Ons praat met

Sol Kerzner: die een en die enigste

Noem die naam Sol Kerzner en jy dink Sun City, die skouspelagtige opening verlede jaar van die Atlantis-oord in Doebai, waar die wêreld se who’s who triomfantlik skouers geskuur het, beeldskone langbeen-blondines, baie geld, vierletter-woorde wat glo in vergaderings rondgegooi is, vinnige motors, seiljagte, vuurwerkvertonings en partytjies waar die drank vloei en die tafels kreun onder kreef en kaviaar . . .

“Hanteer Mnr. Kerzner sagkens, asseblief. Hy is immers 73,” waarsku sy skakelbeampte my voor die onderhoud. Ek wonder darem . . .

Op die kop twaalfuur stap ’n kort man in ’n donkerblou broek en ligblou hemp saam met die skakelbeampte by die minimalistiese Nobu-restaurant in die gesogte One&Only-hotel in die Kaapse Waterfront in en skud my hand.

In sy Amerikaanse aksent groet hy. Hy vra stil-sjarmant of ek saam met hom borrelwater wil drink. Want die “nuwe” Sol Kerzner is baie gesondheidsbewus.

Danksy sy vierde vrou, Heather (sowat 32 jaar jonger as hy), met wie hy reeds tien jaar getroud is, het hy vier jaar gelede ophou alkohol drink. Hy het homself vir 30 dae by die Betty Ford-kliniek ingeboek en mis die alkohol – soms tot ’n halfbottel whiskey en ’n paar  glase wyn per dag – glad nie meer nie. Hy het sedertdien ook 8 kg verloor, “want alkohol maak nogal vet”.

Die man voor my mag skatryk wees, maar Sol hou blykbaar glad nie daarvan dat mense ’n ophef van sy geld maak nie. (“Moenie oe en aa, Meneer Kerzner nie. Dit maak hom baie  ongemaklik,” maan sy skakelbeampte weer.)

Ek kyk uit vir die worry beads waarvoor hy vroeër so bekend was. Maar hy is rustig. Teug net af en toe aan sy water. Hy vroetel trouens niks, hou sy hande gevou. Die nuwe, “kalm” Sol is als te danke aan sy goeie leefwyse, vertel hy. Ná sy hartaanval in 1983 het hy van 60 sigarette per dag heeltemal opgehou rook. Dit was glo maklik. Want sy ander “opsie” was die graf.

In 1986 het hy ’n driedubbele hartomleiding gehad. En agt jaar gelede is kolonkanker by hom gediagnoseer. Hy het besef hy moet goed eet en gereeld oefening doen en elke oggend, kort ná vyf, is hy op die trapmeul, sowat ’n uur lank.

“Dis wanneer ek die lekkerste ontspan, terwyl ek CNN kyk. Ek luister nie musiek wanneer ek oefen nie.” Maar hy gee toe dat hy nooit honderd persent kan afskakel nie . . .

Jy kom glo met min slaap klaar?
Sowat vier tot vyf uur per nag. In ’n stadium het ek my personeel nogal hard gedryf en soms tot middernag gewerk aan groot projekte, maar deesdae doen ek dit nie meer nie.

Waaroor het jy as klein seuntjie gedroom?
Ek was nooit juis ’n uitblinker op skool nie. My ouers, twee Russies-Joodse immigrante, het ’n kafee in Doornfontein, Johannesburg, gehad en sewe dae per week gewerk om vir my en my drie susters te voorsien. Ons was baie arm. Ek kon my nie in my wildste drome die lewe wat ek vandag het, voorstel nie. Ek het as tiener die eerste keer die see gesien. Aan die einde van my skoolloopbaan was ek nog nie  seker wat ek wou doen nie. Ek het toe aan Wits gaan studeer vir ’n rekenmeester.

Hoe beland jy toe in die hotelbedryf?
My ouers het ’n klein hotelletjie in Durban gekoop en ek wou naby hulle wees. Dáár het ek begin dink dís dalk iets wat ek wil doen. Ek het in Durban as rekenmeester begin werk en in my vrye tyd brosjures vir hotelle geskryf vir ekstra geld. Ek het besef daar’s ’n leemte in die SA hotelmark. Ek het toe ook gereken Suid-Afrikaners wil hul vakansie geniet, maar waarde vir geld hê. En só het die idee vir die eerste vyfster-hotel in SA, die Beverley Hills in Umhlanga, ontstaan. Die koerante het my uitmekaar getrek en gesê dis heeltemal te spandabelrig en dit sal nooit werk nie. Maar ek het geweet ek moet deurdruk.

