Ons praat met

Shaleen Surtie-Richards oor vroueregte: “Ek’s nie ‘n women’s libber wat my bra sal brand nie”

Is daar iets van die karakter Shirley Valentine, wie jy onlangs vertolk het, in jouself?
Met haar vrouwees kan ek identifiseer. Maar my eie huwelik was anders. Ek was nie die dienende vrou nie. Ek dank die Here daarvoor. Ek was nooit by die huis nie, daarom het die huwelik twaalf jaar gehou. My ouers het by ons gewoon en my ma het gekook. As ek soms vir Gerald, my eks-man, ‘n toebroodjie moes insit, het ek ge-backchat! Ek is ‘n ander soort vrou. Ek vat nie twak van ‘n man nie. Gerald is die een man vir wie ek rêrig sou luister, maar ek is grootgemaak om nie my mond te hou nie. Pappa het altyd gesê: Na wit hoef jy nooit op te kyk nie en na swart hoef jy nooit af te kyk nie. Jy kyk langs jou na ‘n mens en sy menswaardigheid.

Jou ouers, Shagan (Hokkie) en Ellen (Sakkie), het die fondamente vir jou sukses gelê?
Ek baseer my leefwyse op wat my pa, ‘n onderwyser, my geleer het. Mamma ook. O, ek het baie pak gekry, want ek was goddeloos! Ek het een keer vir my pa gelieg en hy het my geklap dat my wange só maak. Ek het dit nooit weer gedoen nie.

Hulle het jou geleenthede gegee?
Toe die wit ouers nie wou hê ek moet saam met hul kinders ballet nie, het Pappa ‘n balletonderwyseres in die Kaap gaan haal en vir haar ‘n huis op Upington gekry. Hy het ballet-bars in ons sitkamer aangebring en ‘n linoleumvloer laat insit. Want sy kind sóú ballet neem!

Jy versorg vandag jou ma?
Toe Pappa 80 jaar oud geword het, het ek vir hom en Mamma voor hul vriende en familie beloof ek sal sorg dat hulle nooit ouetehuis toe gaan nie. Hy is in 2000 dood en daarna het Mamma by my kom bly. Sy het ‘n beroerte gehad en loop nie meer maklik nie.

Ek verstaan sy was ‘n formidabele vrou op haar dag.
My ma was een van die beste sprekers wat ek nóg gehoor het. Sy was in verskeie komitees, selfs saam met Marike de Klerk Ierland toe vir ‘n vroueding. Sy het na plase gegaan en vroueklubs gestig. 

Jy glo ook aan vrouebemagtiging?
Ek sorg altyd dat my huishulpe hul eie spaarrekening het waarin ek hul geld betaal. My een huishulp kon só op ‘n dag haar goed neem en loop toe haar man haar weer slaan. Sy het my bedank en gesê: ‘Jy het my weer vrou gemaak.’ Maar deur beheer oor haar lewe te neem, het sy haarself weer vrou gemaak. 

Hoe voel jy oor vroueregte?
Ek’s nie ‘n women’s libber wat my bra sal brand nie. ‘n Mooi bra is sexy. Ek wil vrou wees, maar ek sit nie agteroor nie. Vroue slaap rond en verwag ‘n phone call en bos blomme die volgende dag. Almal het gedink ek het op my man se kop gesit, maar dit was nie so nie. Dan sou ek nie met hom getrou het nie, want dan het ek nie respek vir hom gehad nie. Respek is ‘n wedersydse ding wat albei moet verdien.

En hoe voel jy oor seksualiteit?
Baie vroue kom uit huise waar die lig moet afgaan en die deur toe as jy seks het. Maar dan word jy groot en leer vryheid. Jy gaan na sex aid parties toe en jy sien goed soos vibrators. Ons is mos te skugter om vir ‘n man te sê waarvan ons hou. Jy kry te skaam! Pleks jy jou mond oopmaak en sê: ‘Dis nou lekker, Liefie.’

Mis jy nie ‘n man in jou lewe nie?
Ek wag nog steeds vir die man wat weer my maag sal warm maak, maar ek is té besig om rond te kyk. Maar as so ‘n man opdaag, gaan ek nie sê ek gaan dit nie vat nie. Ek slaap nie rond nie. Ek wil nooit in ‘n bed wakker skrik en dink: ‘O, het hierdie man nou by my geslaap oor my of om te kan sê hy het by Shaleen Surtie-Richards geslaap?’ Dis ‘n risiko. Met my persoonlikheid is mans in elk geval versigtig. Ek is nie die hulpelose soort wat sal sê: ‘Ag, maak hierdie skroefie vir my vas’ nie. Ek sal sê: ‘&^%, ek kry nie die ding reg nie, help hier!’

  • 1p8bkP cwvlsuylcmak, [url=http://hwsbvmbnwqxa.com/]hwsbvmbnwqxa[/url], [link=http://dbrutcfcikbd.com/]dbrutcfcikbd[/link], http://gmxkhvvjvric.com/