Ons praat met

Skoen-ontwerper slaan die asem weg

Skoen-argitektuur!

Antoni Plàcid Guillem Gaudí i Cornet kon geboue ontwerp met ‘n balans tussen kuns en wiskunde soos min.

Ontmoet Raphael Young, die Gaudí van skoenontwerpers.

Hy is in Korea gebore, maar op 4 aangeneem deur ‘n Franse familie. Soos die meeste kinders kon Young nie wag vir die somervakansies nie. Maar sy rede het effens van jou alledaagse kind s’n verskil: Young het vakansies saam met sy oom, Alexandre Narcy, deurgebring, wat in die 50’s skoene vir die bekende handelsnaam Yves Saint Laurent ontwerp het. En so het hy sy oom se voorliefde vir skoene aangeleer. Op 14 is hy die kans gegee om sy eerste skoen te ontwerp!

Raphael vertel: “Ek kon vir ure kyk hoe my oom die laaste stukkie van ‘n hak uitkerf. Ek het die beste vakleerlingskap by hom gehad. Hy het my op die tradisionele manier touwys gemaak, soos ‘n ware ambagsman.”

Wat Young se werk so besonders maak, is die feit dat hy elke skoen se prototipe self maak, van begin tot einde. Hy glo in die kombinasie van moderne ontwerpe en tradisionele vakmanskap.

Voor Raphael egter sy passie en voorliefde vir ontwerp begin uitleef het, het hy sy pa se raad gevolg en ingenieurswese en fisika studeer, waarna hy hom by die Vloot aangesluit het. Hy vertel dat dit hom wel gehelp het in sy loopbaan.

“Ek verstaan vandag die belangrikheid van fisika en meganika, maar ook die invloed van kuns en beeldhoukuns. Ons almal werk op die selfde beginsels: balans, volume, digtheid, en magnetiese lyne. Hy vertel dat hy inspirasie put uit die werk van Charles-Édouard Jeanneret, wat bekend is as Le Corbusier, Switserse ontwerper, argitek, stadsbeplanner, skrywer en kunstenaar en pionier van moderne argitektuur, en die Griekse filosoof Plato.

Na sy internskap by Yves Saint Laurent en ‘n bietjie vryskutwerk, het hy Raphael Young in 2007 begin. 

Raphael sê vroue wat sy skoene dra, is die middelpunt van sy inspirasie.

”Skoene is daar om die middelpunt te wees. En in die geval van my skoene word hulle ontwerp om presies daardie rede.”

“Ek hou van die idee om diepte by die vrou te voeg.” (Hy het wel al skoene vir mans ook ontwerp.)

Loop op  die mooiste wolkekrabbers met ontwerpe wat argitektuur, kuns en mode in skoenvorm saamvat – deur Raphael Young!

   
   

 foto’s : raphaelyoung.com