sindi
Ons praat met

Sindi… die Survivor stam het gepraat

Toe Roxy die versteekte immunity idol by die tribal council te voorskyn bring en aan Vanessa oorhandig om haar van ’n gewisse uitstem te beskerm, het Sindi Lukhele en haar alliansie-lede se moed in hul skoene gesak. Sindi se vlam is geblus, maar dit was ’n bedekte seëning, sê sy.  

Jou alliansie het soos een man vir Vanessa gestem om die eiland te verlaat. Het julle dit enigsins oorweeg dat sy of Roxy die versteekte immunity idol het?

Glad nie. Ons het nie eens geweet daar is ’n individuele immunity idol iewers op die eiland nie omdat Roxy die leidraad oor waar dit is vir haarself gehou het. Sy’t vir niemand, behalwe Vanessa, gesê nie.

Wat het deur jou kop gegaan toe Roxy die immunity idol aan Vanessa oorhandig?
Dit was ’n groot oomblik. Ek het gedink ‘O, genade, wat het nou gebeur?’ Ek het gewonder waar op aarde hulle dit gekry het, want nie een van ons het eens geweet dit bestaan nie. Allison was veral onkant gevang omdat sy reeds ’n stem teen haar gehad het. Almal in ons alliansie was geskok.

Dit lyk of jy glad nie met Roxy en Vanessa oor die weg gekom het nie?
Eintlik net nie met Vanessa nie. Die enigste ding wat my van Roxy gepla het, was dat sy Vanessa se skoothondjie was. Vanessa is een van daai mense wat alles beter as enigiemand anders kan doen. As ek gesê het ek kook my rys op dié manier, het sy gesê sy kan rys onderstebo kook terwyl sy op haar kop staan. Ek kon dit nie hanteer nie. Dit het my gebreek.

Vanessa het op ’n tyd ’n snedige opmerking gemaak en gesê jy’s die enigste een wat nie gewig verloor nie. Het jy enige gewig verloor?
So drie kilogram. Ek dink my lyf het besluit hy moet nou oorleef en het aan al die vet vasgeklou!

Dit het nie gelyk of jy enigsins moeg was nie, selfs ná ’n halwe maand op die eiland.
Op dag 13 het dit glad nie goed met my gegaan nie. Ek het toe iewers gaan huil waar die TV-kameras my nie kon sien nie en terug na die stam toe gegaan en verder gespeel.  

Was jy reg om huis toe te gaan?
Aanvanklik was ek erg ontsteld omdat ek afgestem is, maar toe ek mooi daaroor dink, was ek bly ek is afgestem voordat ek op die jurie was. Ek dink nie ek sou vir iemand kon stem om ’n R1 miljoen te kry nie. Ek sou nie vir iemand anders soveel geld op ’n silwer skinkbord kon gee nie.