FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

Ons praat met

Schalk en meisie gereed vir volgende fase

Op die afspraakprogram Die Kliek op VIA (DStv Kanaal 149) help hy paartjies om liefde te vind, hy laat mense skaterlag in die kykNET-komedie Hotel en nou speel die komediant Schalk Bezuidenhout in die kortfilm Beloofde Land by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai …

Hy vertolk die rol van die naïewe heerser, Lood (Lodewyk) Mouton, van die diktatorskap Anskroepolis.

Dié “land” se naam is ’n parodie op no scruples, verduidelik Mia Cilliers, die regisseur. Sy sê ook dit het nogal fyn dinkwerk gekos om ’n satiriese blik op die huidige politieke klimaat in Suid-Afrika te gee, asook op die diskonneksie wat die bevoorregte leefwyse plaaslik skep.

“Dit was ’n uitdagende rol om te vertolk,” beaam Schalk.“Lood het soms besef: ‘Hel, my volk hou nie so baie van my soos wat ek dink nie…’ En om daardie sad oomblikke, as hy dít besef, te vertolk, is nie so maklik nie. Ons het die rolprent in net 3½ dae verfilm, so mens het nie tyd om dinge oor te doen nie. Met komedie weet ek gewoonlik ná ’n toneel as iets werk, maar met drama wonder ek soms of die gehoor dit reg ‘lees’. En jy kan dit nie agterna vir die gehoor verduidelik nie…”

Mede-akteurs

Hy sê dit was ongelooflik om saam met groot name soos June van Merch te speel. Nuusleser Riaan Cruywagen speel terloops ook in die fliek, maar sy insetsels is vooraf opgeneem en Schalk het nie saam met hom toneelgespeel nie. Oor June sê hy: “Sy is so maklik om mee saam te werk, ’n natuurlike aktrise, altyd professioneel, en op stel ken sy altyd haar woorde.”

Dié stuk het hom laat nadink oor Suid-Afrika se leiers:

“Ek wonder of hulle nie ook soms, soos Lood, net kyk na belangrike dokumente en dit onderteken sonder om dit te lees nie.”

Volgende fase

Schalk hoop as Hotel aanhou om so goed te vaar, daar ’n tweede seisoen in die pyplyn sal wees. En dan voeg hy terloops by hy en sy meisie is baie opgewonde oor ’n nuwe fase in hul verhouding’’. Hulle gaan nou ’n sofa koop …

“Mia (Cilliers, Beloofde Land se skrywer en regisseur) sal miskien die regie daarvoor doen as ons dit op YouTube sit. Ons het nou reeds ’n potplant saam gekoop, maar dit het gevrek, en nou is dit tyd vir ’n sofa,” spot hy.

Daar het ons dit. ’n Man met ’n plan.

* Marguerite het dié onderhoud met Schalk tydens kykNET se Silwerskermfees gedoen.

Lees nou

‘Ma koop sweetpakke te groot,’ sê Schalk

Schalk Bezuidenhout se ‘smore’

#SARIEgesels met komediant Schalk Bezuidenhout