FOTO: Willem Lourens

FOTO: Willem Lourens

Ons praat met

Shaleen Surtie-Richards vereer by Naledi-toekennings

Shaleen is gisteraand vir haar lewensbydrae tot Suid-Afrikaanse teater vereer. SARIE se Marguerite van Wyk het onlangs met haar gesels oor haar drome, uitdagings en haar rol in Hennie van Greunen se teaterstuk, Rondomskrik.

Sy is byna 60, maar sy het die passie van ’n nuweling-aktrise. En die pryse rol steeds in.

En sy is op ’n lekker plek in haar lewe. By die KKNK het sy in die eerste volledige bruin rolverdeling van P.G. du Plessis se toneelstuk Siener in die suburbs gespeel. Verbaas oor my vraag: “Agge nee, waaroor die bohaai? Eerste bruin cast se voet. Moet mense nie nou al aan sulke dinge gewoond wees nie?” Sy is ook opgewonde om deel te wees van die Afrikaanse fliekbedryf wat blom. Sy het verlede jaar saam met onder andere Marguerite Wheatley en Neels van Jaarsveld aan die romantiese komedie Knysna, wat in Desember in teaters te sien was, geskiet.

Hoekom wou jy in Rondomskrik speel?
Nadat Hennie van Greunen, die regisseur, Rachelle Greeff se draaiboek vir my gegee het om te lees, was ek in my m—r . Dit was só sad. Armoede en dwelms vra nie watter kleur jy is nie. Ek was diep geroer deur die gruwelike verkragting van Anene Booysen, op wie se lewe dit losweg geskoei is. Ek stap nie sommer by ’n bedelaar verby sonder om vir hom kos te gee nie …

Ek kom uit ’n gesin van opvoeders. In dié stuk vertolk ek die rol van Jasmien Adams, die onderwyseres. My ma was nie ’n koek-en-tee-vrou wat gesit en skinder het nie. Sy het saans aandskole by ons huis gegee, waar sy mense leer lees en skryf het. Sy het bakkompetisies gereël om plaaswerkers te motiveer om hul mooiste koeke te bak. Mamma was ’n mense-mens, ’n doener, sy het kinders leer dans en kuns doen, was ’n fenomenale spreker, een van oorlede mev. Marike de Klerk se groot vriendinne … Haar seksonderrig vir die jonges: “Onthou, drie sekondes plesier is ’n leeftyd se hartseer vir ’n kind.”

Ek wil ook help. Dit het my so m—rig gemaak dat ons gesukkel het om gehore te trek na Rondomskrik. Mense is bang om met verkragting gekonfronteer te word. Maar ons moet besef as jy een kind red, red jy ’n nasie.

Jy sien élke rol as ’n uitdaging en het hope sepie-ondervin– ding: Nenna in Egoli, Mattie in Generations, Dorothy in 7de Laan en Fran in Villa Rosa . . .
In Suid-Afrika is werk skaars. ’n Sepie is ’n gewaarborgde inkomste en as aktrise kan jy nie neusoptrekkerig wees nie. Elke sepierol was lekker. Nenna was ’n vrou in murg en been, aards. Ons het by mekaar geleer. Elke rol wat ek speel, is ’n uitdaging.

Ek bewonder akteurs met groot grade, maar ek het geen kwalifikasie nie. Jy kry
mos tegniese akteurs en die murg-en-been- akteurs. Ek lees nie boeke oor toneelspel nie. Watse snert is dit dat jy om ’n hoek moet staan en met niemand mag praat nie? Ek gaan nie in “ander wêrelde in” nie. ’n Goeie akteur is nie noodwendig iemand wat kan huil nie. Jy moet jou karakter eerlik interpreteer. Ek het ook ’n goeie oor vir die ritme van woorde.

Ek is mal oor my job en wil dit vir ewig doen. Ná dertig jaar motiveer ek myself deur te dink dat nuwe mense elke aand vir die eerste keer na die show kyk. Ek kry steeds skoenlappers op die verhoog. Jong mense dink hulle is ná
’n maand famous. Ék het as jong akteur nog help teater skoonmaak, plakkate opgesit, ek kén die bedryf.

Hoe het jy geleer om drome waar te maak?
My pa het kleintyd vir my gesê enigiets is moontlik, maar ek moet my alie lig en uit die lewe gaan haal wat ek wil hê. Dit kos harde werk, opofferings. “Werk eers vir jou naam, daarna vir jou geld,” was sy raad. Moederskap was nie deel daarvan nie, maar wat ’n kick as kinders my omhels en ek die ou hartjies teen my voel bons.

Is dit waar dat Madiba jou in nood bygestaan het?
Ná my pa in 2000 dood is, het hy my gebel om te simpatiseer. Sy eerste woorde was: “Shaleen, you make us proud in this country.” Dié besige man, wat kwalik tyd het om toilet toe te gaan. Hy het gesê hy besef wat dit is om ’n pa te verloor. Ek sal nooit, ooit sy menslikheid vergeet nie. Kort nadat hy uit die tronk vrygelaat is, loop ek hom op die Kaapse Internasionale Lughawe raak, storm agter hom aan, gryp sy arm en sê: “Excuse me, Mr Mandela.” Hy sê toe: “I know you.” Ek begin toe giggel van skok. Hy sê toe hy het Fiela se kind en The Last Emperor in die Victor Verster-gevangenis gesien. Ek kon dit nie glo nie.

Die Naledi-toekennings word jaarliks in Johannesburg gehou en sal 25 April op eKasi Open View Channel 105 uitegsaai word.