Ons praat met

Stian Bam (Dawid Greeff in 7de Laan) raak liries oor getroud wees

Die kunstenaar Dawid Greeff (gespeel deur Stian Bam) is weer terug in die SABC2-sepie 7de Laan. Marguerite van Wyk het met hom gesels oor sy vrou, die karakter Dawid en wat hy doen in sy vrye tyd.

Hoe voel dit om terug te wees in 7de Laan?
Die wonderlike ding van 7de Laan is dat jy nie anders kan as om welkom daar te voel nie. Dis die derde keer dat ek nou terug is en ek voel nou soos ‘n deel van die bloedlyn. Hetsy generies of aangetroud. Ek is baie lief vir almal daar en dit voel soms of ek nooit weg was nie. Dis seker soos dit hoort by ‘n familie. Ek dink Dawid Greeff was seker so sewe maande weg voordat hy weer nodig was. So Stian Bam en ‘n ene Dawid Greeff is ewe dankbaar om weer terug te wees.

Jy is onlangs getroud. Waar het julle getrou en wat doen jou vrou?
Ja, ek en Truda het op 28 Maart vanjaar voor familie, vriende, ‘n wonderlike plattelandse dienaar in diens van sielkunde en die gemeente van Christus, ‘n plaaskoor, ‘n paar wit geverfde garingbome, ganse, hoenders en oumas en oupas lank nie meer met ons nie, wat skuil op boomtoppe en agter struike, in die huwelik getree. Truda is ‘n juweliersontwerper. Sy en haar vennoot is eienaars van Lady Peculiar, ‘n klein onderneming in Stellenbosch en spesialiseer in handgemaakte silwer juwele. Gaan kyk gerus by www.ladypeculiar.co.za.

Is dit lekker om getroud te wees?
Ons sien mekaar net twee naweke ‘n maand, wat nogal moeilik raak met tye, maar ons het vooraf geweet dit gaan so wees en hanteer dit maar op ons manier. Gelukkig is dit net ‘n tydelike reëling. Die enigste voordeel is dalk dat ons, as ons wou, kon glo ons is twee minnaars in ‘n tyd sonder tegnologie . . . waar briewe ons enigste kommunikasie is en ons vier dae ‘n maand, die kosbaarste tyd op aarde raak, waar elke oomblik saam die tye weg van mekaar draaglik maak, oomblikke waarna ons terug kan keer as mis, verlange word, mekaar se beelde vasbrand onder ons ooglede sodat ons net ons oë kan toemaak en mekaar sien. Maar dis net as ons sou wou . . .. Hoekom het ons besluit om te trou? Wel, dit was tyd vir die nagmaal.

Wat laat die verhouding werk?
Ons ken mekaar al tien jaar lank. Ek weet glad nie hoekom ons verhouding werk nie. Miskien is dit die onuitwisbare liefde vir mekaar. Miskien die ontsaglike groot respek vir mekaar. Of dalk is dit die feit dat voor daar ooit ‘n gees oor die donker gewelf gesweef het ons bedoel was vir mekaar. Of dalk het iemand iewers een van my ribbes verwyder en dit Truda genoem, wie weet, dit werk. En ek is dankbaar.

Hoekom is dit lekker om die rol van Dawid Greeff te vertolk?
Dis lekker om iemand te vertolk met soveel fasette. Iemand wat ver verwyderd is van jou eie karakter. Dawid is gewetenloos, hy doen wat hy wil. Maar hy is steeds iemand wat foute maak en daarvoor moet betaal. Die interessante ding van hom is die manier hoe hy met situasies omgaan. En dan is hy natuurlik ook ‘n kunstenaar, wat op ‘n manier sekere van sy gedragspatrone regverdig. Ek dink Danie Odendaal en die skrywers het ‘n wonderlike karakter geskep en ek is baie dankbaar dat ek dit voor die kamera kan uitleef.

Hou jy jou met enige ander projekte besig?
Daar is nie tyd vir enige ander toneelspeel-projekte nie. Ek lees, doen allerlei werk met my hande, tuinwerk, werk aan ‘n RSG-jeugvervolgverhaal, hou van fliek, dink allerlei idees uit vir my vrou as ons saam kuier . . .

