casual_photo_5
Ons praat met

Stelio Savante, SA-gebore ster in Hollywood, gesels met sarie.com

Hy was al in TV-reekse soos Ugly Betty, The Sopranos, NCIS en Law & Order te sien.  

Hy het met Marguerite van Wyk gesels oor ‘n grufliek (byna soos Silence of the Lambs!) en oor geld wat hy onlangs help insamel het vir slagoffers in Haïti.
 
Jy het ‘n hele paar jaar gelede Amerika toe getrek en maak groot opgang daar – waarmee hou jy jou besig?
Ek woon die afgelope drie jaar in Los Angeles, maar was voor dit in New York vir sowat vyftien jaar. My dramaklasse, my dogter, wat nou drie jaar oud is, en my lieflike vrou neem al my tyd en passie in beslag wanneer ek nie besig is om aan ‘n rolprent te werk nie. Dit is ‘n baie besige jaar tot dusver, met verskeie films agter die blad. Sodra ek terug is in Los Angeles gaan ek soveel as moontlik tyd saam met my gesin deurbring voordat ek vertrek na Iowa.
 
Vertel ons so ‘n bietjie meer van jou nuwe projek, A Million Colours, wat jy nou in Suid-Afrika skiet.
Ek is baie opgewonde om deel te wees van hierdie film. Dit het ‘n fantastiese draaiboek en dit gaan oor die oorwinning van die menslike siel wat probleme oorkom in moeilike tye. Dit is ‘n rolprent wat drama, vriendskap, liefde, moeilike tye, geskiedenis, avontuur en veral meegevoel weergee. Die regisseur is Peter Bishai wat The Duelling Accountant gemaak het – ‘n onafhanklike rolprent wat baie pryse verower het. Die vervaardiger is André Pieterse wie se droom en visie als moontlik gemaak het aangesien dit op ‘n ware verhaal geskoei is en volg op ‘n vorige fliek – eLollipop. Dit volg die ware verhaal van die twee kinders uit eLollipop as volwassenes. Ons skiet orals in Johannesburg. Ons het pas begin met die projek, so dit is nog onbekend wanneer die rolprent uitgereik gaan word.
 
Jy het verlede week ‘n produksie in Hollywood aangebied saam met groot sterre ten bate van die slagoffers in Haïti – vertel meer daarvan? Jy klink na iemand met ‘n groot hart.
Dit is by die Geffen Playhouse in Los Angeles gehou – die mees gesogte teater aan die Amerikaanse Weskus. Ek het gevoel dat ons kunstenaars ‘n verantwoordelikheid het om die Rooikruis te help. Ek het met my bekende vriende gepraat en hulle het dadelik ingestem om te help.

Die verhoogstuk wat ons gedoen het was 110 Stories (dit het oor die tragedies van 9/11 gegaan) en ek het die hoofrol vertolk – ek het dit voorheen met mense soos die aktrise Susan Sarandon in New York opgevoer. Die ontvangs was ongelooflik. Die rolverdeling het mense soos Ed Asner, Katharine McPhee, Michael Welch van Twilight, Sophie Sinise, Maria Conchita Alonso, Nick Turturro, Diane Venora en ander bekendes ingesluit – besoek gerus www.geffenplayhouse.com/110stories.
 
Vertel meer van die riller/grufilm waarin jy die titelrol speel wat onlangs verfilm is – glo iets soos Silence of the Lambs?
Die titel van die rolprent is Poe. Ek gaan die res van die verfilming voltooi as ek terug is in Los Angeles. Dit gaan oor ‘n dokter wat gevonnis word en dan vrygelaat word vir nie-ernstige oortredings. Hy begin ‘n sopkombuis vir straatmense, maar hy gebruik húlle vir die kos! Hy is ‘n kannibaal. Hy nooi dan die bekende skrywer Jonathan Poe, broerskind van die skrywer Edgar Allen Poe, om hom in ‘n boek onsterflik te maak. Poe besef baie vinnig wat aan die gang is en probeer vlug, maar hy word gevang en sy eie lewe is in gevaar as hy nie die boek voltooi nie . . .
 
Hoe voel dit om terug te wees in Suid-Afrika? Wat mis jy die meeste in die vreemde, en kom jy gereeld kuier?
Dit is fantasties om terug te wees, en die land is omtrent vol energie voor die Wêreldbeker-Sokkertoernooi. Ek mis my familie en vriende baie. Daar is nie baie tyd om te kom kuier nie. My rolprent- en televisieprojekte hou my baie besig.
 
Hoe kry jy dit reg om ná al die jare in die vreemde nog so goed Afrikaans te praat?
Ek het baie Afrikaanse vriende in LA soos Christel Smith, Esta Terblanche en Neil Sandilands . . . wanneer ons skinder, is dit in Afrikaans.
 
Wat is die belangrikste dinge oor die vermaaklikheidsbedryf wat jy in Hollywood geleer het?
Dis moelik om een ding uit te lig. Jou reputasie is als en jy kry nie ‘n tweede kans om ‘n goeie indruk te maak nie. Dit is só belangrik om die eerste keer ‘n goeie indruk te maak; of dit nou vir ‘n oudisie is of ‘n ontmoeting met ‘n regisseur of vervaardiger, of selfs net vir ‘n besoek aan ‘n ateljee of TV-netwerk. Voorbereiding is alles. Wanneer ek op ‘n stel is of eers die werk gekry het, gee ek áls.

Met watter celebs skuur jy gereeld skouers in Hollywood?
Ek is baie goeie vriende met Gary Sinise van CSI New York. Hy is iets van ‘n mentor. John Voigt en Katharine McPhee is ook baie goeie vriende. Ons kuier en eet gereeld saam.
 
Watter projekte lê voor vir die res van die jaar?
Ek gaan Iowa toe om ‘n Tweede Wêreldoorlog-verhaal, Algona, te skiet, oor ‘n Duitse oorlogsgevangene wat in Iowa was. Ek is ook ‘n vervaardiger van ‘n film. My eie draaiboek – Trust in Her – lê ook voor. Ons is tans besig met die rolverdeling daarvoor. En dan werk ons ook aan die ná-produksie van twee films wat binnekort uitgereik gaan word: Finding Hope Now en What If. Ek is ook vandeesweek ‘n rol aangebied in ‘n nuwe Cuba Gooding Jr.-film, Hangar 14, met ‘n regisseur, Corrado, saam met wie ek al tevore gewerk het.
 
Hoe probeer jy elke dag leef?
Met oorgawe, en ek probeer om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie.