Ons praat met

Steve praat prontuit: “My lewe raak soms selfs te fiksioneel vir ‘n fliek”

Hy’s uitgesproke en omstrede, maar ook ‘n kunstenaar wat mense bly verras. en nou sien ons Steve Hofmeyr in SARIE se Afri-Spaans én in ‘n nuwe fliek.

Alles wat hy doen, doen hy met mening. Of dit nou sing of skryf is, omstrede uitsprake maak of toneel speel, soos hier, op die stel van die rolprent Platteland, waar Steve Hofmeyr die rol van ‘n baddie vertolk.

Sy hemelblou oë raak vriesend koud. Hy wórd Mike Ferreira, die badste ou wat hy nog gespeel het, sê Steve terwyl ons deur die gras naby Verkykerskop in die Suidoos-Vrystaat stap.

Die karakter met die spits grys baardjie is ware skuim, vertel hy.Tog het hy ‘n sagtheid wat ‘n mens soms dwing om hom te vergewe.

Op die agtergrond weergalm grofgeskut deur die klowe. Dis ‘n dramatiese dag op stel. Die fliek se romantiese held, gespeel deur Bok van Blerk, pak vandag Mike se trawante. Rolprentkenners meen dis Steve se beste rol nog.

Maar eers gaan ons hom op die verhoog sien saam met die Colombiaanse sangeres Marta Gómez in die Afri-Spaans-verhoogproduksie waarvan SARIE die hoofborg is. Dit word by die KKNK bekend gestel en toer daarna landwyd. Tussendeur is hy boonop besig om ‘n nuwe boek te voltooi.

Of, natuurlik, om vurige kommentaar te ontlok, soos onlangs weer toe hy getwiet het hy het sy kaartjies vir die konsert van die Ierse popgroep U2 in die Jukskeirivier gegooi omdat hy nie saamgestem het met die hoofsanger, Bono, se uitspraak oor die aanvaarbaarheid van struggleliedere nie. Daar was mense wat hom ondersteun het, maar ander het gedink hy het te skerp gereageer. (Hy het later gesê hy’t nie rêrig die kaartjies in die rivier gegooi nie.)

Die stof het nog nie gaan lê nie, toe onthul hy op Facebook hy en Janine van der Vyver – met wie hy jare lank ‘n verhouding gehad het, ook toe hy nog met Natasha Sutherland getroud was – is weer bymekaar.

Ná ‘n herrie destyds omdat Steve na Janine as “popster-afleiding” in die media verwys het, het sy hom gedagvaar vir kontrakbreuk en skadevergoeding weens beweerde beloftes wat hy aan haar gemaak het. Sy het ook ‘n boek geskryf oor hul verhouding, maar dis nog nie gepubliseer nie. Soveel dae, soveel dinge so is dit met Steve . . .

Lees verder oor die herrie met Bono, sy verhouding met Jenine van der Vyver en sy ‘badste’ rol nog…

  • Anna Hattingh-van Wyk

    Ai, Steve, jy’t nie net ‘n "duiweltjie in jou kuiltjie" nie, maar sommer ook in jou oe! Tog bly jy vir ons ‘n gunsteling. Ek en my laatlam is groot aanhangers van jou en kuier menige aande heel gesellig saam met jou goue stem in ons ore; veral as slaaptyd reeds gekom en gegaan het en nie een van ons kan slaap nie. Ons is maar almal vol nukke en grille en soms stout-goeters, maar joune is letterlik ‘n ope boek vir ‘n ieder en ‘n elk om te lees en te oordeel. Ons vergeet tog so go dat menigte van ons ook al daardie selfde spore geloop het. Ons sien uit na jou nuwe fliek en Afri-Spaans!