Ons praat met

Stian Bam se plek: ‘Stellenbosch taal van my hart’

Stian Bam staan op sy knieë voor ‘n blou bankie in sy piepklein tuin, sy aandag op drie hopies grond. Hy soek die pit van die koraalklimop wat hy in ‘n kleipot geplant het. Hoekom het dit nie opgekom nie? Was dit nie gelukkig nie?

So, verdiep in sy eie wêreld op Stellenbosch, is hy gelukkig.

Hy kan ure lank staar na iets soos die oranje-en-geel vuurpylblomme in die sitkamer. Hom verkyk aan hul simmetrie, hoe hulle sku hul posisie in die blompot verander. Dan vat hy ‘n potlood en skets dit.

“Ek wil altyd weet hoe goed werk. Ek móét weet hoe dit werk. En as ek eers weet, wil ek iets daarmee doen.” Soos wanneer hy lappies hekel en dit by ‘n kwilt inwerk. (Reg gelees . . .) Om te hekel het hy by sy ouma Bessie, snuiwer van formaat, geleer. Nou is hy besig om homself uit ‘n boek oor kloskant (bobbin lace) touwys te maak. “Dis geskiedenis en praat met jou. Selfs materiaal wat vanweë ouderdom goud verkleur het, het iets om te sê.”

Stian onderstreep dikwels sy sinne met ‘n ligte laggie. Asof hy wil sê: Dis nie regtig só ernstig nie. Soms veeg hy sy vaal kuif weg van sy voorkop. G’n niks van Dawid Greeff, sy alter ego in 7de Laan, se gestileerde coiffure nie.

Dit laat hom jonger lyk as die donker, wroegende Dawid (nou vir eers weg uit die Laan om homself te vind). En veel toegankliker.

Stian skep inderdaad die indruk dat hy met ligte tred deur die lewe stap. Maar op 32 is hy ‘n bekroonde akteur met toneelstukke soos Festen en Slaghuis op sy kerfstok. Hy werk gereeld saam met die gerekende regisseur Marthinus Basson, ook ‘n vriend.

Stian en Truda op hul troudag Dis op Stellenbosch waar hy emosioneel grootgeword en sy voete gevind het. Hier is Truda, met wie hy byna ‘n jaar getroud is.
 

Van 16 Maart is hy op kykNET in Fees van die ongenooides (die Afrikaanse weergawe van Feast of the Uninvited) te sien. In April gaan hy op dieselfde kanaal vir drama sorg in Vallei van Sluiers, waarin hy ‘n veearts speel wat in geheimsinnigheid gehul is.

Stian het op Walvisbaai grootgeword.
Sy pa, Hennie, is ‘n skoolhoof en sy ma,Trudie,’n onderwyseres. Hy praat nostalgies oor woestyn en see: Kontraste wat in Namibië dikwels sy aan sy is. Oor kameeldoringbome, klip en sand. Maar hy wéét die tyd het oor die plekke van sy jeug gespoel, dat niks dieselfde bly nie.

Dis op Stellenbosch waar hy emosioneel grootgeword en sy voete gevind het. Hier is Truda, met wie hy byna ‘n jaar getroud is. Sy maak silwer-juweliersware en het ‘n winkel, Lady Peculiar, in Andringastraat. Dis agter haar aan dat hy op 23 Stellenbosch toe gekom het. Hier het hy wortel geskiet.

“Dit tref my altyd as ek ‘n ruk weg was hoe mooi dit is. Die berge, wingerde, groen . . . As dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch het ek gereeld vir my ouers op Kimberley gaan kuier, waar hulle nou woon. As jy terugry, sien jy die dorheid wat uit die Noord-Kaap in die Karoo oorspoel. Hier van Laingsburg af begin dit al anderster voel. En dan kry jy skielik ‘n ander soort plantegroei. By De Doorns sien jy die eerste heuwels en groenigheid. En dan begin jy die Kaapvóél. Dis kompleet asof jy beter in jou vel pas, asof dit nie meer te styf sit nie. Dis die vogtigheid. Dan ry jy deur die Du Toitskloof-tonnel en jy is daar, in die Kaap. Jy rúik dit ook. Dis ‘n skerp reuk, beslis die fynbos, met ‘n skeutjie see daarby. Dit maak my rustig.”

