jun07voorbladartikel1a
Ons praat met

Steve – vlymskerp vegter

Sit hom in ’n wit pakkie met ’n effense Elvis-kraag, stop hom ’n swaard in die hand en kyk wat spring uit – Steve die sanger, Steve die akteur of Steve die politieke aktivis wat opmars teen misdaad Uniegebou toe?

Steve Hofmeyr laat hom nie sommer in ’n boks druk of onkant vang nie. Hy’s ewe tuis in die wit skermpak as in ’n elegante swart pak vir SARIE se voorbladfoto, die strikdas nonchalant los om sy nek. En een ding is duidelik vir almal: Hy’s mal oor sy vrou, Natasha Sutherland, wat saamspeel in haar eie wit skermpak.

As hy in haar oë kyk, ontdooi hy reddeloos. Maar hy laat hom nie rond-order voor die kamera nie. Sy lyftaal is dié van ’n man wat al ’n paar bloutjies met die media geloop het. Hy hou sy sagte plekkies toe, trek eerder eerste sy swaard, altyd op sy hoede . . .

Maar later op die stel van 7de Laan, waarin hy vanaf 14 Mei te sien is, is hy toeganklik. Jy kry die gevoel dié man wie se geskiedenis 11 bladsye op die internet-ensiklopedie www.wikipedia.co.za beslaan en 129 000 trefslae op Google kry, sal regtig belang stel én verstaan as jy hom vertel van ouma se rumatiek. Dis lekker, sê hy oor 7de Laan. “Dis wonderlik om weer mense soos Annelize van der Ryst raak te loop. Sy was die héél eerste mens met wie ek my heel eerste toneel gedoen het (as breker Bruce Beyers) in Agter elke man.

“En nou, twintig jaar later, kry ons die geleentheid om weer saam te werk!” Halfpad deur sy ode aan Matrone kom wens Francois Lensley (Marko) hom geluk met ’n fight wat dié dag verfilm is. Wat se fight? “My karakters stry of vry net altyd, hulle is nie diep nie,” antwoord Steve met ’n laggie wat dit regkry om ander dieptes en dimensies van hom as mens te suggereer.

“Ek geniet my werk. Ek het ’n lekker momentum en ek het genoeg geld gespaar dat ek my nie hoef te bekommer nie.” Op die oomblik werk Steve ook aan die Neil Diamond/
Beautiful Noise-
vertoning. Daarna is dit die Kris Kristofferson-show, en voor jy kan sê “outobiografiese musiekblyspel”, is dit Deon Opperman se Dis hoe dit was, waarin Steve
homself in die laaste 40 minute speel. Sy vrou, Natasha, wil nie haarself hierin speel nie, sy wil eerder tyd saam met hul twee seuns deurbring. Hóé kry hy alles ingepas? Ná ’n dag op stel en ’n aand se vertoning is hy boonop ’n bobaas-blogger (stevehofmeyr.co.za/blog/).

“Ek kom met min slaap oor die weg, en ék beheer my dagboek. Boonop is dit wat ek doen nie vir my werk nie, maar obsessies.” Maar met alles wat hy vir almal is en moet wees, moet sy gesin dikwels die spit afbyt. Maar hy werk nie verniet soos ’n slaaf nie. Hy doen dit ook sodat hy soos ’n koning kan lewe. “Ek is gelukkig in ’n posisie om te sê kom ons gaan vir ’n maand weg. Dan is dit kwaliteittyd, 100% vir my vrou en my seuns.”

 

Dis nie vir my werk nie, dis obsessies

 

Nou wat is die ding met Zuma om die braaivleisvuur? En wat is die ding met De la Rey? Kom jy om die boere te lei? Steve het sy antwoord gereed:  “Met Zuma gaan dit vir my daarom dat hy iemand is wat so passievol is oor sy kultuur soos ek is oor myne. Ek glo dié soort interaksie is ’n noodsaaklike stap nou, in hierdie donker nag van die Afrikaner-siel.” Hy vertel hoe charismaties die gewese adjunk-president is, maar hoe argaïes oor baie dinge soos gays en vroueregte.

“Ek het vir hom gesê ons sal nog lank moet praat voor ons iets kry waaroor ons saamstem.” Weer daardie laggie: “My vrou sal my bliksem as ek nie vir vroueregte opkom nie!” De la Rey, reken hy, is maar net een van die tien simptome van wat die Afrikaner pla, die kernprobleem omdat ons volkie reeds ’n dekade lank voel daar’s niemand wat regtig luister nie.

