sep08praatmet1a
Ons praat met

Steve Hofmeyr se U-draai

Iets moes hom tot stilstand roep, beken Steve Hofmeyr. Die spore van die operasie wat sy lewe in Mei ná ’n derminfeksie gered het, is nog merkbaar op sy gesig. Hy lyk skraler en sy grysblou oë sit dieper as gewoonlik gesonke. As dit nie die ernstige infeksie was nie, sou dit sweerlik ’n hartaanval of beroerte gewees het, glo hy. Iets moes noodwendig in sy lyf ingee ná al die dinge wat tegelyk in sy lewe gebeur het.

Nadat sy jare lange verhouding met die fiksheid-instrukteur Janine van der Vyver in Januarie op die lappe gekom het, moes hy vir ’n vale vure doodslaan. Veral in sy huwelik. Dit te midde van ’n strawwe werkprogram, ’n nuwe CD, opmarste oor sake waaroor hy sterk voel, ’n bekgeveg met musiekpromotor Louis van Wyk, konflik met joernaliste . . .Te veel vir vlees en bloed. Nie dat skandale vir hom ’n nuutjie is nie. Hy beken droogweg dit bekruip hom byna daagliks. Maar dié keer kon hy ’n duur prys betaal het – Natasha en die kinders is vir hom te kosbaar om te verloor. En vanjaar was nie sy enigste annus horribilis nie. Hy het al ’n paar oorleef. 

In sy outobiografie, Mense van my asem, wat in Desember verskyn, vertel hy van die ander jare waarin die lewe hom hard op die skeen geskop het. Hy is bly hy het nie nou weer so diep gedaal soos in 1988 toe hy sy eie lewe wou neem nie. Toe het sy loopbaan maar nog net begin en hy was bang die koerantberigte oor sy buite-egtelike kind vernietig sy jong loopbaan. (Later was daar nog twee buite-egtelike kinders.) Ook 1997 was ’n gekke jaar waarin hy alles probeer wees het: sanger, aktivis, akteur, TV-aanbieder.

Hy het tussen vastelande gereis en alles met oorgawe aangepak. Ja, daardie jaar moes hy eintlik ook nie oorleef het nie, dink hy nou. Maar hy is dankbaar hy het vanjaar nog ’n kans gekry. In sy loopbaan en in sy gesin. Hy beskou sy Waarmaker-toer as van die beste werk van sy loopbaan. Die lirieke kom uit ’n rou hart. ’n Mens lewer die beste werk as jy seergekry het, sê hy.

Ná die operasie het hy ’n ruk lank in die bed gebly en aan sy outobiografie gewerk. Hy het besluit om rustiger te lewe, dinge te vermy wat die bloeddruk opjaag. Hoe langer hy stilte om hom het, sê hy, hoe lekkerder raak dit. Hy en Natasha het onlangs saam met die kinders by die see gaan uitspan. Hy leer sy vrou opnuut ken en sê sy sondes is nie die enigste rede hoekom dit nodig is nie.

Sy loopbaan en die geesdrif waarmee hy goed aanpak, is ook sondaars. Hy besef sy gesin het dikwels onder sy dol program gely. Op die vakansie het hy vir die eerste keer in sy huwelik saam met sy vrou onder die komberse geklim en TV gekyk. Hy weet Natasha is bang hy bly net om die kinders se onthalwe in die huwelik en nie oor haar nie, maar sy is verkeerd, benadruk hy. Vir hom is sy regtig die moeite werd om voor te baklei. Hy ontdek haar weer op ’n wonderlike manier.

Hy dink steeds sy is “skrikwekkend” mooi. Maar dis ’n harde pad wat hulle loop, sê hy. Hulle word getoets. Hy staan voor keerpunte in sy lewe. Hy maak seker hy wil in hierdie verhouding wees. En hy is gelukkig, verseker hy. Die vakansie was rustig en hy en Natasha was gemaklik met mekaar.

Hoe voel jy oor die toekoms?
Ek het ’n verskriklike U-draai in my lewe gemaak en het geen toekomsplanne nie. Alles wat ek beplan het, is skielik nie meer daar nie. Ek het selfs politieke aspirasies gehad, maar as jy jou vrou verkul het en vir soveel jare ’n verhouding met iemand anders gehad het, gaan niemand jou meer vertrou nie. Ek het verraad gepleeg en ek verdien die straf wat ek kry. So ek het koebaai gesê vir daardie droom.

As God jou kan vergewe, kan mense ook?
Mense en God is nie dieselfde nie. Ek het ’n vertrouensposisie by baie mense verloor en ek moet dit terugwen.

