sr0902kevin
Ons praat met

Kevin Smith se hoop, vrees en lewenslesse

EK HOOP

ek kan meer koersvas wees en altyd goed na myself omsien. Ek wil meer gereeld oefen, maar kry dit nie reg nie. Ek maak altyd verskonings oor hoekom ek nie nou kan gaan nie.

om my siekte te aanvaar. (Kevin het ’n hartkwaal.) Aanvaarding beteken nie ek gee op nie. Dit beteken ek omhels my siekte, verstaan watter invloed dit op my lewe het en hoe ek dit moet hanteer om ’n beter lewe te kan lei.

om wat ook al ek aanpak, goed te doen. Ek wil nie dinge halfhartig doen nie.

om te ontdek wat ek nóg alles kan doen. Ek werk as akteur, maar ek dink ek kan soveel meer doen. Ek sal meer as regisseur wil werk en selfs eendag ’n plek wil begin wat heilsame kos bedien.

my dogter, Genevieve (28), bly gelukkig in haar baie mooi romantiese verhouding. En my seun, Gabriel (13), behou altyd sy sin vir avontuur.

 EK IS BANG

ons kyk nie genoeg na die omgewing nie. Daar is soveel chaos in die wêreld, mense is te hebsugtig en selfsugtig. Ek is bang ons is besig om onsself oor die afgrond te dryf.

ek gaan meer nougeset word soos ek ouer raak. Dis so moeilik om vrydenkend te bly as jy oud is.

ek gaan nooit leer om nie skuldig te voel oor die foute wat ek al gemaak het nie. Skuld is ’n aaklige emosie. Jy moet leer uit jou foute en aanbeweeg.

om my sintuie te verloor soos ek ouer word, veral my sig.

WAT EK GELEER HET

Verandering gebeur in ’n oogwink. Ek het verlede jaar ’n Isidingo-kollega, Ashley Callie, verloor. Waardeer mense terwyl hulle nog in jou lewe is en laat elke oomblik saam met hulle tel.

Om tyd saam met mense in my lewe deur te bring is kosbaar. Dis fassinerend om te kyk hoe my kinders ontwikkel en die lewe ervaar. Gabriel is besig om ’n sterk, onafhanklike individu te word.

Jy leer baie lesse by jou kinders. Gabriel het my geleer die groot dinge maak nie saak nie. Die lewe gaan nie vir hom oor langtermyn-doelwitte nie, maar oor wat hy hier en nou kan ervaar. Moet nooit ophou om speels te wees en blydskap te ervaar nie. As volwassenes bekommer ons ons baie – met rede, maar ons moet kommer met speelsheid balanseer.

Ons moet ons kinders aanmoedig en hulle laat voel hulle is waardevol. Ek ondersteun my kinders se drome en probeer nie om my drome op hulle af te dwing nie.

Daar is baie ooreenkomste tussen akteur-wees en die lewe: Jy moet jou instink vertrou, dinge met oorgawe aanpak, jouself verbind tot wat jy doen, en bo alles – dit geniet! As mense sien jy geniet iets, is dit aansteeklik en put hulle ook genot daaruit.

Wees getrou aan jouself. Die enigste manier hoe jy dit kan doen, is om vas te stel wie jy is. Elkeen van ons is op ’n reis om onsself te ontdek. Moet nooit ophou om vrae te vra nie.

Min mense besef watter groot verantwoordelikheid dit is om kinders groot te maak. Elke ouer wil hê sy kind moet ’n impak op die wêreld maak, en jy moet ’n goeie rolmodel wees. Ek is nie die perfekte ouer nie, maar ek het my kinders geleer jy gaan foute maak, maar jy kan ook foute régmaak. Dit gaan nie oor volmaaktheid nie, maar eerder oor die behoefte en vermoë om te leer.

Dis eers wanneer jy jou gesondheid verloor dat jy besef hoe belangrik dit is. Maar dis nie noodwendig negatief nie. As jy siek is, leer jy om beter na jouself te kyk.

My pa is in sy 60’s en dis asof die lewe nou eers vir hom begin. Hy is ’n interessante man, omdat hy homself heeltyd uitdaag en nuwe dinge aanpak. Hy het my geleer solank jy opgewonde is oor die lewe, sal jou lewe opwindend wees.

Jy moet na jouself omsien as jy jonk is, want as jy dit eers doen wanneer jy oud is, is dit te laat. Ek wens ek het in my jongdae minder partytjie gehou en meer gerus.