Ons praat met

Bertha le Roux – een hot mama!

Die dokter het haar uit die waterbad gelig en die klein lyfie op Bertha se bors neergelê. “Ek het geweet: die lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie.” Want, sê Bertha le Roux, 7de Laan se Emma, niks kan ’n mens voorberei op daardie wonderlike gevoel as jy jou baba die eerste keer vashou nie. Jy kan mal wees oor ander se kleingoed, maar as jy jou eie kind vashou, is dit ’n ervaring wat jy nie in woorde kan uitdruk nie.

Die ses maande oue Kiana is Bertha en haar man, Karel Wahl, se “Assa Patattatjie”,  ’n modelbaba wat soos ’n droom slaap, vertel Bertha nie ’n bietjie trots nie. En kan Kiana “gesels”. Dis wat moederskap aan ’n mens doen, het Bertha geleer. ’n Baba verander soms heel intelligente mense se gesprek in ’n ge-oe en aa en koetsjiekoetsjie. Dis asof jy nie beheer daaroor het nie.

“Ek het vir Karel in die begin gesê hy moet in ’n hoër stem met haar praat, want sy hou daarvan. Hy het gedink dis sommer laf, maar nou hoor ek hoe lekker hy in ’n hoë stem met haar praat as hulle alleen is. Ek kon dit nog nie oor my hart kry om hom daaroor te spot nie, maar ek giggel lekker agter sy rug.

“Karel is ’n baie betrokke nuwe pa en staan snags op. Hy het ook al ure lank na Kiana gekyk toe ek en my suster ballet toe was. Toe ek een aand Pilates-klasse toe was, het sy
blykbaar ’n halfuur aanmekaar gehuil. Die arme man.”

Sy sê sy het heelwat gewig aangesit tydens die swangerskap. En sy sukkel om dit af te skud, want sy borsvoed. Hoewel borsvoeding veronderstel is om ’n mens makliker te laat verslank, kan jy nie sommer op ’n drastiese dieet gaan nie, kla sy.

“Ek weet ek sal gewig moet verloor vir my rol in 7de Laan. Dit plaas nogal druk op ’n mens. Ek kan sien hoe mense my dophou. In my beroep verwag mense mos jy moet goed lyk. Toe ek ná die geboorte die eerste keer stel toe is om Kiana te gaan wys, het ek ’n hele paar betekenisvolle blikke gekry! Ek weet hulle het gedink: ‘Hmm, lekker gewig aangesit.’

“Voor ek terug was by die werk, was ek meer ontspanne en aanvaardend oor die gewig wat ek aangesit het, maar noudat ek myself weer op die monitor in die ateljee sien, weet ek ek sal ’n plan moet maak. Ek maak nie verskoning vir die vetjies nie. Al weet ek my lyf is deur ’n moeilike proses van natuurlike geboorte en het nog hersteltyd nodig. Ek het respek gekry vir die ou lyf wat ma geword het, maar my kop sê, nee, Bertha, jy moet gewig verloor.”

 

Karel is ’n baie betrokke nuwe pa wat snags opstaan en na Kiana help kyk

 

“Dit is vir my frustrerend om by die huis te sit.” Reeds vooraf het sy besef dit gaan moeilik wees om Kiana by ’n bewaarskool te laat, maar hoe nader die groot dag gekom het, hoe swaarder was haar hart. “Ek het ’n goeie plek na aan die 7de Laan-ateljee gekry en het haar die weke voor ek terug moes gaan begin gewoond maak deur haar sommige oggende daar te los. Dit het ons albei op die skeiding voorberei.”

Die eerste oggend was moeilik, maar Bertha kon darem die trane keer. Karel was by. Hy het haar ’n bemoedigende drukkie gegee. Ná ’n paar oggende het sy aan die gedagte begin gewoond raak. Sy kry darem kans om deur die dag te gaan inloer, en die bewaarskool is ook toegerus met webkameras waarmee ouers hul babas op die internet kan dophou.

“Al is dit moeilik om te sien watter baba is joune, troos dit darem. Ek dink ek moet ’n groot ster op haar plak sodat ek haar maklik kan uitken!” Die lang ure weg van Kiana laat haar nou elke oomblik saam met haar kleinding geniet. Bertha is ’n kalm, nugter ma. Dalk omdat sy self uit ’n gesin van vyf kinders kom, meen sy. Haar ouers, Braam en Griet, het hulle gemaklik grootgemaak.

“Ek dink dis voordelig om uit so ’n groot gesin te kom. Dit leer jou om nie so baie issues oor babas te hê nie. Die werk as au pair wat ek destyds ná matriek in België gedoen het, help beslis ook.” Die Belgiese ma was ’n dokter en haar man ’n veearts. Bertha het die ma op ’n dag gekonfronteer oor sy haar vier kinders so afskeep.

“Sy het die baba van nege maande soggens sewe-uur in my arms gestop en dan kom sy eers weer die aand tuis. Toe ek aanbied om namens haar inkopies te gaan doen sodat sy etenstye haar kinders kan sien, het sy gesê sy vertrou my nie met haar motor nie. Maar sy het my met haar kinders vertrou! Ek en sy het kliphard op mekaar geskree en haar kinders het by my kom sit. Net daar het ek besluit my kind sal nooit eendag so onseker of afgeskeep voel nie.”