“En kom jý om ons te lei?” vra ek weer. Die laggie kry ’n flets van die oog by en hy ontwyk my vraag met ’n gewigtige antwoord: “Ek beoefen sekulêre politiek – dit gaan vir my oor ’n beleid eerder as ’n persoon of ’n party. Maar ek voel tog die druk en die verantwoordelikheid. Die punt is, ek is nog in Suid-Afrika, want ek het hoop. Ek baklei hard teen die keersy van die ou munt. Ek doen alles vir die toekoms van my kinders.”

Nou as jy nie die nuwe De la Rey wil wees nie, watter fotoboekie-held sou jy wou wees? Skielik lyk Steve soos ’n stout seuntjie: “Ek was eintlik ’n groot Marvel Comics-boffin. Ek het ook gehou van Kaptein Duiwel Saboteur, maar Ben Brand (Ruiter in Swart) was my man.”

Op hierdie diepsinnige noot, die vraag: “Watter filmrol sou jy kies wat nie net vlak of vryerig is nie?” Hy antwoord sonder huiwering: “Iets fisiek uitdagends, soos Elephant Man, of ’n rol soos Jack Nicholson s’n in A few good men, waar alles in hierdie blok gebeur.” (Hy wys na sy gesig.)

Maar dis nog nie die einde van die diep seun nie. Steve het jare lank teologie verslind in sy poging om die Afrikaner-siel te verstaan, selfs ’n kursus of twee by Unisa geloop. Hy is obsessief oor poësie, soveel só dat hy Amsterdam toe gevlieg het om by Elisabeth Eybers te gaan tee drink en Kaapstad toe is om vir Sheila Cussons te ontmoet. Want, sê hy, hy het ’n ding oor sterk vroue wat standpunt inneem teen die rol van die patriarg.

Mense wonder dalk wie Steve sien as hy in die spieël kyk. Ek het, voor ek hom ontmoet het, ook gewonder waar en wanneer die regte Steve gaan opstaan. Ek weet steeds nie. Hoe kán ’n mens weet ná ’n uur se gesels waarin die man oop is en dit tog regkry om nie veel te verklap nie? Maar ek het ’n vermoede hy slaap rustig in die wete dat hy nooit sy sin vir verwondering sal verloor nie . . .

En dat die vrou op die kussing langs hom – soos hy ons met amper nederige bewondering by die fotosessie vertel het – net so mooi lyk wanneer sy die slaap uit haar oë vee as wat sy gelyk het toe sy haar hare agteroorgegooi het vir die SARIE-kamera . . .

Dis hoe dit is met Steve – jy kan met hom gesels oor De la Rey tot Derrida, en ewe lekker oor rooi Sparletta-koeldrank of KWV Shiraz. Dis nou as jy van hom hou en hy van jou. En as jy nie van hom hou nie, maak dit nie ’n verskil aan hom nie. Hy haal die Nigeriese digter Ben Okri aan: “You don’t get poetry in heaven or hell, you get it where the fabric of the two meet.” En ’n mens kry die gevoel dis waar Steve Hofmeyr hom dikwels tuis voel, nie tussen swart of wit nie, maar in die skakerings van grys. “Ek hou van die ding van the journey is the destination,” sê Steve.

In die spervuur: Steve, wat is jou antwoord?

SARIE het bekendes (en lesers) ’n kans gegee om enige vraag aan Steve Hofmeyr te vra. Trompop. En sy antwoorde verras jou dalk . . .

Anton Goosen (sanger)
Wat sien jy as jy soggens in die spieël kyk?
Steve: Lankal vrede gemaak daarmee. Ek’s darem ook tevrede met ’n paar dinge wat ek nié sien nie.

Bianca la Grange (Idols-sanger)
Wat is die swakste van jou swak punte?
S: Om dinge uit te stel of weg te rasionaliseer.
Sal jy ooit ’n CD saam met my maak?
S: Hê-hê, enige tyd.

Clinton Lubbe (fotograaf)
Daar’s R500 op die tafel. Wat gaan jy maak vir aandete en wie’s jou gaste?
S: Ek sou graag ’n paar snobs wou uitnooi vir ’n bunny chow. R500 beperk die aansitlysie, nè? Ek hou van tema-aande. ’n Oud-omroeperaand, of ’n Formule 1-resiesaand. ’n Famous-kokke-aand of mans-in-drag-aand. Ek sal moontlik nie binnekort ’n krieketaand hou nie.

