reine
Ons praat met

SARIE se 2016-sterre: Die vele gesigte en rolle van Reine Swart

Teen dié tyd weet jy al dat sy ingenieurswese studeer het en nou ’n aktrise is. Maar het jy geweet Reine is besig met haar meestersgraad in bedryfsingenieurswese, dat sy haar eie produksiemaatskappy bestuur, ’n filmfees-organiseerder is en nie wegskram van ’n rol in ’n riller nie? 

In Januarie vanjaar het ons 10 nuwelinge in die vermaakwêreld uitgesonder as jong SA sterre om dop te hou. Dié bekendes het jy die afgelope jaar op verskillende platforms gesien: op die verhoog, op jou slimfoon, op die kassie, op die groot skerm en soms was hulle selfs agter die skerms doenig. Ons gaan nou by hulle almal inloer en hoor hoe elkeen se 2016 was. Vandag is dit Reine Swart se beurt.

Dit het alles op die kassie begin met Villa Rosa, Geraamtes in die kas en daarna Bloedbroers. 2015 se Die Pro was haar eerste groot filmrol en daarna het kykers haar ook in Somer Son gesien.

Maar Reine se 2016 het heel anders verloop, met groot, nuwe en uitdagende projekte.

reine

Reine en haar man, Xander, wat ‘n bedryfsingenieur is. FOTO Instagram / @reineswart

In ons Januarie 2016-uitgawe het Reine vertel van haar twee internasionale projekte waarin sy verskyn: die televisiereeks Dominion en die film Detour. Hieroor sê sy: “Twee hoogtepunte. Ek het baie geleer deur te kyk hoe hulle dinge op sulke groot produksies doen.”

Silwerskerm

En op dié noot skop sy toe 2016 af. Die jaar was propvol filmstelle en Reine was omtrent besig! Net vanjaar op haar kerfstok is: Nul is nie niks nie (kykNET), The Empty Man (20th Century Fox), Siembamba (Phoenix films), Van der Merwe (Boomtown Boys), O vet! (Incense Films) en Kampterrein (Incense Films).

O vet! het in Oktober op die groot skerm gedraai. Oor dié fliek, waarin Bertha le Roux die hoofrol vertolk, sê Reine:

“Dit was lekker om aan O Vet! te werk, Bertha le Roux is besonders gaaf en dierbaar. Het heerlik saam met Karin van der Laag, Pulane Sekepe en Willie Strauss, onder andere, gewerk. Karin en Willie het my ouers vertolk. Vir my is hul fenomenaal, dus was dit wonderlik om by hulle te kon leer.”

Op die televisieskerm sal jy haar sien in BBC se Jamillah & Aladdin en op kykNET se tweede seisoen van Boland Moorde.

Agter die skerms

Reine se eie produksiemaatskappy, Twin Hearts, het ook twee kortfilms gemaak: Different Shoe Dates en Because You’re Black.

 

Reine het ook ’n ander rol vertolk, dié van feesorganiseerder. Sy, Keyuri Naidoo en Mari Molefe van Heerden (Villa Rosa, 7de laan) het besluit om ’n platform vir filmmakers en die publiek te skep omdat daar nie voorheen ’n kortfilmfees in Gauteng was nie. Kleinkaap Kortfilmfees is vanjaar gestig en jy kan ook reeds jou kortfilm hier inskryf vir 2017 se fees.

reine

Keyuri Naidoo, Mari Molefe van Heerden en Reine, die organiseersders van Kleinkaap Kortfilmfees (KKFF). FOTO Instagram / @reineswart

Haar bedryfsingenieurswese-agtergrond help haar met sekere aspekte van die organisering. Sy baie dankbaar vir die “uit die boks”-denkwyse wat die graad haar aangeleer het.

Slimkop

Reine is nou ook besig met haar meestersgraad in bedryfsingenieurswese aan Wits. Sy is halfpad en hoop om volgende jaar klaar te maak. Hoe doen sy dit?

“Ek hou van lysies maak. Dit help my om deeglik deur die swottings te kom. Ander dae, wanneer ek moeg is, sê ek vir myself as ek dié deel klaarmaak, dan kan ek ’n episode van Friends kyk”.

Reine sal 2016 onthou as ’n bedrywige en geseënde jaar.

Pasella het ook vroeër vanjaar by Reine en haar man gaan inloer, kyk die insetsel hier:

2017

Reine is tans besig met die verfilming van die riller Siembamba, wat eers volgende jaar bekend gestel word. Sy deel die skerm met Deanre Reiners (Seun) en Barbara-Marie Immelman (Villa Rosa, Homeland). Darrell Roodt is die regisseur, iets waaroor sy baie opgewonde is, want “sedert ek die film Yesterday meer as 10 jaar gelede gekyk het, wou ek saam met hom gewerk het. Dis soos ’n droom wat waar word!”

reine

Kampterrein, ’n fliek wat gaan oor die verskillende mense wat kamp opslaan in ’n ATKV-oord, begin volgende jaar op 24 Maart speel. Akteurs soos Louw Venter, Ruan Wessels, Therese Benade en Johan Botha is te sien in dié nuwe fliek.

reine

Reine se karakter in Kampterrein. FOTO Instagram / @reineswart

Kyk die lopkprent hier:

Die fliek Van der Merwe vertel die storie van die man agter al die Afrikaanse Van der Merwe-grappies. Reine speel die dogter van bekende grapjas Rob van Vuuren. Ander groot name soos Rika Sennett, Ian Roberts, Erica Wessels, Chanelle de Jager en Louw Venter speel ook in dié fliek.

reine

André Jacobs, Reine en Matthew Baldwin. FOTO Instagram / @robvanvuuren

reine

Rob van Vuuren speel die rol van “Van der Merwe” en Reine speel sy dogter. FOTO Facebook / @vandermerwefilm

“Ek het die meeste van die kere gesukkel om my lag in te hou vir Rob. Sy comedic timing en improvisasie is uitstekend. Dit was ’n eer om saam met hulle, die wonderlike regisseur, Bruce Lawley, crew en ander akteurs te kon werk. Ek het lanklaas so lekker gelag soos in die projek”.

Expresso het ’n insetsel oor die fliek gedoen. Kyk daarna HIER.

’n Baie opwindende projek waarmee sy en van SA se grootste kunstenaars betrokke is, is Siklus. Hierdie kortfilm gaan oor Afrikaanse mense in die ruimte. Die hele Bittereinder-groep is betrokke saam met Beer Adriaanse, die draaiboekskrywer, en Laudo Liebenberg en Neels van Jaarsveld as akteurs. Ons kan nie wag vir hierdie fliek nie!

Reine het elke jaar ’n hele paar voornemens, maar meer oefen is beslis weer een van hulle. Reine Swart: feesorganiseerder, aktrise in alles van rillers tot komedies, eienaar van produksiemaatskappy en meesterstudent – daar is min wat Reine afskrik.

Lees nou

SARIE se 2016-sterre: Bennie Fourie is meer as net ’n grapjas!

Bekende akteur inspireer en doen nóg meer!

Pretoria kry ’n filmfees – danksy 3 bekende vroue!