Ons praat met

Seuntjie met dwergisme bring net hoop en vreugde

Willem en Carmen Minnaar het in 2012 tydens ’n vakansie in Griekeland uitgevind hulle gaan vir die tweede keer ouers word. Toe hul seuntjie, Willem, voor sy geboorte al met dwergisme gediagnoseer is, kon niks hulle voorberei op die wonderlike geskenk wat op pad is nie. 

SARIE het in Maart 2014 met Carmen gesels oor die impak wat Boeta, soos hulle hom noem, op hul lewe het, en die reaksie was ongelooflik. Soveel so dat daar kort daarna ’n opvolg-storie in ons Julie-uitgawe was oor Carmen en vier ander ma’s wat haar gekontak het wat ook kinders met dwergisme het.

Boeta en Carmen in ons Maart 2014-uitgawe FOTO: Phyllis Green

Boeta en Carmen in ons Maart 2014-uitgawe
FOTO: Phyllis Green

Carmen en Boeta se opvolgstorie in Julie 2014 FOTO: Jenna D Photography

Carmen en Boeta se opvolgstorie in Julie 2014
FOTO: Jenna D Photography

Nou is Boeta al 2 jaar oud en kan hy sélf sit en loop. “Hy volg sy sussie, Milan (3), oral,” vertel ’n trotse Carmen aan SARIE.com. Vir haar is dit ’n groot verligting dat hy nou meer mobiel is. “Hy het eers op ’n jaar op sy eie begin sit, terwyl ander babas al op 6 maande kan sit. Hy was toe al oud genoeg om te besef hoe frustrerend dit is om afhanklik van ander te wees om te beweeg.”

Boeta op 2 - slim, gesond en baie gelukkig FOTO: Devine Photography

Op 2 kan Boeta al self sit en loop
FOTO: Divine Photography

Met Boeta se brein is daar egter niks fout nie. Op 2 babbel hy al volsinne en kan hy stories vertel oor sy oupa en ouma. En boonop tel hy al tot by 20 (kyk net in dié video)! As mense vir Carmen vra hoe oud hy is of wat sy naam is, sê sy hy moet self antwoord, want hy kén dit.

Die uitdagings is nou minder sedert hy self beweeg. Carmen leer hom nou om die toilet te gebruik. “Ek het vir hom ’n klein toiletjie gekoop waarby hy kan bykom, hy moet nou net leer om self sy broekie af te trek,” vertel sy.

En Carmen se naam is reeds op ’n waglys vir naaldwerkklasse sodat sy self die verstellings aan sy kleertjies kan maak. “Gelukkig is daar baie klere met rekkies om die polse en enkels wat sorg dat dit nie oor sy hande en voete gly nie, maar die res word verstel. Ek wil nie hê hy moet verslons lyk nie.”

Soms is dit tog moeilik wanneer ’n kind by Milan se skooltjie vra waarom hy anders lyk, of waarom sy kop groot is, maar Carmen is baie kalm daaroor. “Ek verstaan dit is kinders en dat hulle nie ingelig is oor dwergisme nie. 95% van die reaksie wat hy kry, is positief. Mense wil hom altyd optel en soen en sy handjies vashou. As ek sonder hom by die plaaslike supermark opdaag, is almal wat daar werk sommer vies,” lag sy.

FOTO: Devine Photography

FOTO: Divine Photography

Carmen glo bewusmaking speel ’n sleutelrol om mense se houding teenoor ander wat verskil te swaai.

“Dit is soos iemand met bruin hare of blonde hare, dit is anders, maar dit is nie verkeerd of sleg nie. Mense moet dít verstaan.”

Hulle het kontak gemaak met die Amerikaanse organisasie Understanding Dwarfism wat vir hulle materiaal gestuur het om dié tipe situasies te hanteer. “Daar is die oulikste boekie wat begin deur te verduidelik wat dwergisme is op ’n vlak dat kinders dit sal verstaan.”

FOTO: Devine Photography

FOTO: Divine Photography

Boeta gaan in die laaste kwartaal vanjaar vir die eerste keer skool toe. “Hy is mal oor mense en maatjies en hy kort daardie stimulasie,” vertel Carmen. Sy weet dít mag dalk weer ander uitdagings bring, maar sy is reg daarvoor. “Ek sal altyd daar wees vir hom.”

Hulle het onlangs gesinsfoto’s laat neem, kyk net hoe pragtig is dit:

Die Minnaar-familie: Carmen, Willem, Milan en Boeta (Willem)
FOTO: Divine Photography

Carmen en Boeta
FOTO: Divine Photography

Willem saam met Milan en Boeta
FOTO: Divine Photography

Willem saam met Milan en Boeta
FOTO: Divine Photography