Coenie de Villiers (sanger en Kwêla-aanbieder)
Wat is die titel en trefreël van jou outobiografie?
S: My reis was my bestemming. Is dit cheesy? Oukei . . . Granate van onskuld.

Franz Marx (Egoli-baas)
Beantwoord nie publisiteitsvrae nie.

Elana Afrika (TV-aanbieder)
Ek was daar toe jy ’n Sama-toekenning gekry het en die gehoor nie heeltemal waardering daarvoor gehad het nie. Ons Afrikaanses het trouens gevoel daar is vir ons gelag. Wat sou jy in ’n toespraak daaroor sê?
S: My wraak-toespraak het so met die jare korter geword. ’n Fris Afrikaanse middelvinger sou ook doen. Intussen is daar darem al ’n rits meer Afrikaanse kategorieë, so dit was moontlik nie vir niks nie.

Naas Botha (rugby-kommentator)
Jy kan my maar ’n mis gee op dié een.

Niekie van den Berg (RSG-omroeper)
Gee my raad oor hoe om liefde en haat van luisteraars reg te bestuur en nog soos jy aan die wenkant te bly.
S: Hê-hê. Coenie se advies aan my destyds was om nóóit op te hou luister nie. Maar nou ja, ek het ál die drek gehoor waarna jy moet luister, ou Niekie. Geduld het seker maar te
doen met die wag voor jou mond.

Franci Swanepoel (aktrise en Fiesta-vervaardiger)
Wat sal jy doen as jy môreoggend wakker word en jy is die WP se losskakel en speel teen die Blou Bulle op Loftus?
S: Ek sou doen wat alle WP-losskakels doen. Te bang wees om hulle te tackle.

Izak de Villiers (digter en rubriekskrywer)
Jammer, maar vir Steve Hofmeyr het ek niks te vra nie. Ek stel nie in die minste in hom óf sy doen en late belang nie.

Murray la Vita (joernalis)
Knip jy jou toonnaels of laat jy dit doen? Wanneer laas het jy gehuil en waaroor?
S: Ek huil deesdae te maklik. En nee, ek doen al daai metroman-dinge self.

Jackie Nagtegaal (skrywer)
As dit is hoe dit is, hoe is dit met Steve?
S: Ah! Nog ’n Anton Goosen-vraag. Ek het die groot eksistensiële leemtes reeds vroeg kon toestop, soos Eybers maak in “Uitsig op die kade”.

Deon Maas (Idols-beoordelaar en rubriekskrywer)
Ek wil glad nie vir hom ’n vraag vra nie.

Leon Schuster (akteur en rolprentmaker)
Watter pampoen in SA se “gai” sou jy graag die hardste wou skop met daai omstrede boots van jou, en hoekom?
S: Deon Maas. Ek het al vrede gemaak met al my geweldenaar-gene, maar daar’s net een manier om met so ’n wanna-be te redeneer. Ek skuld hom reeds.

Jak de Priester (sanger)
Wat het geword van die diep poëtiese kant van Steve wat ’n mens gesien het, bv. met jou digbundel, Valkuns? Gaan ons van nou af net groot Neil Diamond- en Toeka-konserte sien?
S: Jak, jóú kategoriefout. Daar’s altyd plek vir diep poëtiese dinge, maar nie oral nie. Ek kies wanneer en verwar nooit my oomblikke nie. Die drang om cool, trendy en diep te wees, is uncool.

Pierre Spies (Blou Bul-rugbyspeler)
Hoe hou jy jouself geïnspireerd?
S: ’n Diepliggende verwonderingsin. Mikroskopiese detail inspireer my. Soos ’n senter wat aanslaan . . . hê-hê.

Johrné van Huyssteen (Lid van Ddisselblom)
Hoeveel geheime steek jy nog weg?
S: Baie. Daagliks. My binnekamer se mure is toe onder die plakkate wat die kleur is wat my karakter vorm. Of het jy gedink alles wat op LitNet gesê word is . . .  álles?

Joan Hambidge (digter en akademikus)
Hoe gebeur dit, Steve, dat jy wat ’n intelligente, belese en sensitiewe mens is, so deur die media verkeerd verstaan word?
S: Ek word eintlik goed verteenwoordig deur die meeste media. Dis net die pers wat al ingee weens hitte-uitputting in hul pogings om my te probeer inlyf by hul manufacturing consent en radikale hersenskimme. Ek weet nie of die media sensitiewe, intelligente mense voortrek nie. Hulle doen dit beslis nie met jóú nie!

