Ons praat met

Sean Else trek Kaap toe

“Maar die opskrif kan nie wees ‘Sean Else word rustig in die Kaap nie’,” lag hy.
Inteendeel! Hy het die Waterfront Studios, wat hy nou Collective Dream Studios gaan doop (rolprent-ateljees), gekoop.

“Dis daar waar jy regs draai na die Waterfront, net langs die City Lodge hotel. Daar is vir seker nog baie flieks in my kop. Ek en Deon (Opperman) het sopas klaar geskryf aan De La Rey, waarin Steve Hofmeyr die hoofrol vertolk en dit word so einde aanstaande jaar uitgereik.”

Hy is ook baie opgewonde oor Liefste Kayla, ‘n lekker sitkom vir kykNET (ietsie soos die Amerikaanse TV-sitkom Hannah Montana) wat die middel van die jaar uitgereik word…
“Kayla Gouws is twaalf en ‘n tipiese oulike Afrikaanse meisie van Bloemfontein. Ek loop ‘n lang pad met my kunstenaars soos Bok van Blerk en Lianie May. Kayla is nou gereed. Ek het haar so drie jaar gelede ontdek. Sy sing en sy kan toneel speel. Sy is uniek Afrikaans.”

Sean is opgewonde oor hul nuwe lewe in die Kaap, hoewel hy baie gaan opvlieg Johannesburg toe vir werk. “Ek en Carla, ‘n grimeerkunstenaar wat kom van Port Elizabeth, gaan lekker ontspan met die Kaapse wyne, ek gaan vir haar die mooi plekke aan die Weskus wys. Ons maak graag saam kos en sien uit na lekker kreef eet, speel ure aaneen die kaartspel Canasta, ons gaan die mooi staproetes langs die kus verken en lekker fliek.”

Hy is ook mal oor perdy. “Dis een van die redes hoekom Houtbaai vir my so mooi is. Hier kan mens baie perdry. Ek gaan sommer ‘n perd van die Oos-Vrystaat vir my invoer…” grap hy.
Carla is bietjie skrikkerig vir perdry, want sy het ‘n nare ondervinding met ‘n wilde perd gehad, maar hy maak haar bietjie touwys.

In ‘n onderhoud met SARIE verlede jaar, het Sean gesê, hy werk voluit aan sy drome. Maar wat ís dit?

“Om mooi balans te kry tussen my werk en om familieman te wees. Teen die einde van die jaar wil ons graag ‘n babatjie hê… Ek glo aan klein treetjies. ‘n Mens moet realisties werk en groot drome hê. Ek is báie trots op die wonderlike en mooi vrou wat ek gekry het. Sy verstaan my. En my werk is soos ‘n uurglas. Dis asof ek baie goed bo-in gooi, en dit kom soos `n dun straaltjie onder uit. Alles kulmineer lekker saam. En my rolprentwerk is ‘n samevoeging van al die kunsvorme. (Hy is platebaas van Mozi Records en was vroeër ook hy lid van die boy band Eden) Die rolprent Platteland was ‘n wonderlike ondervinding en dis lekker om nou my eerste rolprent op my kerfstok te hê. Dit maak my meer gerus. Ek weet nou ek kan dit doen.”

[box:full:red:both]

Sean gesels agter die skerms van Platteland

[/box]

  • Rockmad

    Welkom in die Kaap! Op hierdie foto lyk jou vrou en die sangeres Andriette byna dieselfde.