Jy baklei hard vir jou gesin?
Dis miskien nie ’n ding wat my vrou binnekort sal aanvaar nie, maar ek het nooit opgehou lief wees vir haar nie. Ek kan nie met baie vroue hieroor praat nie, maar ek kry baie mans wat sê: Ek weet presies wat jy bedoel. As jy nog nie vir twee mense lief was nie, is jy in die peanut gallery en kan jy nie saampraat nie. ’n Vrou het onlangs in ’n gehoor opgestaan en gesê: Meneer Hofmeyr, hoe kon jy? Toe sê ek vir haar: Mevrou, in hierdie saal sit net twee soorte mense. Dié met wie dit al gebeur het en dié met wie dit nog nie gebeur het nie, en lg. het die grootste bekke. Ek is net ’n gewone mens uit die eerste groep.

As jy ’n gedig vir Natasha kon skryf, wat sou dit sê?
Hier is ’n gebed wat ek een aand in Saal 6 gefluister en toe op my blog geplaas het:

Liewe Heer

Dankie dat U my so voorgetrek het.
Ek sou my seëninge kon tel as hulle net stadiger gekom het.
Maar dankie vir die kroon van U liefdadigheid, my seuns Sebastian (my koning) en Benjamin (my ster).
En as U dit in U hart kan vind om vir my vrou ’n beter man te stuur (net nie nou nie),
wat vir haar mooi rose pluk, belowe ek om ekstra tuinwerk te doen daar Bo.
Dankie vir elke mens en dier wat deur my lewe geloop het.
Ek persoonlik dink dis U forte: vreemde skepsels.
Kan ek vra dat U my strawwe versigtig sal uitdeel.
Straf my sag vir vloek en luiheid,
maar looi my vir elke geleentheid wat ek nie aangegryp het nie,
en die kere wat ek U dans in my ore nie gevoel het nie.
U ken my.
Ek vra U min.
En al gee U nie ’n jota of tittel meer nie,
die sterfling hier onder wat U peper met dankies,
is ek.
Steve

Jy sê jy is nog nie klaar met God nie?
Ek baklei vir ’n ander definisie van God. Dis nie ’n God wat kwaad raak of omgekrap is omdat Steve sonde pleeg nie. My verhouding met God het niks te doen met goed en kwaad nie. God het my deur die siekte gehelp. Hy het nog nooit van my skouer afgeklim nie. Ek het hom al afgeklap, maar daar is nie ’n manier om van Hom ontslae te raak nie. Hy sit trouens op albei my skouers. Ek het nie ’n duiwel wat aan die een kant sit nie.

As jy eendag terugkyk, wat wil jy sien?
Dat ek nie kanse laat verbygaan het nie. Ek kan maar hel toe gaan vir baie goed, maar nie vir verlore kanse nie. Ek wil gesien word as iemand wat die lewe soos ’n spons geabsorbeer het. Daar moenie êrens ’n oomblik wees wat ek nie aangegryp het nie. Maar uiteraard sal ’n paar van hulle skeef uitdraai.

Is dit nie wat jou mens maak nie?
Ek weet nie wat maak jou mens nie. Ook nie wat jou so ’n opportunis maak nie. Ek weet nie hoekom ek nie soos ander is nie. Hulle wil net 7de Laan kyk, dan is hulle happy. Ek kyk wat kan ek doen, behalwe 7de Laan kyk. Noudat ek my voorgeslagte bestudeer het, weet ek my pa was so en my kinders gaan ook so wees. Ek sien dit nou al. Hulle is soos sponsies en het ’n woordeskat wat skrik vir niks.

Was daar ’n tyd vanjaar dat jy alleen gevoel het?
Ek lewe ’n baie eensame lewe en die getal mense wat om my is, het niks uit te waai met hoe eensaam ek is nie. Ek het ’n kamer hierbinne waar ek baie happy is. So ’n one man band.

Hoe het jou verhouding met die mense rondom jou verander?
Die vir- en teen-groepe onderskei hulself altyd as die pôpô die fên strike. Ek is baie tevrede met wie my vrou, kinders, familie, vriende, werkkring en bewonderaars is. Ek het hierdie krisis oorleef danksy duisende wense en klein gebare, soos ’n kaartjie geteken deur die hele Blou Bul-rugbyspan en sketsies van ’n kleuterskool in Kaapstad. My seuns se laerskool het middagete vir hulle gemaak sodat my vrou weke lank langs my bed kon bly. My ma het deurnag uit die Vrystaat gejaag en my mediese span en medepasiënte was ’n lafenis deur meer pyn as wat ek gedink het ek kan oorleef.

Kyk jy anders na jouself?
Behalwe dat ek nie oornag van sekere beginsels sal afskeid neem nie, is niks meer dieselfde nie. Soms hou ek skielik op met praat, of huil in simpel flieks. Ek’s ’n verleentheid vir die alpha male.

