Ons praat met

Springbok Jan Serfontein se Lani nou model

Jy wil hom nie noodwendig op die rugbyveld teëkom as jy vir die ander span speel nie, maar Jan Serfontein het al vir ons sy sagte kant gewys.

SARIE.com het in Augustus 2015 berig oor hoe Jan die mooie Lani op haar pa Calla Scholtz (ook ’n oud-rugbyspeler soos Jan se pa, Boelie) se plaas verras het met hul verlowing. Daarna was hul troufoto’s in ons Mei 2016-uitgawe.

Nou pak dié paartjie die getroude lewe met sy uitdagings aan. En boonop het Lani ’n nuwe interessante loopbaan!

Blaai deur die galery

Ons eerste jaar as getroude paartjie

"Dis ongelooflik lekker! Ek het verwag dat dit moeiliker sou wees omdat ek uit my ouerhuis getrou het. Maar ek het nog nooit gevoel asof ek 'n fout gemaak het nie," sê Lani aan SARIE.com.

Lekkerste van getroude lewe

"Die lekkerste deel vir my sover is om te weet ek en Jan is 'n span. Dit wat ek nie het nie, het Jan – ons balanseer mekaar. Dis lekker om te weet daar's iemand wat jou ondersteun!" sê Lani.

Jan en Lani woon in Pretoria, waar Jan vir die Blou Bulle speel. "Ons het twee hondekinders, so ek voel darem nie te eensaam as Jan weg van die huis is nie. Ek's mal daaroor om ons eie huis te hê!"

Nuwe loopbaan vir Lani

“Ná skool was ek nie seker wat ek wou doen nie. Ek was op pad Amerika toe met ’n tennisbeurs, maar het besluit om eerder in Suid-Afrika te bly. Geleerdheid is iets wat niemand van jou kan wegneem nie.”

Slimkop Lani het ná haar BCom-graad nie gedroom dat modelwerk oor haar pad sal kom nie. “Een van my vriendinne, Nina Greyling, is ’n model by Boss in Johannesburg en het ná ’n paar glase wyn die voorstel gemaak dat ek ook aansluit. Twee dae later het ek ’n kontrak gehad!”

Lani Scholtz Jan Serfontein

FOTO Jacques du Preez

Sy werk nou al ses maande in die modelwêreld “Die lekkerste deel is dat dit my glad nie bind nie. Ek werk wanneer ek wil en het oorgenoeg tyd vir my huwelik. Ek kan saam met Jan toer wanneer ek lus het of vir my familie gaan kuier in die Kaap. Die mode-industrie is verskriklik interessant, ek ontmoet mense van oral en maak nuwe vriende.”

Lani Scholtz Jan Serfontein

FOTO Torné Velk

“Die slegste deel daarvan sal ek sê is die onsekerheid. Die feit dat iemand anders die outoriteit het om jou voorkoms te oordeel.”

Ook agter die kamera

“Fotografie is iets wat ek nog altyd wou doen, ek het net gewag vir die regte oomblik. Ek het via die modelwerk die fotograaf Jacques du Preez ontmoet en hy is nou een van my beste vriende. Alles wat ek weet van fotografie, het ek by hom geleer. Dis ongelooflik hoe die Here mense oor jou pad bring en deure oopmaak.

“ ’n Foto is soos om ’n pause-knoppie te druk in die lewe. Die feit dat jy ’n prentjie kan hê van ’n oomblik in jou verlede is so waardevol.”

FOTO Lani Scholtz

FOTO Lani Scholtz

“Ek wil net vir almal kan herinner aan die mooi in die lewe.”

– Lani oor fotografie

FOTO Lani Scholtz

FOTO Lani Scholtz

Raad vir ’n mooi vel en lyf?

“Ek het ’n baie sensitiewe vel, daarom gebruik ek net die basiese. Suiker is mos die wortel van kwaad en ek het ’n verskriklike suikertand! Ek probeer om geen suiker gedurende die week te eet nie en dan eet ons soos ons wil oor naweke. My en Jan se dieet is meestal hoë proteïene, lae koolhidrate. Dan gaan ek ook gim toe en doen Pilates. Ek eet ook niks ná agtuur die aand nie.”

Lani Scholtz Jan Serfontein

FOTO Jacques du Preez

Lees nou

Springbok Jan Serfontein verloof!

Kyk Nadia en David se troufoto’s HIER!

TROUFOTO’S: Andrea Streso en haar Hoffman se mooiste dag