  • Hettie

    Hi Stian ek hou glad nie van die rol wat jy in 7de laan speel nie. Maar jy as mens lyk of jy baie liefdevol is en baie omgee vir jou mede mens. Geluk met die huwelik as n mens lief is vir mekaar en God deel is van jou lewe kan dit net goed gaan met jou.( Moet seblief nie met Emma mors nie sy is so liefdevole mens se vir Gita sy kan maar haar geld terug kry of n beter plan mors haar lewe so bietjie op sy speel ook nie n goeie karakter nie maar in die werlike lewe is sy n baie nice mens maar Gita is glad nie gewild nie. Mag jou lewe vorentoe net geseend wees vol baie liefde en geluk en n paar oulike klein mensies

  • Alet

    Hi.

    Ek sal graag wil sien dat iemand Gita kan teegaan en nie toelaat dat sy wegkom met wat sy doen nie. Ek dink net Dawid moet haar teengaan en vir haar se’ wat sy met haar voorstel kan doen. En ek hoop regtig nie Emma val vir hom nadat hy al met met soveel mense se gevoelens gespeel het nie. Stian ek val jou nie aan nie maar wel vir Dawid. Ek geniet 7de Laan baie en al die akteurs en aktrises in die sepie.
    Sterkte

  • Selma

    Kyk, jy is klaar gewild, jy is aantreklik en kan so nice wees as jy probeer om te kry wat jy wil he as dit by die skoner geslag kom. Verras al die kykers en praat die regiseur van 7de laan om, om jou nog meer populer te maak. Stuur vir Gita in haar glory in en word Emma se beste vriend (net ‘n vriend). Dan sal 7de laan nooit eers weer nodig he om vir Steve Hofmeyer te kry om ‘n rol daarin te speel nie.
    Dit is wonderlik om te lees hoe jy oor die huwelik voel (nie Dawid nie) en ek bewonder jou pragtige skryfsteil en gebruik van afrikaanse woorde. Skryf jy gedigte ook? Jy behoort, ek hoop dat ek die kans sal he om jou jeugvervolgverhaal te kan lees.

  • Elize

    Stian Jy is glad nie soos Dawid nie,hy is so perfek as dit by die skoner geslag kom, ek hou niks van hom nie, maar Stian klink baie aangenaam, gelukkig getroud met baie respek en lief vir sy pragtige vroutjie. Maar ek kan van mening verander as Dawid vir Gita warm plek toe stuur en vir Emma in vrede los, sy en Herman pas so mooi bymekaar, as jy nie weet hoe om met Gita te werk nie, bel my ek sal met haar soort kan werk. Hou aan met al die goeie dinge wat jy doen.

  • Riana de Wet

    Puik onderhoud met Stian gewees!

    Ontspan mense … dis net ‘n sepie!

  • Mariana

    Ek begin nogal hou van Dawid. Ek dink hy was nog nooit regtig verlief nie en ek hoop Emma slaan sy voete heelemal onder hom uit en loop diep spore oor sy hart. Herman is ‘n besitlikke man en Emma gaan net altyd op eiers moet loop sy is al klaar senuweeagtig. Sy en Dawid pas pragtig by mekaar. Ek glo Gita se gekonkel kan op iets mooi uitloop net soos Stian se gelukkige huwelik.

  • Alida

    10/10 vir jou, ek dink jy vertolk jou rol absoluut uitstekend! Enjoy!!!

  • Karin

    Ek hou van Dawid se rol in 7de Laan, dit hou die mans (Herman) op hul tone. Maar is bly dat jy as persoon ook God in jou huwelik ken. Sterkte en hoop Dawid sit vir Gita ore aan en verly haar sommer dat sy vir Tim en sy vrou kan uitlos! ! ! !

  • Jolene

    Mariana,ek stem saam met jou! ek dink dawid en emma maak n beautiful couple. dis hoog tyd dat hy regtig lief raak vir iemand. en stian, baie sterkte en net die beste vir jou toekoms!

  • Jolene

    Mariana,ek stem saam met jou! ek dink dawid en emma maak n beautiful couple. dis hoog tyd dat hy regtig lief raak vir iemand. en stian, baie sterkte en net die beste vir jou toekoms!

  • MAndT8 eevgnhlocqxe, [url=http://duowoyhocklt.com/]duowoyhocklt[/url], [link=http://dlmddzejhmnb.com/]dlmddzejhmnb[/link], http://wfyrcidberaw.com/