sr1306steve03xcrop
Ons praat met

Steve oor sy top-10-liedjies en hoe sy kinders bygedra het

1. “Laaste Lag”

Soms verstaan ek mense wil alleen wees. Soms verraai jou oë ’n hart wat huil . . .

“Laaste Lag” sal altyd my belangrikste lied wees. Dit was een van my eerste liedjies in 1989 in my eerste jaar as voltydse sanger, en my eerste Afrikaanse probeerslag op my eerste album, toe nog ’n viniellangspeelplaat.

Ek was ’n jong dramastudent, verward, grootoog en optimisties. Maar my verwagtinge is oortref. Ek dink ek was êrens tussen die Musiek-en-Liriek-, Bles Bridges en Voëlvry-beweging. Ek is seker steeds daar. Dis ’n goeie plek. Die album, Desertbound, is reguit nommer een toe. Ek moes vir die eerste dekade van my loopbaan my albums Engelse titels gee om só die weggesteekte Afrikaanse rakke in CD-winkels te vermy, want die Afrikaanse oplewing sou eers ná 2002 kom. Die negentigs was stil en eensaam.

2. “Agter elke man”

Want daar’s net rêrig rykdom, as daar goud is in jou hart . . .

Ek het die lied vir die rolprent eers drie jaar nadat die reeks op TV gewys het, geskryf. Ek sal tant Stienie (vertolk deur Dulcie van den Bergh), Doreen van Langhans (Kim de Beer), Sarie van Langhans (Annelize van der Ryst), Joyboy (Tertius Meintjies) en Leana Jooste (Cyrilene Slabbert) seker nooit vergeet nie. Ek is ’n kind van die Franz Marx-universiteit en Antie Stienie-kollege vir akteurs.

3. “Pampoen”

Vat die trein na Bloemfontein En die 506 na Petrus Steyn . . .

“Pampoen” het die Groot Nostalgie afgeskop. Dit was skielik totaal aanvaarbaar om ons Boerekultuurgoed, ons verlange, ons prentjies en ons onthou te verwoord, soos in “Mannetjies Roux”, “De la Rey” en “Ons sal dit oorleef ”. Saam met “Soos bloed” was dít die tyd van 200 000 verkope per CD. Vandag sal dit ’n wonderwerk vereis. Die resessie en digitale aflaaibaarheid het die musieklandskap geweldig verander.

4. “Die kind”

Voor my hierdie oë. Elke oogknip vat jou te lank weg. Voor my hierdie mond. Wat woorde deur my hart kan vleg . . .

Ek het “Die kind” (op True To You) opgedra aan Devon. Hy was vier jaar oud toe dit uitgereik is op ’n CD wat ek saam met Dana Winner in België gemaak het. Hy en Benjamin het identies gelyk op daardie ouderdom. Ek het dié lied deur die jare gereeld uitgewys as my persoonlike gunsteling, bloot omdat dit so goed verwoord hoe ons ouers voel as ons na ons kinders kyk. Devon is vanjaar al 19 en speel rugby vir die Blou Bul-Tuks-Rugby-akademie.

5. “Ek ken jou soms”

Ek ken jou soms, in die nag, as ek bang vir môre wag. Ek ken jou soms, as ek huil, want jou weg is soms so steil . . .

Ek het “Ek ken jou soms” (op Only Me) geskryf toe my dogter Charissa twee jaartjies oud was. Sy was so pragtig, vir ’n pa wat uit ’n gesin van vyf seuns kom. En ek was so onhandig. Hierdie lied is ’n gebed vir kinders en was ’n yslike treffer in die vroeë 90’s. Die kinders wat hom geken het, is al almal byna 30 jaar oud. Charissa is nou 25.

6. “Boe!”

Spoke is ’n bietjie toe, kyk net wat gebeur as jy sê . . . Boe!

Oor die jare het ek Sebastian en Benjamin gereeld ingespan. Op die CD Laaities & Ladies het hulle “Twinkle Twinkle Little Star” sommer self gesing. Maar dis “Persvetkryt”, “ABC” en “Boe!” wat ek spesifiek met hulle in gedagte geskryf het. Ben kon altyd so grootoog in spanning sit en wag vir daai . . . BOE!

7. “FM Stereo”

 

Ek bly liewer niemand, as iemand sonder jou . . .

Armand het ‘n groot invloed gehad op my pop-wendings ná my CD Waarmaker. “FM Stereo”, “12 uur” en “Juliet” is liedjies waarop ek besluit het ná sy vars insae oor “hoe argaïes” sy pa soms kan klink. Nodeloos om te sê, ek was verras toe hy my kom vertel hý gaan begin sing vir ’n lewe. Ek hoor dit so baie, maar min mense wil of kan dit op eie houtjie regkry. Armand het. Hy het my gevra om te luister, maar nooit om te help liedjies skryf nie. Ek hou van wat hy doen. Maar dis hoeveel tyd hy maak vir mense om hom wat my die meeste beïndruk. My grootste voorreg was om “Pa en seun” soms saans saam met hom te sing, sommer by die huis of by ’n konsert. Dit vat aan ’n man.

8. “Kol op die maan”

As ek jou moet laat gaan. As ek jou moet verloor. Daar bly niks van my oor nie. Net ’n kol op die maan . . .

Soveel liedjies op my CD’s, baie ook onderbewustelik, het ek vir Janine [sy verloofde] geskryf. Ek wou nog nooit my hele kreatiewe fakulteit aan een mens wy nie, maar ek het omtrent. Sy is vir my so inspirerend dat ek dink die platemaatskappy moet haar ’n toelaag begin gee. “Kol op die maan” is tans die lekkerste liedjie om te sing op my konserte. Dis ’n groot oomblik wat ek in eenvoudige woorde vertaal het.

9. “Ons bloed bly blou”

Dis nie in wat ons eet nie . . .

Dis nie die eerste keer dat ek die Blou Bulle se eetgewoontes besing nie. My ander liefde het al verskeie Bul-hulde inspireer: “Maak die Bulle almal Bokke”, “Go Bulle Go”, “As jy horings dra” en nou die nuwe stampen- stoot-treffer “Ons bloed bly blou”. Ek het my digbundel Valkuns en die liedjie “Die Blou Bul” in dieselfde jaar bekend gestel, indien jy steeds twyfel dat ek jou verwardste sanger is. Maar dié is seker: ek is die dankbaarste sanger in Suid-Afrika!

10. “Ons sal dit oorleef”

My hart klop toktokkie, waar hy breek vir my volk. Voor die Kakie-kanon, of die kryger se dolk. Dit maak nie meer saak nie, waar ons ons beleef. Ons sal dit oorleef . . . Ná 25 jaar op toer het die lot, welsyn en pyn van my mense een van die jukke op my skouers begin word. My stam, my volk se taal, die vooruitsigte vir ons kinders en die regering se verlamming druk my op die hart. Wanneer ek dié lied by konserte sing, flits die name van oorlede Afrikaanse soldate op ’n groot skerm. Mense skrik as hulle hul familienaam daar sien. Dis ’n harde oomblik en mense huil sommer. Musiek kan jou só aanraak.