Ons praat met

Ster van nuwe Afrikaanse fliek vertel wat háár inspireer

As dogtertjie het haar ouers vroeg reeds geweet: Carmen hou daarvan om ander te vermaak. So het sy begin met ballet- en dansklasse, en later ook sanglesse.

In haar tienerjare het sy haar talente op die skoolverhoog geslyp en selfs as deel van ‘n groep jong musikante deur Japan en Singapoer getoer.

In haar matriekjaar het sy die skool verlaat om aan die High School Musical Spotlight-kompetisie deel te neem en in 2008 het sy die rol van Gabriella Montez in dié gewilde tienerproduksie losgeslaan.

Hierna het sy nog nie weer teruggekyk óf stilgesit nie. Sy het al in verskeie verhoogproduksies soos Footloose, Mamma Mia! en Cabaret gespeel. Dan het Suid-Afrikaanse gehore haar ook leer ken as Chantelle in Getroud met Rugby en later as Lucinda Johnson in Binnelanders.

En toe slaan sy ‘n droomrol los, haar eerste hoofrol in ‘n rolprent: Lien in Lien se lankstaanskoene. Dit fliek gaan oor ’n gesin wat deur ’n moeilike tyd gaan en finansieel en emosioneel moet staatmaak op hul tienerdogter, Lien. Hierin speel Carmen teenoor groot name soos Elize Cawood en Franci Swanpoel.

lien se lankstaanskoene

Lien se lankstaanskoene se première is dié week en dit begin Vrydag 3 Mei in teaters draai.

Carmen is ook op die oomblik te sien in Jersey Boys – ‘n musiekblyspel oor die rock ‘n roll-groep van die 1960’s, The Four Seasons.

[box:full:red:both]

SARIE het met Carmen gesels oor haar rolle as sterk vroulike karakters én wat haar inspireer

[/box]

Wat is die uitdaging om ‘n karakter soos Lien te speel?

Ek het vir die eerste keer as ‘n rolprent-aktrise gewerk. Ek moes gou leer oor tonele skiet op kamera en hoe dit verskil van die verhoog. Dis waar die regisseur, André Odendaal, ‘n juweel en ‘n veilige bron vir my was.

André het vir my die rol aangebied en my deur die hele proses gementor. Hoewel dit ‘n uitdaging was om voor ‘n kamera toneel te speel, is ek op my beste as ek ‘n uitdaging het.

Dan was die rol ook baie emosioneel. Ek het uit my eie verhouding met my ouers inspirasie geput. Soos enige tiener het ek deur ’n moeilike tyd met my ouers gegaan.

Daar was ook ’n stadium, toe ek jonger was, dat ons finansieel deur ’n moeilike tyd gegaan het – ek kon dit gebruik in my vertolking van Lien, wat deur ’n soortgelyke (dog meer intense) situasie gaan. 

Carmen Pretorius

Wie inspireer jou?

Om saam met mense soos André, Elize Cawood, Hykie Berg, Marie Pentz en Franci Swanepoel te werk, is ‘n insiprasie op steroids! Hoe kan ek tussen sulke talentvolle mense wees en nie voel asof ek harder wil werk en meer wil leer nie?

My familie is al deur baie en my ouma en ma is ontsettende sterk vroue. My ma leer vir my en my twee sussies ook dié kwaliteite … so dit is in my bloed om feministies te wees!

Ek het ook 3 sterre, wat ons drie susters simboliseer, op my laat tatoeëer .


Ek glo in die krag van ’n vrou en dit was vir my ’n eer om ’n karakter te speel wat probleme oplos en nie net gaan lê as die lewe moeilik word nie.

Hoe hanteer jy jou rol in die musiekblyspel Jersey Boys?

My karakter, Lorraine, is net een van 3 groot vroulike karakters in die produksie. Ek speel ook 11 ander kleiner rolle. In die maniese twee-en-‘n-half uur het ek 18 verskillende kostuums en 16 verskillende pare skoene aan! 

Dit is moeilik om in so ’n karakter in te kom, maar omdat ons vir 5 weke  8 uur per dag gerepeteer het, word dit makliker …

Carmen Pretorius

Wat het jy geleer in jou tyd as professionele aktrise en verhoogkunstenaar?

Ek het begin werk toe ek in matriek was en ewe skielik het mense my begin herken van High School Musical af. Ek moes gou grootword om dié bedryf te hanteer. Ek het ‘n dikker vel ontwikkel en geleer om meer gemaklik in my eie vel te wees. Maar ek dink dit is ’n natuurlike ontwikkeling vir enigiemand tussen 18 en 22 jaar.  

Ek moes ook leer om myself uit my gemaksone te haal en om dapper te wees.

Ek het basies grootgeword en is besig om myself as jong vrou te leer ken …

Hoe lyk jou mooimaak-roetine voordat jy ‘n geleentheid moet bywoon?

Ek probeer soveel moontlik my eie hare, naels en grimering doen. Ek is baie lief daarvoor om myself en ander te stileer. Ek is dol oor die mode!

Ek is so opgewonde om te sê dat die legendariese Kobus Dippenaar my aantrek vir die première van Lien se lankstaanskoene. Dit is die eerste keer dat ‘n A-list celeb-ontwerper my aantrek!  

Maar vir my is die belangrikste dat as jy goed voel, sal jy goed lyk! Daarom kyk ek na myself en probeer gesond leef met positiewe gedagtes! 

Wat is jou toekomsplanne?

Baie mense vra vir my of die tema-liedjie wat ek vir Lien se lankstaanskoene opgeneem het, op ‘n album beskikbaar is. Dít sê vir my ek moet ‘n album opneem. Dit is een van my grootste drome!

So hopelik gebeur dit binnekort … en natuurlik wil ek in nog baie meer flieks speel.

Kyk HIERONDER na Carmen se musiekvideo, “Bietjie sterker, bietjie mens”: