Ons praat met

SARIE WOON nr 2 nou te koop met 50+ Leefstyl-inspirasie uit Prins Albert

“Dis karakter wat maak dat ons plekke waardeer en onthou. Dink aan huise. Almal doen min of meer dieselfde ding, maar sommige kruip vinniger in ons hart omdat hulle eenvoudig meer húís is. Hulle praat net ’n taal wat ’n emosionele konneksie maak. 
So is dit ook met stede. Party is groot, grys beton-metropolisse, ander die plekke waaroor digters liries raak. Parys, New York, Londen, Chicago, Rome, Barcelona is al meermale in sulke liedjies verewig. Die inspirasie kan enigiets wees – van ’n plek se romantiek en landelikheid tot die opwinding en polsende energie. Daar’s net ’n magic wat werk. Besoekers wat met die Wêreldbeker-sokker in Kaapstad kom kuier het, sê die stad se mense en hemelse natuurskoon is die eintlike betowering.
Oor die jare het ook ’n klompie van ons dorpe ons met hul uniekheid verlei. Plekkies soos Graaff-Reinet, Cullinan, Clarence, Dullstroom, Riebeek-Wes, Riebeek-Kasteel, Paternoster en Swellendam. Byna soos ongeslypte diamante wat lê en wag het om herontdek te word. Greyton en Stanford het ek vir jare geken – die een in die skadu van die Riviersonderend-berge, die ander net ’n asem weg van die see. Maar toe ek hulle weer ervaar, kon ek skaars my oë glo. Albei is blink geslyp deur omgee-mense wat gewerk het om elke dorpie se heel mooiste af te wys.
Prins Albert is so ’n klein juweel. Onlangs vra iemand my heel verras-geskok: Was jy nog nie op Prins Albert nie? Dis dan dié plek! Só hoor ek van huise wat nog húís is, van bakkers en brouers van formaat, van kunstenaars wat hul kreatiwiteit uitleef, van vye pluk en warm brood uit die oond. Van vars room, olywe en wyne uit die kontrei. En net daar besluit ons ons stuur ’n span van SARIE WOON om dié dorp eerstehands te ervaar. So mooi is die foto’s en so heerlik die storie dat ons ’n volle 50+ bladsye van hierdie uitgawe aan Prins Albert afgestaan het – byna soos ’n SARIE Leefstyl van ouds.
Kom kuier en ervaar saam met ons – huis vir huis, storie vir storie – dié dorpie se eie magic.” – Michélle van Breda, redakteur van SARIE

“Dit was met groot opgewondenheid dat ons weer SARIE WOON aangepak het. Vir ons albei was dit baie spesiaal om ’n soort leefstyl-dekortydskrif op Prins Albert te gaan doen. Daarvan getuig ons mooi foto’s en die hope slim planne en wenke vir jou huis.
Ons word gereeld gevra waar ons al ons idees vandaan kry. Die antwoord is eenvoudig: Die kleinste dingetjie, soos ’n stuk dryfhout, ’n kleurvolle veer of ’n mooi koppie, kan tot ’n hele storie groei. Jy het net so ’n sneller nodig om die bal aan die rol te kry.
Nog ’n vraag is of ons ook aan ons eie huise werk, of watter projek ons mee besig is. Ons is altyd met ons huise doenig en ons bespreek dit in detail met mekaar. Lounette het haar TV-kamer reggepluk met, onder meer, ’n stoel wat sy met antieke meelsakke laat herstoffeer het en ek het my slaapkamer in skakerings van grys oorgedoen. En nee, ons bereik nooit ’n versadigingspunt nie. Daar is altyd nog iets om te begeer, ’n ver plek om te sien of iets om voor te spaar. Ek wil nog eendag ’n Aubison-mat besit (handgeborduurde blom-ontwerpe in sagte kleure) en weer Holland in die tulpetyd besoek. Lounette wil wyd reis en eksotiese lappe en skoene gaan koop.
Geniet elke blad van SARIE WOON.
Anita

Ns. Volgende keer hoor julle van Lounette.