Rolanda Marais (aktrise)
As jy enige ander nasionaliteit kon wees, wat sou dit wees, en hoekom?
S: Duits en Joods. Ek lewe in verstomming oor hul kulturele bydraes tot die wêreld, veral gejukstaponeer teenoor mekaar.

Ezelle de Plessis (SARIE-leser, Kaapstad)   
Hoe spandeer jy en jou gesin ’n “normale”rustige aand by die huis?
S: Ek skryf blogs, my vrou slaap voor die TV en die kinders bou Wendy-huise met die sitkamerstel se kussings.

Marida Swanepoel (toesigvervaardiger: drama, M-Net)
As jy een persoon in die wêreld – toe of nou – kon wees behalwe jouself, wie sou dit wees, en hoekom?
S: Ek sou graag ’n dissipel wou wees, net om ’n ware pro in aksie te kon sien. As ek Danie Odendaal kon wees, sou ek meer sekstonele tussen Steve Hofmeyr en Paula geskryf het.
Wat is die een ding wat jy graag wil hê jou kinders moet eendag van jou onthou?
S: Dat ’n ou alles moet doen met die bronne tot jou beskikking, en dit sluit in die vreemde kaarte wat aan jou uitgedeel word. Ek het ook onlangs ’n pieperige boomhuis
gebou, waaruit hulle nie kan bly nie. Ek’s DIY-gestrem. Hoop hulle onthou.

Minki van der Westhuizen (model)
Hoe kry jy dit reg om jouself deur die jare te vernuwe en ná 20 jaar nog steeds so gewild te wees?
S: Ek doen eintlik verbasend min. Met ouderdom, soos jy sal sien ná 30, raak die opsies om te vernuwe elke jaar skraler. ’n Mens kan jouself nie gewild “máák” nie, omdat mense nie meer val vir te veel fake nie.

Karen Zoid (sanger)
Ek het al agtergekom dat jy omtrent al jou bewonderaars se name ken. Hoe kry jy dit reg?
S: Het ek so min? Nee, ek stel elke aand selfs ou vrinne teleur met die verkalking van die frontale lobbe. Maar as jy al so lank ondersteun word deur dieselfde wonderlike mense, raak hulle meer as bloot konsertgangers.

Rian van Heerden (TV-aanbieder)
Ek het niks meer oor om vir Steve te vra nie. (Steve was onlangs ’n gas op sy kykNET-program.)

Max du Preez (joernalis en kommentator)
As Afrikaans die taal van jou hart is, hoe kry jy dit reg om net in Engels met jou kinders te kommunikeer?
S: Watter kinders, Max? My kinders by Afrikaanse ma’s praat Afrikaans en by Engelse ma’s, Engels. Ek kommunikeer in albei tale met Sebastian en Benjamin, maar sal hulle nóóit dwing om hul moedertaal te verloën nie.

Is dit nie omtrent die intiemste gesprek wat’n man kan voer nie – met sy kinders?
S: Die intiemste gesprek wat ’n vader met sy kinders kan voer, het niks met die medium te doen nie. Dit het iets met eerlikheid en liefde te doen. Watse Sotho-soetgoed rook jy
nou weer daar op jou plaas, Max?

Lag jy nie soms stilletjies in jou mou vir die Afrikaners wat jou, ’n popsanger, nou as ’n volksleier begin sien nie?
S: Nee, ek lag baie minder vir my mense as jy.

Neels van Jaarsveld (akteur)
Hoekom is jy so vrugbaar?
S: Ek het geen advies vir ouens wat blanks skiet nie, jammer, Neels. Neem aan.

Vinette Ebrahim (aktrise en stigterslid van Artists Against Crime)
Ons het die praat gepraat en die loop geloop (op 1 Mei die optog van Akteurs teen Misdaad na die Uniegebou). My gevoel is dat dit nooit moet ophou nie. Ons moet rollende protes-aksie aanmoedig (natuurlik die soort wat wettig is) tot ons tevrede is met ’n beheerde toestand, wat die regering instel. Wat dink jy?
S: Ja. Solank jy ’n saak het en apatie jou nie verlam het nie, is hierdie tradisie van strate toe gaan ’n doeltreffende manier om onmin te demonstreer. Ek weet nie of die regering altyd luister nie, maar die media werk saam en ander Suid-Afrikaners leer om hul frustrasie te verwoord.

