Ons praat met

Shaleen Surtie-Richards, nog ‘n wenner

Shaleen Surtie-Richards het Saterdagaand met die louere as beste aktrise in ‘n eenpersoon-vertoning weggestap. Die geleentheid was die 44ste jaarlikse Fleur du Cap-Teatertoekennings in Kaapstad. Sy’t gehore landwyd – en die beoordelaars – uitgeboul met haar spel in Shirley Valentyn. Sy het met Phyllis Green gesels oor hoe groot die eer vir haar was, die 40 ste toekenning wat dié gewilde aktrise in haar roemryke loopbaan ontvang het.

“Jy weet, in Upington is daar ‘n gebou na my genoem, ek het selfs my eie roos en dan is daar die talle pryse en ander vererings deur die jare. Maar hierdie een is baie spesiaal …”

 

Jy het glo spoggerig gelyk vir die okkasie?
Ek het basiese swart gedra, maar met my pragtige choker wat lekker bling-bling is. Dis mos ‘n heuglike okkasie en ‘n mens moet mos darem uithang. Gelukkig vir almal het ek maar verby gehou met die “Inspired by Nature”-groen tema van die aand. Verbeel jou ek kom as Shirley Valentyn in my geboortepakkie daar aan. Dit sou darem ‘n gedoente afgegee het!

Wat beteken die prys vir jou?

Niemand kan hulle indink hoeveel dit vir my beteken nie. Dis soos ‘n tuiskoms. En om te dink my sirkel is nou volrond. Ek het 24 jaar gelede my eerste Fleur du Cap gewen as beste aktrise vir my rol as Hester in Atholl Fugard se Hallo en Koebaai. Dit was in 1985. Daarna is ek mos van die verhoog af om in die sepies te gaan speel. En nou met my eerste eenvrouvertoning val die eer my te beurt! Ek is so opgewonde soos ‘n kind. My vreugde ken geen perke nie. Die lekkerste was toe ek op die verhoog kom en niemand minder nie as my eertydse Egoli-kollega Thoko Ntshinga oorhandig die prys aan my. Sy het die rol van Donna gespeel. En ná al die formaliteite kuier ek vir daardie liewe Hannes van Wyk (hy was Krynauw) raak. Ek is so lief vir daardie kind. Hierdie is die derde prys in ‘n ry vir Shirley, eers die KKNK-Kanna as die gewildste produksie, toe Aardklop s’n en nou dié een. Ek is so geseënd, want dis so ‘n voorreg om Shirley te speel.

Hoe so?

Ek wíl elke aand op die verhoog stap om haar met almal daar buite te deel. Sy is so ‘n wonderlike karakter, want sy sê mos goed wat ons almal te bang is om ‘n stem aan te gee. En dis bevrydend. Sy inspireer soveel mense. Daar is nie een aand wat ek voel ek wil nie op daardie verhoog uitgaan nie.

Ek hoor jy het so bietjie lyf geskud ná die toekennings?

Maar my, natuurlik moes ek wys hoe gelukkig ek is! Ek is mos so ‘n mens, so oop oor hoe ek voel en ek moes net uiting gee aan my vreugde.

 

* Kyk uit vir Shirley Valentyn by vanjaar se KKNK. Die stuk word opgevoer in die kykNET-Hoërskoolsaal. Bespreek solank hier www.computicket.com of by Shoprite en Checkers landwyd.

** Vir meer oor die Fleur du Cap toekennings besoek www.capetheatre.co.za