Ons praat met

SA’s Got Talent Donderdagaand op TV

SA’s Got Talent begin 1 Oktober om 19:30 op SABC2. Charis Labuschagne het die bekendstelling bygewoon en ook die eerste episode van die reeks gesien. Dis snaaks, opwindend en by tye baie hartseer. Sy’t met Anele Mdoda, een van die aanbieders, gesels.

Wat was die vreemdste optrede op SA’s got talent?
Daar was ‘n vrou wat toertjies met ‘n slang gedoen het. Ek haat slange! Ek sê altyd ek sal nooit deur ‘n haai gebyt of ‘n slang gepik word nie, want ek swem nie in die see nie en ek hang nie in die Amasone rond nie. Toe daai slang op die verhoog kom, het ek weggehardloop!

Hoe verskil die beoordelaars van mekaar?
Randall Abrahams is nooit in ‘n goeie bui nie. Nie eens as ons middagete eet nie. Hy’s selfs in die oggend in ‘n slegte bui, so asof die spek iets verkeerd gedoen het. Ek sê die heeltyd ons moet probeer om Twinsaver as borg vir die program te kry, want Ian von Memerty huil die heeltyd. Dis heel gepas dat Shado Twala tussen Randall en Ian sit, sodat sy hulle uitmekaar kan hou. Hulle is die heeltyd in mekaar se hare. Dié klomp is soos kinders in ‘n speelparkie.

Daar’s ‘n goeie energie tussen jou en jou mede-aanbieder, Rob van Vuuren.
Dit kom van die dae toe ons saam in Strictly come dancing was. Ons het kontak gehou en vriende geword. Die energie tussen ons werk net. Ek dink ook dis omdat ons albei gewoond is om as ‘n duo te werk. Ek werk saam met Grant Nash by 5fm en Rob is die ander helfte van Corné en Twakkie.

Hoekom moet mense SA’s got talent kyk?
Want jy sien alles in die program wat Suid-Afrikaners verenig. Mense sing en dans en lag en ondersteun mekaar. As iemand huil, sal ‘n ander deelnemer hom troos. Dit maak nie saak of hulle teen mekaar meeding nie.

Het jy ‘n spesiale talent?
Ek kan ‘n kar se wiel omruil en ek kan dit vinnig doen!

En wat sê Randall?
Randall Abrahams

  1. So, het SA talent?
    Definitief. Ons het ‘n baie wye verskeidenheid kunstenaars sien optree in die eerste seisoen. Dis verfrissend om te sien hoeveel mense hul spesifieke kuns baie ernstig opneem.
  2. Wat kan ons Donderdagaand verwag?
    Vermaak! Jonk en oud gee hul heel beste. Verwag ook om verras te word!
  3. Oomblikke wat vir jou uitgestaan het?
    Daar was ‘n hele paar, maar ek gaan dit spoil as ek nou vertel. Skakel Donderdagaand in – jy sal die bestes síén!