Shaleen Surtie-Richards (aktrise)
Hoe lyk dit, Steve, wil jy nie maar president word nie?
S: Hê-hê, moenie dat Max jou hoor nie! Sal jy my sosiale raadgewer wees? Noudat jy praat, dis ’n briljante idee om daai klomp “kalatz inni Kaap” bietjie wakker te laat skrik. Wat sê djy?

Jacinda Louw (model en Survivor-naaswenner)
Ek wil net graag weet waar op aarde kom daardie Crocs vandaan? Ek het nog altyd gedink jy het ’n goeie dress sense. En behalwe vir die Crocs, wat is jou gunsteling-slenterdag en -kleure?
S: Ja, ek’s ’n hengse Crocs-fên. Jy moet teen dié tyd weet, “once a convert, always”. Nee, wat, ek het nooit enige dress sense gehad nie en eintlik maar steeds nie. Ek hou van die vaal, grys en blouerigheid van denims. Daardie diep-die-bliksem-in-donderweer-blou is in elk geval my gunsteling-kleur. Ek lewe ook in my Camo-Chino’s.

Jan-Jan Joubert (joernalis)
As jy nie omgee nie, gaan ek nie antwoord nie. Dit was ’n laagtepunt in my lewe. (Steve het hom op die KKNK te lyf gegaan oor ’n ander verslaggewer se gewraakte opmerking oor sy skoene.)

Terblanche Jordaan (predikant)
Wat is jou vraag, Steve? Want ek hoor baie antwoorde, maar wat is die vraag . . .
S: Hê-hê. Sien, dis hoekom ek jou laaik. Omdat die lewe vir my die doel van die lewe is, het ek eintlik nog nooit my heil gevind by die antwoorde nie. As ewige skeptikus hou ek
van God se tattoo op my voorkop. Dis ’n moerse vraagteken en ek los hom net daar.

Het die Afrikaner só desperaat geword dat ons na enigiemand sal gryp om ons as minderheidsgroep se identiteit te probeer beskerm?
S: Sommige, ja. Ek kan dit begryp. Hoekom kan jy nie? Jy verwag seker nie ons kan jou aanstel om hulle te verteenwoordig nie?

Milan Murray (aktrise)
Het jy wenke om ’n laaitie groot te maak?
S: Nee. Ek weet egter dat ons beter toegerus is om natuurlike ouers te wees as wat ons dink. Hoewel dit nie altyd so voel nie, is die meeste van wat jy doen binne jou opset, en uit liefde uit, moontlik taamlik geslaagd. Of liewer, waarborge enige kant toe is maar min. Probeer net jou bes.

Rouxlè Freysen (Matie)
Wat dink jy is die grootste struikelblok vir jong Suid-Afrikaners, en het jy enige raad hoe om dit te oorkom?
S: Om vas te haak by wat ons voorouers wil hê ons moet wees. Soos hulle. As jy nie kan verstaan dat elke nuwe generasie (moontlik dieselfde) goedjies opnuut moet leer verwoord nie, daag jou geslag bankrot op by die tafel. Tuis loop ons ’n yslike risiko om die foute van ons onderskeie verledes te herhaal. Ek sien ook hoe die reënboog-ideaal sy gat sien omdat ons nie weet hoe om diversiteit te vier nie.
Indien jy nie ’n sanger geword het nie, watter beroep sou jy volg?
S: Regte.

Nataniël (sanger/skrywer)
Die vraag het ek reeds aan hom gevra in my Insig-onderhoud met hom en ek het ook reeds daaroor geskryf in Kaalkop. Ek het hom gevra wat hy beskou as lewenskwaliteit, en hy het geantwoord: Matigheid.

Elmarie Taljaard (eienaar van ’n boetiek-wynwinkel, Kaapstad)
Met watter liedjie het jy jou ma gek gemaak deur dit oor en oor te speel toe jy leer kitaar/klavier speel het?
S: Ek dink “I recall a gypsy woman”. Oor en oor en oor.
Watter mannetjies/prentjies is op jou slaapbroek gedruk? Of woorde (soos “You devil, you”, “I’m no angel” en so aan)?
S: Ek het al van daai as geskenke ontvang, veral Blou Bul-onderbroeke. Maar dis mos nou nie die plek om so ’n mooi dier weg te steek nie!