Ons praat met

Sorina die Flooze se ma gesels oor haar kind se alter-ego

Sy meen Sorina is eintlik die wyse een van hulle twee.Haar geboortenaam is ook Sophia, wat wysheid in Grieks beteken. “Sy is ’n diep denker en haar sagte woorde verander my berge in molshope.”

Sorina en haar broer Janus was sport-uitblinkers met toewyding en deursettingsvermoë. “Sy het steeds hierdie eienskappe,maar bly ’n nederige mens.”

Mariana respekteer Sorina se andersheid en glo kommunikasie is die anker van hul verhouding. “Jou kind moet die vrymoedigheid hê om te weet dat sy jou altyd kan vertrou met haar hart, dat jy altyd daar sal wees en haar nooit sal oordeel of verwerp nie, selfs al stem jy nie saam nie of keur jy nie jou kind se dade of besluite goed nie.”

Sy erken hulle bots soms omdat hulle verskillend dink, maar sorteer dit gou uit. En Mariana is trots op die mens wat Sorina geword het. “Sy was, is en sal altyd my prinses bly, al is sy eendag tagtig en vol plooie.”

Dit was nie vir Mariana moeilik om Sorina se Flooze-karakter te aanvaar nie. “Ek is trots daarop dat sy ’n klein geleentheid in ’n toekoms vir haarself kon omskep.Ek weet mos wie en wat sy is en dat sy steeds haar ou self bly.”

Sy het die pad saam met haar kind gestap, van werkloosheid tot sukses, van klop aan deure wat toe gebly het tot waar sy die land aan haar voete het.

“Toe sy die nuus kry dat sy die Flooze-rol in 7de Laan moet vertolk, wat destyds veronderstel was om ’n eendag-rolletjie te wees, was ek saam met haar in die motor en het sy die rol oudergewoonte aan God opgedra en Sy wil daaroor gevra.”

Tussen haar eie mense is Sorina ’n uitbundige maltrap. “Maar eintlik is sy menssku, hoe vreemd dit ook al mag klink vir ’n eksentrieke Floozie.” Sorina self somhaar verhouding met die Flooze, haar alter ego, só op: “Hoewel ons in sekere opsigte hemelsbreed verskil, dink ek tog diep in my hart dat ek en elke mens daarbuite, hetsy daardie persoon dit wil erken of nie, ’n ‘Flooze’ in ons binneste dra wat soms ook net laf en kommin wil raak, soms net wil doen wát ons wil doen, hóé ons dit wil
doen en wanneer ons wil.”

Sy vertel die een ding wat sy wel by die Flooze geleer het, is om pretensieloos en maskerloos deur die lewe te gaan.