie 2016 het Bennie aan SARIE geskerts en oor sy sukses gesê:

“Ons kan nou al witbrood bekostig! […] Jy wil dalk toneelspeel, maar soms moet jy ook skryf. Soms moet jy assistent-regisseur wees. Dit hou die pot aan die kook.”

Vir die vele rolle wat Bennie nou al in die bedryf volgestaan het, is ons niks anders as geïnspireer en baie trots dat hy deel van ons top-10 jonges van 2016 is nie! Soos dit vir ons lyk, kook daardie pot behoorlik.