Ons praat met

Steve wys sy seuns + hulle praat oor hom

“Dis min dat ons almal op een plek bymekaar kan kom. Wat ’n lekker dag!” sê sanger Steve Hofmeyr met ’n groot glimlag met die intrapslag by die SARIE-fotosessie saam met sy vier seuns.

Dis die eerste keer dat al die Hofmeyr-seuns – Armand, Devon, Sebastian en Benjamin – saam met pa afgeneem word vir die media, en dis ’n trotse oomblik vir hom. Terwyl die kameras flits, pluk hy ook gou sy selfoon uit om nog foto’s te neem. Die ateljee in Melville is woelig soos die seuns lag en gesels en met mekaar stoei. Steve grap saam, en hou ’n wakende oog as die twee jongstes, Sebastian (11) en Benjamin (9), begin veerpyle gooi.

Sy oudste seun, Armand (23), is deesdae ook ’n sanger en Steve sien groot dinge vir sy kind se toekoms. “Dis nie vir my belangrik dat my kinders musikaal moet wees nie, en nie almal van hulle is nie, maar dis lekker om te sien dat Armand homself geniet en uitleef deur sy musiek. Hy’s baie talentvol.”

Devon (19) is ’n skrander rugbyspeler – Steve se ander groot liefde, natuurlik. “Kyk daai Blou Bul-bene,” spog Steve as Devon met ’n kortbroek aan uit die kleedkamer stap. Nes ’n mens Steve se gesig duidelik in sy seuns s’n kan sien, kan jy hom deur sy musiek leer ken.

Steve en sy seuns

Foto: Leana Clunies-Ross

Steve se kinders oor hom

Sebastian (11, links bo) “My pa gee die lekkerste drukkies. Hy’s snaaks en gaaf en liefdevol. En hy speel gereeld saam met ons videospeletjies!”

Benjamin (9, links onder) “My pa kan ons soms baie bederf, dis so lekker! Hy gee vir ons baie vryheid, as ek so na ander kinders kyk. Hy laat ons toe om baie dinge te doen, maar hy waarsku altyd dat ons nie ons arms moet breek of so nie.”

Armand (23, regs bo) “Ek en my pa kom so goed oor die weg. Ons kan ure lank oor die lewe filosofeer, want ons dink dieselfde en ons deel ’n lekker sin vir sarkasme. Hy’s ’n baie ontspanne mens, iets wat enige kind kan waardeer, en hy’t dae se geduld as dinge skeefloop…”

Devon (19, regs onder) “Dit klink dalk oordrewe, maar ek weet in my hart dat my pa die soort ouer is wat vir sy kinders sal doodgaan. Hy gee vreeslik baie vir ons om.”

Steve se dogter, Charissa (25, foto onder) was ten tyde van die fotosessie in Korea.

Steve se dogter, Charissa (25)