sr0912soliphilander10
Ons praat met

Soli Philander se hoop, vrese en lewenslesse

Soli Philander is pa, komediant, radiopersoonlikheid, TV-aanbieder, man . . . Hy kyk na binne.

EK HOOP

om mense te inspireer om voluit te leef. Geld, roem, erkenning en dies meer is elkeen op sy eie manier ‘n hol wins as dit jou van jou menslikheid vervreem. Ek wil altyd voel ek maak ‘n verskil en lewer insette wat tel, al is dit ook net op maniere wat saak maak vir my.

die sterk groepsidentiteite soos om Zoeloe, Afrikaans, Engels of Indiër te wees kan omskep word in ‘n sterker nasionale identiteit en dat om Suid-Afrikaans te wees eerste sal kom.

dat my vrou, Toni, altyd sal weet dat die baie wat ons al behaal het en wat ander mense aan my vermoë toeskryf, óns s’n is.

EK IS BANG

vir die donker sonder my vrou by my en ‘n lig wat brand! As kind was ek vrek bang vir die donker. In my tienerjare en as jong volwassene het ek paniekaanvalle daaroor gekry. Gelukkig het my vrou my daarvan genees. Wanneer ek ‘n aanval gekry het, het sy die lig aangesit en my laat asemhaal totdat ek kalm geword het. As kind het ek ook ‘n vrees vir motte gehad. Dié het ek met ouderdom oorkom.

vir onkunde.

om nie my vrese te oorkom nie. Om jou vrese te konfronteer is nooit so erg as om onder die juk daarvan te leef nie. Niemand het nog ooit getuig dat die konfrontasie self erger is as die konfrontasie wat hulle in hul verbeelding ervaar het nie.

WAT EK NOU WEET

Ek stem saam met die filosofie wat sê elke mens het iets om jou te leer. Elkeen het ‘n storie. Dis dalk my ouma se wysheid, of heel waarskynlik kom dit uit die volksmond.

Ek is een groot liefdadigheidsprojek. Ek is wie ek is omdat mense vir my omgegee het, hulle oor my ontferm het en my ondersteun het deur in my te glo.

Van kindsbeen af het my ouma gemaan: Die wiel draai. Hoe ouer ek word, hoe meer maak dit sin. Nou is jy onder, dan is jy bo. Die paadjies loop op en af.

My ouma het ook geglo as jy nie oor iets kan lag nie, sal dit altyd ‘n houvas op jou hê. Ek praat hier oor die “skakerings” van lag – van ‘n glimlag wat binnetoe lag tot ‘n skater wat almal betrek. Ek glo jou hart gaan oop wanneer jy lag, en die beste toestand vir jou hart is “oop”.

 

Daar is sekere veralgemenings wat waarhede word in die meeste moderne verhoudings. Maar ek glo die sukses van enige verhouding berus in die besef dat elke verhouding so uniek is soos die vingerafdrukke wat die twee mense saam op ‘n afdruk maak.

My skoonma, Eugene, was ‘n lig op hierdie aarde. Die moord op haar in 2006 was ‘n pynlike ondervinding vir my hele familie. Het ons dit verwerk? Ek weet nie. Wat ek wel weet, is die pyn gaan nie weg nie. Jy leer net om dit beter te hanteer. Dis moeilik om die woede te laat gaan, want die woede help dien as skans teen die pyn. My skoonma was ‘n vrou vol goedheid en grasie. Haar dood was vir ons ‘n les in treur en haar lewensgees was ‘n inspirasie.

Geduld is nodig. In hierdie tyd het ek en Toni aan mekaar geklou, saam geween, saam getreur, geluister, gesit en gepraat. In die tye wanneer ek gevoel het dat selfs ek haar nie kan bereik nie, het ek gewag dat sy terugkom na my toe. Ek hoop sy weet hoe lief ek vir haar is.

Geluk is iets wat jy voel. Daar’s nie woorde daarvoor nie, maar die Griekwas kom die naaste met “. . . skaam kry oor allie genade”.

Ek het een keer my hare ge-straighten. Ek is spyt daaroor, want ek het gelyk soos ‘n ystervarkie wat geskrik het.

My lewe wissel tussen uitdagings, avontuur en nou en dan ‘n bietjie van ‘n nagmerrie. My agtergrond, my voorkoms en my houding het op ‘n tyd teen my getel. My verhouding met Toni was teen die gety, ons het ‘n gesin begin toe ander nog sou wonder oor die waardigheid van die nuwe rigting in die land. Maar ek het vroeg besef net omdat iets nog nooit voorheen gedoen is nie, teen die reëls gaan van hoe dinge gedoen moet word, of nog nooit deur iemand soos ek gedoen is nie, dit nie beteken ek moet dit nie probeer nie. Ek probeer maar altyd om my bes te doen. Altyd.

Kersfees is familietyd. Hulle is my hart buite my liggaam.

  • http://fmjncdzomwcg.com/ zjfcvbntt

    D9DwZY fefhoefhiynx, [url=http://xbxmltvfptss.com/]xbxmltvfptss[/url], [link=http://fetuzhtndxtu.com/]fetuzhtndxtu[/link], http://sdfapmerkfqk.com/