Ons sit in hul huis, sy en Truda se eerste plekkie saam.
Sy’t in Junie verlede jaar ingetrek, hy in Desember nadat hy klaargemaak het by 7de Laan in Johannesburg. Dis sy eerste standvastige adres sedert hy uit matriek is.

Stian en Truda se huis op Stellenbosch Stian en Truda se huis op Stellenbosch Stian en Truda se huis op Stellenbosch

As hy by hul blyplek instap, voel, sien en ruik hy Truda. Sy is in die klein detail: die materiaal-hartjies, die leë voëlhokkies. Dit maak hom gelukkig. Die meubels kom meestal uit hul onderskeie ouerhuise. Dis stukkies nostalgie uit hul grootwordjare, en soms van nog vóór dit. Haar ouma Truda se eerste bank; die diep stoele van vathout ‘n geskenk van sy pa.”Ek verkies goed wat lyk asof dit al geleef het.

“Soms sit ek in Stellenbosch se botaniese tuin. Jy wéét die plante is al lank daar. Wie weet, dalk het D.J. Opperman ook daar gesit, of Hendrik Verwoerd. Dis só met baie dinge op Stellenbosch. As jy jou oë toemaak, hoor jy die mense wat al hier was. Die generasie voor jou en die generasie voor húlle.

“Stellenbosch verander baie en daar word met die karakter van die plek gelol. Maar in Andringastraat, wat verby die dramadepartement en stadsaal loop, is nog ou geboue met karakter. As studente het ons altyd daar by Träumerei gaan koffie drink. Die koffiewinkel se naam het intussen verander na The Apprentice. Ek en my vriende kuier steeds daar.

Nêrens is jy méér bewus van die wisseling van die seisoene nie.”
“Die groot ou akkerbome vryf dit onder jou neus. As die eerste bloeiseltjies kop uitsteek, weet jy: A, dis lente!

“Bome is die standvastigste vorm van ouderdom en wysheid. Soms dink ek: Wat het jy al gesien? Kon jy maar gepraat het.

“Hulle gesels nietemin heeltyd met jou, jy weet dit op ‘n intuïtiewe vlak. Dieselfde met geboue en plante, die hele omgewing. Dís wat jou verknog aan ‘n plek maak.”

Dit moet die taal van jou hart praat …

  • annie

    Wat ‘n pragtige pragtige paartjie! Mag jul baie baie gelukkig wees.

  • Pieter Claassen

    Ek wil baie graag met Stian praat oor sy ouma Bessie, ‘n "snuiwer van formaat".

    Snuif is my stokperdjie, ek maak dit bymekaar, ek maak self snuif en gesels graag met ander snuiwers daaroor. Ek sal graag wil weet of sy ouma Bessie nog leef.

    U samewerking sal werklik waardeer word. As ek so voor op die wa mag wees, my selfoonnommer is 083-2540954 en huisnommer 021-8544420. Ek woon in die Strand.

    Baie dankie en groete

    Pieter Claassen

  • Suzanna du Preez

    Ai dis so doodgewoon die se-goed…
    Hei praat bietjie anders – hoeveel talent het jy of is dit die skrywer van die artikel…

  • Minah2010

    Stian
    Jy is werklik, en dis nie geeikte woorde nie, jy is een van die beste mans akteurs in die bedryf. Dis jammer dat jou rol vir eers klaar is in 7de laan. Dis wonderlik om te hoor hoe jy oor die huwelik voel en oor jou vrou Truda en natuurlik pragtige Stellenbosch, waar van my familie ook woon. Mag dit voor die wind gaan met jou!

  • oplvqhoipf

    imrvgxmlnanqndm http://geqaswxowdwhnfj.com [url=http://vltrzquvhpghiiq.com]jyvfvycemznmrjw[/url]