Bertha wou nog altyd ’n ma gewees het en sy en Karel het dit al voor hul troue bespreek. Sy is beslis dat sy nie met ’n man sou kon trou wat nie van kinders hou nie. (Sy en Karel was kleuterskool-maatjies, wat later liefde geword het, verklap haar ma.) Haar suster, Rinette, se klein LeRoux (2) is haar peetkind. Hy moes voorberei word dat sy geliefde tannie nie meer net aan hom sal kan aandag gee nie.

Sus Lianti het spesiaal van Kanada gekom sodat die niggies, Marnel (14) en Anna-Mari (4), met die nuwe niggie kan kom kennis maak. Soos met ander spesiale geleenthede in haar lewe het Bertha gewens haar twee oorlede broers, Chris, wat op 19 verongeluk het, en Bruwer, wat op 7 aan limfklierkanker oorlede is, kon ook die geboorte deel. Hul familie is na aan mekaar en hou daarvan om spesiale tye by mekaar te wees.

“Maar my ouers en susters se samesyn was genoeg om die oomblik baie besonders te maak. My ouers is baie na aan hul kinders en kleinkinders en dit was vir hulle belangrik om by my te wees.”

Sy is baie beslis daaroor dat Kiana nie in ’n kliniese omgewing gaan grootword nie. Hoewel die trap na die boonste verdieping van die nuutgemaakte huis in Roodepoort (die tipiese nesskrop-sindroom voor ’n baba) ’n hekkie  gaan kry sodat sy nie kan val nie, gaan die huis haar koninkryk wees waarin sy na hartelus sal kan baljaar.

 

My loopbaan is belangrik, maar my kind sal altyd eerste kom

 

Bertha blom só as moeder dat ’n mens dit nie kan miskyk nie. “Sy is ’n natuurlike, rustige ma. Dis lekker om te sien hoe kalm sy en die baba is,” sê Elma Postma, Dezi in 7de Laan. Op die stel van 7de Laan het hulle ’n ongeskrewe reël dat kollegas eers ná twee weke by ’n nuwe baba mag gaan kuier, maar sy kon dit ná ’n week nie meer hou nie. “Dis die dierbaarste ou dingetjie met die wakkerste ogies,” sê sy.

Bertha was ’n ster tydens haar swangerskap. Sy het tussen tonele tog te lekker in haar kleedkamer tussen al die lawaai op stel geslaap. Sy het voorgeboorteklasse bygewoon, wat haar op die natuurlike watergeboorte voorberei het. Sy was tien uur in kraam en het die laaste twee uur in die waterbad deurgebring. “Karel en my ouers was by. My pa het in die gang bly sit en net soms by die deur vir my gewaai. My ma het die naelstring geknip, want Karel was te bang hy knip Kiana raak. Sy was ’n hele 3,5 kg. ’n Laaang baba.” Sy wil beslis nie lank wag vir ’n tweede en dalk ’n derde baba nie. “Ek sal so twee jaar wag. Maar dis moeilik met my werk. Hulle was baie tegemoetkomend met my swangerskap.” Sy het voorgestel hulle moet die swangerskap in die storielyn inskryf, maar dit het nie so gewerk nie.

“Hulle het my buitendien sommer in my afwesigheid van Ryno geskei!” sê sy kamma onthuts. “Ek het met die riemtelegram gehoor ek is besig om van Ryno te skei. Toe ek Kiana op stel gaan wys, het ek vir hom gesê ek kom net gou sy kind wys. Toe lig hy sy ringvinger en sê: ‘Aikona, klaar geskei!’”

Sy giggel oor Steve Hofmeyr se aanmerking toe hy Kiana sien. “Dis so lekker om ’n baba te sien wat nie myne is nie,” het hy droog opgemerk.

Hoewel Bertha nou soggens met hanekraai moet opstaan om haarself en Kiana gereed te kry vir ’n vol dag, is sy baie positief dat haar loopbaan en baba goed saam sal werk. “Ek is baie gelukkig by 7de Laan en ek glo dinge gaan uitwerk. Dis vir my belangrik om te weet my kind is naby en sy is veilig. My loopbaan is belangrik en ek wil eendag graag regiewerk en meer teaterwerk doen. Maar my kind sal altyd eerste kom.”

Sy put baie waarde uit die ondersteuningsgroep vir nuwe ma’s wat sy bywoon, en spot oor die “intelligente” gesprekke wat hulle kan voer oor hardlywigheid. Ook op die 7de Laan-stel ondersteun sy en die ander ma’s, soos Ingrid Paulus (Vanessa) en Melanie du Bois (Felicity), mekaar. “Ons klets lekker oor doeke, tande kry en alles en nog wat,” vertel Ingrid. “Dit verveel die ander seker vreeslik, maar in hierdie stadium is dit vir ons lekker.”

Bertha het deur Milan Murray, vroeër van Binnelanders, wat ook onlangs ma geword het, betrokke geraak by ’n organisasie wat haar leer om Kiana te stimuleer. “Ek en Karel is veral opgewonde oor die baba-tekentaal waarmee jou kind van sewe maande af met gebare vir jou wys wat haar behoefte is.” Klein Kiana is duidelik ’n gelukkige baba wat vrygewig is met glimlaggies. “Maar as ’n kamera flits, hou sy op,” kla Bertha.