Wat is die definisie van sukses?
Passie. Ek is mal oor wat ek doen en kan my nie ’n lewe daarsonder voorstel nie. Die kuns is om talentvolle mense te kies wat nét so passievol voel. Maar dit verg harde werk. In die hotelbedryf is daar maar dingetjies wat kan verkeerd loop en jy moet daarby aanpas. En dís opwindend, om altyd ’n stappie vooruit te beplan. By die beplanning van die One&Only-hotel was dit ’n voorreg om byvoorbeeld top-sjefs soos Gordon Ramsay (Maze) en Nobu Matsuhisa te betrek. Die Kaapse argitekte Dennis Fabian & Berman en Ruben Reddy was ongelooflik en die binneversierder van New York, Adam D. Tihany, het gesorg vir die regte voorkoms.

Dis van dié talentvolste mense ter wêreld. Kyk na die unieke ligging. Dis naby die see en as jy uitkyk van die luukse dakkamers (penthouses) het jy ’n uitsig op Tafelberg. Wérklik ’n One&Only wat sy naam gestand doen. Onlangs was ek vir die eerste keer in ’n lang tyd by die Beverley Hills in Umhlanga. Die personeel het my ’n ontvangs gegee wat my verstom het. Dís toewyding. Dieselfde het gebeur by The Palace by Sun City. Dit het tien minute geneem van die ingang tot by die voordeur soos mense my omhels en verwelkom het.

Dís die lekkerte van my werk. Om te sien dat die mense wat saam met my werk, trots is op wat hulle doen. Jy moet vir iets méér werk as die geld en die roem. Anders is daar nie bevrediging nie.

Hoe voel jy oor die toekoms van Suid-Afrika?
Ek het nog altyd my SA paspoort. Ek kom elke Desember met my gesin na ons huis in Houtbaai. Met dié hotel sal ek nou ’n paar keer per jaar huis toe kom. Ek mís biltong en my goeie vriende in die vreemde. Ek woon sedert 1987 in Londen. Heather (’n Amerikaner) woon sedert ons huwelik tien jaar gelede saam met haar kinders uit haar eerste huwelik, Savannah (12) en Charlie (14), daar.

SA het die afgelope twintig jaar báie veranderings ondergaan en nie almal sou dit kon doen soos oudpresident Nelson Mandela nie. Hy het die grondslag gelê vir wonderlike SA entrepreneurs. Van die jong kinders wat ek voor my sien grootword het, is vandag reuse in die mynbedryf en die sakewêreld. SA trek voordeel uit sy goeie leiers en dít sal groei in die ekonomie bevorder. Wêreldwyd is daar ’n groot resessie, maar dit sal draai. SA het ’n wonderlike toekoms en ek is gelukkig om my geld hier te belê.

Heather en jou gesin speel ’n groot rol in jou lewe . . .Beslis. Sy is slim en ’n groot ondersteuner, altyd aan my sy. Die afgelope twee en ’n half jaar was uitdagend ná my seun Butch se dood op 42 in ’n helikopter-ongeluk. Hy het baie van my sakebelange help bestuur.’n Mens herstel nooit heeltemal ná so ’n ramp nie. Maar as ek nie voortgegaan het daarna nie, sou dit my waarskynlik gek gemaak het. Niks is belangriker as die liefde van jou vrou en gesin nie. Ek het agt kleinkinders en vier kinders: Andrea (50) in New York, Beverley (48) in New York/Indië, Brandon (36) in Kaapstad en Chantal (32) in Londen.

Dis vir my heerlik om my hele gesin te bederf in die suide van Frankryk tydens die Europese somer of Kerstyd in SA by ons huis in Houtbaai. Dís wanneer ek ontspan.

Wat is jou definisie van geluk? Niks is perfek nie. Soos ’n mens ouer raak, leer jy dinge aanvaar. Dis belangrik om te leer hoe om betréklik gelukkig te wees. Wees so gelukkig soos jou omstandighede jou toelaat. Maak altyd die beste van jou omstandighede. Dis sinloos om te veel te tob oor dinge. Die lewe is baie kort. Die dae van die Beverley Hills Hotel voel soos gister, en tog is dit 45 jaar gelede . . .

