FOTO Leana Clunies-Ross

FOTO Leana Clunies-Ross

Ons praat met

Só gaan dit met Quinne terug in SA

Sy’t haarself werklik leer ken daar doer in Amerika. Maar ná 10 jaar is Quinne Brown Huffman terug in SA (en in die Laan!). En ja, sy’s ouer en wyser, maar huis het nog nooit só goed gevoel nie … 

Sy lyk nog nes die Connie van ouds. Dalk ouer en wyser, maar die dik bruin hare en breë glimlag wat 7de Laan-kykers in die vroeë jare van die gewilde sepie al bekoor het, glinster steeds. Quinne is reeds sedert einde Oktober weer as Connie op die kassie te sien.

“My hele lyf kry lekker,” lag Quinne en wikkel haar skouers soos iemand wat hulle in ’n gunsteling-kombers toewoel. “Ek voel tuis. Ek kan die paaie hier in Johannesburg toe oë ry, alles is bekend.”

Hoewel hulle jaarliks in Suid-Afrika kom kuier het, is dit natuurlik ’n aanpassing vir haar gesin. “Ryan het byvoorbeeld in sy 40 jaar nog nooit ’n Kersfees weg van sy familie deurgebring nie. Maar hy het ’n ongelooflik positiewe ingesteldheid en oop kop oor ons skuif en hy’s ook bly om in Suid-Afrika te wees.”

FOTO Leana Clunies-Ross

FOTO Leana Clunies-Ross

Sy weet dit gaan beteken dat sy haar kinders minder gaan sien, maar sy glo dis ’n goeie ding. “Dis deels die boodskap wat ek aan ander vroue wil oordra: Ons, as vroue, moet begin besef as jy na jouself omsien, sal jy ook beter na jou kinders en ander mense kan omsien. Jou kinders is gelukkig as jy gelukkig is.”

Daarom geniet sy dit om weer voldag te werk. Haar karakter is, nes Quinne self, ouer en wyser. “Connie is nog steeds onskuldig, maar nie meer naïef nie.”

Buiten al die nuwe akteurs, skiet 7de Laan ook deesdae met ’n nuwe skedule wat almal meer vryheid gee. “Dis fabulous. Daar is ’n nuwe energie en almal speel lekker saam.

“Die wonderlike ding is dat ek en my kinders, albei kante toe, weer nuwe waardering vir mekaar het met dié dat ons nie heeldag saam is nie,” giggel sy asof sy iets stouts gesê het.

“Hier is ons verhouding anders, deels ook omdat ek weer in Suid-Afrika is. Ek was nooit ongelukkig in Amerika nie, maar ek het altyd gevoel iets skort. Plus, hulle is nou omring deur mense wat hul veilige hawe is, soos hul ouma, tannie en my vriende. Dit maak hulle meer onafhanklik, wat meer vryheid in ons verhouding skep. Een van die redes hoekom ek my kinders Suid-Afrika toe wou bring, was om ’n wêreld te skep waar hulle op meer as net hul mamma kan steun.”

Quinne is ’n ander mens as toe sy uit Suid-Afrika weg is op 27. Ouerskap het haar natuurlik verander, sê sy, maar sy het ook haarself beter leer ken in die afgelope dekade.

“Ek het baie tyd gehad om uit te werk wie ek is, waar ek inpas, wat vir my saak maak. Voor ek weg is, het ek nie geweet wie ek is nie, maar ek wou uitvind – weg van die kollig af.”

FOTO Leana Clunies-Ross

FOTO Leana Clunies-Ross

Oor Suid-Afrika se toekoms is sy baie positief, want dis ’n ander land as toe sy weg is. “Ek dink daar is nou baie meer integrasie. Ek kan net vir Johannesburg praat, want ek was nog nie elders nie, maar dis beslis nou meer eklekties.

“Maar ek sien ook hoe dié geleenthede mense op verskillende maniere raak. Sommige is opgewonde daaroor, ander gaan gebuk onder al die verandering. Verandering is nie maklik nie en dit veroorsaak wrywing.

“As iemand wat ’n bietjie van buite kan kyk, sal ek graag vir mense dié Kersfees wil sê:

“Onthou, ons is altyd in beheer van ons perspektief. Gaan ons lig en liefde kies, of in mekaar se verskille vaskyk en die donkerte sien? Ons land se toekoms is in ons álmal se hande.”

Lees die volledige onderhoud met Quinne in ons Desember-uitgawe + die mooiste foto’s van haar en haar kinders. Nou te koop!

desember 2016 december quinne brown