Simoné Nortman (Nadia in 7de Laan FOTO: Twitter

Simoné Nortman (Nadia in 7de Laan FOTO: Twitter

Ons praat met

Simoné Nortmann se dagboek van die Royalty Soapie Awards

Simoné Nortmann, bekend as Nadia Croukamp in 7de Laan, het die afgelope naweek met die prys vir Beste Nuweling by die Royalty Soapie Awards in Durban weggestap. Sy deel haar dagboekinskrywing van dié spesiale naweek eksklusief met SARIE.com.

Vrydagaand

Dis 18:00 en ek wag nog vir my laaste toneel om geskiet te word op die 7de Laan-stel. Ek het aan die begin van die week hiper-histeries besef dat ek net vyf dae het om in ’n rok te pas. Ek het onmiddellik beplan om elke dag te gim, alle koolhidrate uit te sny en baie water te drink …

My voorneme het egter net gehou tot die eerste teetyd toe hulle doughnuts op die stel begin uitdeel het. Ek troos myself daaraan dat dit onmoontlik is om tydens ’n reënerige week jou flabby arms en suikerlose dieet te prioritiseer.

FOTO: Simoné Nortmann

Tina is grimeerkunstenaar by 7de Laan. Sy gee vir my tips sodat ek Saterdagaand in Durban my eie grimering kan doen.
FOTO: Simoné Nortmann

Ons vliegkaartjies is gelukkig eers bespreek vir Saterdagmiddag, so ek kan my Vrydagaand gebruik om in ’n borrelbad te ontspan en my tas te pak. Én nie my laaste twee Ferrero Rocher-sjokolades te te eet nie – said no Simoné ever.

Ek en ’n vriendin besluit eerder om deur te jaag na Kaleidoskoop se nuwe CD-bekendstelling in Pretoria, want hulle musiek is medisyne vir jou siel. Ek kom eers 23:40 by my woonstel aan – wat lyk soos ’n manstudent se koshuiskamer. Daar is té veel wat moet gebeur voordat ek môre om 12:55 vlieg, dink ek terwyl ek wegsluimer.

Saterdagoggend

My oggend is ’n ramp! Ek bel my ma twee keer histeries oor my rok wat dalk nie betyds gaan klaar wees nie, stuur vir Ian (my kêrel) ’n hele paar skisofreniese voice notes, en ry amper sonder onderklere, skoene en my vanity case Gautrein-stasie toe.

FOTO: Simoné Nortmann

Die vlug wat ek amper verpas het
FOTO: Simoné Nortmann

Uiteindelik op die vliegtuig soek ek iemand wat ek herken saam met wie ek ’n selfie kan neem vir hierdie blog, maar al wat ek kan sien, is die agterkant van Jo da Silva se perfekte pixie haircut, met Caitlin (haar dogter) langs haar. Ek kan net daarvan droom om eendag só ’n rockstar-ma te wees.

Die middag verloop vlot. By die Hilton-hotel word ons verwelkom en ek neem foto’s van al my bewegings. Ek erken aan die persoon langs my dat dit my eerste keer in ’n hotel is. Later vind ek uit dit was die regisseur van The Wild.

Saterdagaand

Ian is my kêrel en metgesel vir die aand. Hy, wat intussen ’n deer-in-headlights-uitdrukking gekry het, word op die rooi tapyt deur ’n TV-joernalis gevra of hy ook dink ek lyk mooi. Ian hoor hom nie lekker nie en antwoord, “Yes, well this suit actually comes from my matric farewell a few years ago … ” en dan raak hy bleek.

Jo da Silva: sterk, onafhanklik, nederig. What a woman! FOTO: Simoné Nortmann

Jo da Silva: sterk, onafhanklik, nederig. What a woman! FOTO: Simoné Nortmann

Ek en Ian. My rok is gemaak deur Kyna Consili FOTO: Simoné Nortmann

Ek en Ian. My rok is gemaak deur Kyna Consili FOTO: Simoné Nortmann

 

Die aand skop af met Michael Mol en Hlomla Dandala as die charismatiese aanbieders en die groep Mafikizolo vermaak ons. Shaleen Surtie-Richards sit so 100 m van my en ek vermoed ons het nounet oogkontak gemaak. Ek is seker ons gaan nog beste vriende raak.

Ons het die rooitapyt oorleef FOTO: Simoné Nortmann

Ons het die rooitapyt oorleef!
FOTO: Simoné Nortmann

My ma sit ’n paar rye agter ons en het almal om haar solank aangesê om ook vir “Nadia van 7de Laan te cheer, want dis haar dogter”. My lewe voel ’n bietjie soos ’n hoofstuk uit Spud.

Die nuwe sepie Isibaya loop weg met die meeste toekennings, 7de Laan met drie akteurs-toekennings, en Binnelanders word as die gewildste sepie aangewys. Shaleen kry die “Lifetime Achievement Award” en almal staan op om haar toe te juig. Haar toespraak is eg, wys en humoristies. In my geestesoog sien ek my 14-jarige self wat Kringe in ’n bos by die skool kyk en aan Fiela Komoetie se lippe hang.

Shaleen lyk pragtig in rooi! FOTO: Simoné Nortmann

Shaleen lyk pragtig in rooi!
FOTO: Simoné Nortmann

By die afterparty gewaar ek vir Ramey Short (Binnelanders se dr. Quinton) van ’n afstand. Hy en my ma dans op Mafikizolo se musiek, en ek vergewe haar skielik vir al die kere wat sy my al haar Goue Drolletjie voor my kollegas genoem het.

Ek hoop net dat sy nie iets uitblaker oor my sepie-crush op dr. Quinton nie!

Sondagoggend

Ek en my ma sluit ons aan by die hotel se buffet-ontbyt. Ek voel soos ’n kind voor Kersfees terwyl ek Nutella op my rogbroodjie smeer.

Ek dink terug aan die naweek en ek besef dat my drome waar geword het. Ek kan elke dag doen waarvoor ek lief is en dit my beroep noem. Ek kan iemand wees wat skaamteloos aan ’n honger wêreld erken dat ek fat pants onder ontwerpersrokke dra en boonop okay daarmee is dat ek tydens toesprake baie meer soos Gracie Lou Freebush (Sandra Bullock se karakter in Miss Congeniality) as Meryl Streep klink.

Op pad uit die hotel stuur ek ’n dankbare skietgebed op vir onverdiende guns, mense wat in my glo, en om ná die naweek te kan terugkeer na my deurmekaar woonstel in Johannesburg. Net-net betyds vir die 7de Laan-omnibus.

*Wie het met die toekennings weggestap? Lees hier watter pryse SABC2 se 7de Laan en kykNET se Binnelanders huis toe gevat het.