@micheleburger1

@micheleburger1

Ons praat met

Schalk Burger Springbok-kaptein ná stryd vir sy lewe

Schalk Burger sal Saterdag teen die All Blacks as die 55ste kaptein van die Springbokke uitdraf.

Op die rugbyveld is dit Skalla die onstuitbare. Dís die veggees wat hom help oorwin het in sy weke lange stryd om sy lewe, en om weer die hoogste sport te bereik. Hy is vroeër vanjaar is bekroon met die Oscar van sport: die Laureus vir Terugkeer van die Jaar en nou is hy die kaptein van die Bokke!

Wanneer Schalk Burger op die rugbyveld uitdraf, vir die Springbokke of die Stormers, weet die spelers en toeskouers: Hier kom ’n ding. Die witkop-flank grawe die bal uit los- skrums, maal en duik verwoed. Hy bars soos ’n stootskraper deur ’n muur van verdedigers. Sy wenkbroue en wange, sy mond vertrek tot ’n onverskrokke verbetenheid. Niks stuit hom nie.

Maar net meer as twee jaar gelede het hy van die veld af ’n stryd gevoer wat medici en sy geliefdes laat vrees het hulle kon hom verloor. Hy het om sy lewe geveg.

Kort voor sy dertigste verjaardag, in die dodelikste fase van bakteriële brein- vliesontsteking (meningitis), het die 1,93 meter lange Skalla, soos vriende hom noem, vyf dae lank in ’n bondeltjie gelê, in stuiptrekkings, nat van koors. Hy kon nie sy kop oplig nie, hy kon nie sy oë oopmaak nie, hy kon skaars praat.

Hy het die aansteeklike siekte in ’n Kaapstadse hospitaal opgedoen toe ’n sist naby sy rugmurg gedreineer is. Spesialiste het gereken hy het ’n 50%-kans om te bly leef en indien wel, sou hy waarskynlik nie weer rugby kon speel nie, beslis nie teen dieselfde pas, onder dieselfde druk en op dieselfde vlak as voorheen nie.

Maar Schalk Willem Petrus Burger blaas eenvoudig nie die eindfluitjie nie. Hy veg en keer terug, saam met die mediese behandeling en ondersteuning van familie en vriende. Uit sy siekte, na die lewe. Met die operasies agter die rug, 16 kg ligter, begin hy weer leer om te loop. Dan, hardloop. Maande van rehabilitasie volg.

Desember 2013 keer hy terug tot rugby, in ’n vertoonwedstryd vir die Barbarians. Hy begin speel weer vir die Stormers.

Hy trek opnuut die Springbokke se groen trui oor sy kop, daardie Nommer Ses wat hom so goed pas.

In November verlede jaar druk hy op Twickenham teen Engeland vir Suid-Afrika die deurslaggewende drie en hy word as Speler van die Wedstryd aangewys.

Op 15 April vanjaar, stap hy met sy helder ligblou oë in Sjanghai, China, ná keer op keer se terugkom uit dieptes en donkertes, in die kollig op die verhoog. Hy loop haal sy Oscar in sport: Die Laureus vir Terugkeer van die Jaar.

Sy groot kans in rugby het hy op negentien jaar gekry toe afrigter Jake White hom vir die SA o.21-span gekies het wat die o.21-Wêreldbeker gewen het. Van toe af het Skalla aan rugby voorkeur gegee.

Sy ma en pa onthou hoe hy in sy gr. 11-jaar aan die SA Bergfiets-kampioenskapsbyeenkoms deelgeneem het. Hy loop voor, maar toe breek sy fiets se ketting. Schalk tel die ketting op, begin hardloop, fiets oor die skouer, die laaste 1,5 km. En wen die bronsmedalje.

Springbok-kaptein Jean de Villiers verwys in die Laureus-video na sy medespeler as een persent van die mensdom wat so kan terugkeer na die sportveld, ná soveel teleurstellings en uitdagings. “Hy gaan honderd persent – honderd persent van die tyd.” Hy praat ook as vriend oor Schalk se saggeaarde, rustige kant wanneer hy nie op die veld is nie.

“Dis juis oor sy menswees in die “regte” wêreld waarmee hy ander na hom aantrek waarop hy die trotsste is,” sê Schalk se pa. “En hy is ’n besonderse goeie man en pa vir sy vrou en seuntjies.”

Michele beaam van haar Springbok se mooiste eienskappe is sy nederigheid en besonder goeie maniere. “Wanneer hy nie rugby speel nie, is hy ’n sagmoedige reus. En ons is ’n span. Ons koester elke oomblik wat ons kan saam wees, ook as gesin.”

“Maar tog, dit was juis die feit dat die dokters gesê het ek sal nooit weer top-rugby kan speel nie, wat my aangemoedig het … My eerste doel was om weer vir WP te speel. Toe dit gebeur, toe dink ek oukei, ek het dit nog. Toe raak ek gulsig om weer vir die Springbokke te speel …”

En nou is hy die kaptein! Geluk Schalk!

Hierdie uittreksel kom uit die Junie-uitgawe van SARIE. Dit is nie meer te koop nie, maar jy kan dit hier aflaai.

Kyk ook uit vir die nuutste uitgawe van SARIE KOS wat vanaf 27 Julie beskikbaar is waarin Schalk se pa, Schalk Burger Snr. gesels oor wyn, kos, rugby en Schalk. 

Lees ook