Wat is die wysste woorde wat jy nog ooit gehoor het?
My pa, wat brandarm was, het altyd gesê hy is ’n miljoenêr: “As ek my gesondheid en my gesin het, is ek ’n miljoenêr, want wat meer kan ’n mens van die lewe vra?” Ek dink baie terug aan sy woorde.

Het jy in ’n gelowige huis grootgeword?
My ouers het die sinagoge besoek, maar hulle was nie fanaties nie. Ek het dit ook by my kinders aangemoedig.

Wat maak van ’n man’n goeie pa?
Jy moet liefde kan gee. Ek het altyd geweet ek is nommer een in my ouers se lewe. Hulle kon my nie veel aardse dinge gee nie, maar hul liefde het my selfvertroue gegee. En my drie susters het ook altyd besef ons huis is vol liefde. Jou kinders moet kan staatmaak op jou raad. Hulle moet weet jy sien hulle ráák, jy glo in hulle en jy dink hulle gaan sukses behaal. En as jy iets talentvols in hulle raaksien, moet jy dit uitsonder en aanmoedig.

Watter verskil het geld in jou lewe gemaak?
Dit het my gehelp om my kinders lekker dinge in die lewe te laat ervaar. Om daardie rede moedig ek hulle ook aan om ambisieus te wees. Dit gee ’n mens kans om meer dinge te kan geniet. Maar een ding is seker: Geld waarborg beslís nie geluk nie.

Hoe voel jy oor ouderdom en die dood?
Dis onafwendbaar, so dit help nie om jou daaroor te bekommer nie. Ek is nie onnosel nie. Ek weet ek is nie 33 nie, selfs nie 43 nie. Ek is 73, maar ek is gesond en ek doen wat ek kan om gesond te leef. As gevolg daarvan kan ek nog baie dinge doen wat ek wíl doen – dinge wat jong ouens doen. Juis omdat ek so gereeld oefen. Gesondheid is baie belangrik, om aktief te bly solank as wat ’n mens kan.

Was instink belangrik in jou loopbaan?
Goeie instink het my na die hotelbedryf gelei. As dit nie daarvoor was nie, het ek nooit die Beverley Hills-projek aangepak nie. Dit speel ’n groot rol in sakebesluite. Maar jy kan nooit nét daarop staatmaak nie.

Wat is jou volgende projek?
Iets soortgelyks aan Sun City – ’n 500-kamer-oord – suid van Casablanca in Marokko. Daar gaan ’n gholfbaan wees, ontwerp deur Gary Player, nagklubs. . . En dit gaan vanuit niks, soos die Atlantis-projek, opgebou word.

Wanneer dink jy al hierdie goed uit? In die nag? Het jy g’n einde nie?
(Hy glimlag.) ’n Mens dink dit maar oor ’n lang ruk uit . . .

***

Sol het aanvanklik gesê ons kan net ’n halfuur gesels, maar uiteindelik word dit ’n driekwartier. Met die groetslag sê hy: “Ek hoor SARIE word 60! Dis nogal ’n mylpaal!”

Sol – the one and only.

  • gwen

    dankie vir die tips ek kon baie van U leer Sol.

  • Abri Jacobs

    Wat ‘n uitstekende en gebalanseerde artikel, wel gedaan. Insiggewend en prikkelend. Hoop hierdie tipe beruggewing sal voort bestaan. Ja, moet saamstem wat ‘n uitstekende mens as mens hom beter leer ken. ‘n Paar jaar gelede was daar baie negatiewe beruggewing en mens wat hom nie persoonlik geken het nie het en kon dalk die verkeerde opinie van hom gevorm het en dit maak die artikel so besonders – nuut, vars en baie realisties.

    Baie dankie dit is opreg waardeer

  • 8XGXxn bgvfhtbjpbey, [url=http://uufrnapcbgdu.com/]uufrnapcbgdu[/url], [link=http://ibbjjhbrdhpx.com/]ibbjjhbrdhpx[/link], http://nomoheadpfff.com/

  • NF5wQs xrbklwrjlipf, [url=http://hqzlukwolkdl.com/]hqzlukwolkdl[/url], [link=http://tmmsluyqrbil.com/]tmmsluyqrbil[/link], http://ezzyzcrxdfbd.com/

  • BbZQTG cgzmgzmhause, [url=http://cysbolftqubw.com/]cysbolftqubw[/url], [link=http://kkzxkygkbemr.com/]kkzxkygkbemr[/link], http://vfflppptumpv.com/

  • [url=#].[/url],