GUNSTELINGE

AKTRISE Ek’s ‘n ou Bette Midlergroupie
 

AKTEUR Tim Roth, Gary Oldman, Nick Nolte
 

BOEK The Fountainhead deur Ayn Rand; The Outsider deur Colin Wilson;
High Fidelity deur Nick Hornby
 

FLIEK Saving Private Ryan; Empire
of the Sun
; Shadowlands; Heat;
The English Patient
 

KOS Lamstjoppies oor die kole, soetpatats, melkkos
 

DRANKIE B&C (vir rugby); Jack Daniels (kuier); grenadellasap
 

PLEK Tuis, New York, Amsterdam,
Jacobsbaai
 

GOUE OOMBLIK Alles van uitverkoopte Super Bowls tot kindergeboortes, Joan Collins-soene en Blou Bul-oorwinnings

 

Was jou siekte ook ’n emosionele reis?
Ek het twee keer heeltemal moed opgegee. Maar tog dag twee al uit die bed geklim en gaan bad, drup en al. Dag vier het ek my verpleërs leer kitaar speel en daardie aand ’n konsert in Saal 6 gehou. Ou mense, gebroke mense, seer mense en kinders het met hul binneaarse voeding in die gange afgestap gekom. Een tannie het stadig om die draai gekom met: Is that Roger Whitaker? I thought I’d died and gone to heaven. Ek is deur meer emosionele stasies as waarvoor ek gedink het ’n mens kapasiteit het. Maar daar was baie pasiënte met wie dit slegter gegaan het as met my.

Is dit moeilik om nou rustiger te raak?
My stokperdjie is aktualiteit. My hart is liefdadigheid. My markplein die blog. My metodes militant. En my desibels hemelhoog. Driekwart van my is dood toe ek dit alles moes prysgee. Maar daar is heeltyd nuwe geleenthede. Ek drink skielik baie tee en twee katte slaap op my stukkend gekerfde maag. En ek haat eintlik katte.

Het die slegte publisiteit jou gewildheid beïnvloed?
Waarmaker het al meer as vyf keer goud gekry. Dit kan wees dat ek en my ondersteuners as gewone mense saam al te veel moes trotseer om te vinnig te oordeel. Dit sal nie die eerste keer wees dat ons daar is vir mekaar nie. Ons het ’n jaarlikse krisis wat ons deurdraf. Ek sê altyd krisisse kruip teen my been op en byt vas op ’n baie sensitiewe plek . . . amper uurliks. So ek hoef nie daarvoor te soek nie.

Hoe vorder die outobiografie?
Ek het die meeste hoofstukke voltooi terwyl ek bedlêend was. Ons probeer dit nog van 400 na 300 bladsye verkort, terwyl groot palawer heers oor my keuse van foto’s wat geplaas moet word. Weet jy dat ek in Playgirl was in 1994? Eish.

Wanneer gaan dit verskyn?
Voor Kersfees word my Kristofferson-DVD bekend gestel en dan Mense van my asem. Albei is sentimenteel, nostalgies en outobiografies.

Skryf jy dit alleen?
Ek en my twee katte, Stoffel en Sarah. Verder haal ek gereeld vriend (en vyand) daarin aan, soos Paul Buckby, Karin Hougaard, Anton Goosen, Annelize van der Ryst, Deon Opperman en Brümilda van Rensburg se interessante bydraes. Christel Smith vertel toe sommer hoe ek haar destyds gelos het. En vir wie.

Kan jy mense ’n voorsmakie gee van wat hulle te wagte kan wees in die boek?
Daar is mense wie se asem my laat lewe en ander wie s’n my laat sterf. Daar is mense wat ek lewe gee met myne en ander wie ek daarmee versmoor. Ek moet oor almal skryf vir die outobiografie om sy geestelike en terapeutiese doel te dien. Die spell checks en moral checks is die leser se probleem. Ek is genadeloos met myself omdat ek baie min daarin gaan probeer verdedig. Ek gebruik skuilname vir dié wat anoniem wil en móét bly, terwyl die dinge binne my huwelik privaat bly soos altyd. Maar ek gesels gemakliker oor die rock-’n-roll-losboljare. Die moeiliker hoofstukke is dié waarin ek my politiek en teologie probeer opsom – en sin probeer maak van wat ek die afgelope paar jaar aan my vrou gedoen het.

Daar word ook ’n buite-biografie oor jou geskryf?
Terwyl ek my familie in die oë kan kyk, gee ons min om oor die spekulasie van ander biografieë. Alles wat vir my belangrik is, verskyn in Mense van my asem. Ek kan nie méér ontbloot word as wat ek reeds is nie en my vrou kan nie méér seergemaak word nie. Ons moet opstaan. Saam, indien moontlik, maar beslis sonder die hulp van die parasiete en nagapies in ons lewens. Ek voorspel ons sal dieper as ooit in ons skulpie kruip en ’n nuwe heelal daar ontdek. En ek glo my vennoot daarin sal Natasha wees.