Ons praat met

Ster van die oomblik

7de Laan het pas SA kykers verras met ’n spog-modeparade in samewerking met Revlon. Dié keer raak die SARIE-span kreatief en ons tooi Dezi en haar mede-sterre in hul loopplank-uitrustings. Dis Franse flair, outydse grasie en subtiele elegansie.

deur MARTIE SWANEPOEL

foto LEANA CLUNIES-ROSS

hooffoto’s NADETTE CLARE-TALBOT

stilering CANDICE KANNEMEYER

Dezi praat oor sepies shows & kopskuiwe

 
1. 7de Laan is een van die gewildste TV-sepies. Sien jy jouself as ’n sepie-prinses?

’n Baie lomp prinses! Ek val gedurig oor goed. As kind was my eerste balletrol juis

om Pinocchio se eendmaatjie te speel. Op universiteit moes ek een keer in die arms

van my prins inhardloop … toe val ek in die orkesput.

 
2. Almal ken jou as Dezi. Pla die Dezi- en sepie-etiket jou?

Kykers dink Dezi het ’n stralekrans om haar, maar ek wil hê mense moet my as aktrise

sien. Ek weet ek gaan eendag sukkel om die Dezi-beeld af te skud. Ek is ook daarop

gesteld dat mense my as Elma Postma sien. Hulle loop jou sommer by op straat en klap jou tussen die blaaie en sê: “Haai, ou Dezi!” Dan stel ek myself gewoonlik voor met: “Ja, ek is Elma Postma.”

Ek gee nie om om handtekeninge uit te deel nie, want dis deel van die pakket as jy in ’n sepie speel, maar sommige mense oortree die grense. As jy in ’n restaurant sit met iemand, moet hulle besef jy wil dalk alleen wees. Soms loop ’n ma en kind tot voor jou en wys met die

vinger na jou: “Sien, dit is sy …” en dan loop hulle weer weg. Sonder om jou eens te groet of om te erken daar is ’n mens agter die karakter.

 
3. Het jou voorkoms baie verander vandat jy Dezi is?

Ek het ’n sagte, ronde gesiggie (sonder plooie) gehad voordat ek Dezi geword het! My gewig is effe afgeskud, my hare is gesny en ek moes vir die eerste keer in my lewe my wenkbroue pluk. Die vervaardiger Danie Odendaal en die medevervaardiger Annie Basson het my soos ’n Aspoestertjie met hul towerstaf aangeraak.

 
4. Om ’n sepiester te wees is sekerlik nie aldag maklik nie. SARIE was ooggetuie van ’n

konfliksituasie op stel. Hoe hanteer jy dit?

Ons werk by 7de Laan onder druk – elke dag. Hoewel ons ’n lekker span is, duik konflik en misverstande op. Ek glo ’n mens het twee opsies in so ’n situasie. Jy kan óf skree óf jy kan die saak kalm oplos. Op die dag waarvan jy praat, was daar ’n misverstand oor ’n rok. Ek het uitgestap en eers bietjie gaan nadink en kalmeer. Ek glo ’n mens moet eers nadink en dan

dinge uitpraat.

 
5. Maar ek hoor jy het eintlik ’n klein hartjie!

My hart is klein, maar ook groot. Ek hou nie van konfrontasie nie. Ek hou daarvan om die goeie in ander raak te sien en om iets vir ander te doen. Dalk sou ek ’n goeie verpleegster gewees het. Ek is dikwels bemiddelaar in konfliksituasies. Mense praat maklik met my oor hul probleme. En ja, ek kán die traankliere aan draai as ek moet!

6. Jy was onlangs by die KKNK in Chris Vorster se Haaks te sien. Hoe moeilik is dit om van ’n sepie na ernstige teater oor te slaan?

Die oorbrugging is ’n groot uitdaging. Daar kleef ’n “ongeloofwaardigheid”

aan sepiesterre se toneelspelvermoë, maar mense besef nie hoe veelsydig sepiesterre moet wees nie. Die verhoog is ’n ongeloofl ike adrenalien-inspuiting. ’n Mens repeteer, maar as jy op daardie verhoog stap, weet jy dit hang nou van jou af om die mense voor jou te vermaak.

Dis vreesaanjaend. Op 7de Laan kan jy ’n toneel oorneem, maar op die verhoog is daar nie kans om dinge oor te doen nie. Dis moeilik om in jou kop ’n skuif te maak van Dezi na die verhoog. By die KKNK was ek ’n ander karakter op die verhoog, maar buite het mense my nog voorgekeer as “Dezi”. Dis asof sommige mense nie kan verstaan hoekom my verhoogkarakters nie soos Dezi kan wees nie. Hulle is geskok as my verhoogkarakter vloek, want “Dezi is mos nie so nie”.

 
7. Is jy en jou familie na aan mekaar?

My broer, Ignatius, werk nou in Gibraltar. Hy was ook vyf jaar in Londen. Dis hartseer dat families nie meer Kersfees saam kan deurbring nie. Ek mis hom baie, want ons is baie na aan mekaar. Nou skryf ons lang briewe en e-posse en sien mekaar een maal per jaar as ons gelukkig is. Ek en my ouers kuier so gereeld ons kan. Hulle het my juis by die KKNK kom ondersteun toe ek in Haaks gespeel het.

8. Wat roer jou?

Ou mense lê my na aan die hart. Ek en ’n vriend het besluit ons gaan eendag nog vertonings by tehuise vir bejaardes aan bied. Daar is baie ou mense wat alleen in tehuise sit.

 
9. Wie en wat inspireer jou nog?

My ouma Bettie le Roux, wat op Wolmaransstad woon, is die een mens met wie ek oor my passie vir teater kan gesels. Sy is 80 en die familie het on langs al die dramas wat sy al geskryf het, laat bind. Sy was verlede jaar die oudste deel nemer aan die eisteddfod. Sy is altyd besig met shows.

 
10. Jy’s van die Postma-familie van Potchefstroom, ’n familie wat wemel van predikante.

Waar plaas dit jou geloof?

Ek het ’n spesiale band met God. Ek praat baie daaroor en vra vrae. Ek glo ons liefde

vir God, ons naaste en onsself is ’n anker. God se wil was daar in elke fase van my

lewe.

11. Jy’s nog jonk en vry. Dink jy soms aan nes skop?

Party dae. Party dae nie. Ek wil eendag rustig raak met ’n gesin, maar dis lekker

om alleen in my huisie in Johannesburg te bly. Ek hou daarvan om my eie ding te doen.

12. En hoe sal daardie ridder lyk?

Ek wens ek kan iets goeds uit elkeen van my vorige kêrels haal, want dit sal die ideale man wees. Dis nie so eenvoudig nie. Ek dink ’n mens weet instinktief as ’n man die regte een is.