FOTO Twitter @PublicProtector

FOTO Twitter @PublicProtector

Ons praat met

Stylvolle ystervrou – ons kuier in adv. Thuli Madonsela se kantoor

Suid-Afrika kyk vanaand na die staatsrede (#SONA2016). Die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela, woon ook dié geleentheid by. Ons het in November 2014 by haar in haar kantoor gaan kuier. Lees ’n gedeelte van die onderhoud hieronder.

Sy hou van mooi aantrek en is dol op bordspeletjies met haar kinders, maar wanneer adv. Thuli Madonsela praat as Openbare Beskermer, is dit met ’n ysere wil, skryf Delia du Toit in die November 2014-uitgawe van SARIE.

Dis intimiderend om met adv. Thuli Madonsela te gesels. Maar ’n eer, want ’n mens het respek vir haar – haar waagmoed om magtige mense se skandale te openbaar, die deursettingsvermoë wat haar uit ’n agtergrond van armoede na Time se lys van die 100 mees invloedryke mense geneem het, en haar grasie in die aangesig van mense wat haar en haar werk wil diskrediteer.

Selfs met ’n tydskrifonderhoud loop jy lig vir SA se Openbare Beskermer – sy het dan selfs vir pres. Jacob Zuma aangevat soos niemand anders nog kon nie. En sy staan vas by haar verslag oor Nkandla, ten spyte van hewige persoonlike aanvalle en kritiek (veral vanuit regeringskringe).

Jy verwag sy sal, soos baie belangrike en besige mense, laat wees vir die afspraak. ’n Wenkbrou lig as jou politieke insig nie vlymskerp is nie. Jou vrae kortaf beantwoord.

Maar toe haar kantoordeur oopswaai, is dit net minute ná ons afgespreekte tyd. Sy staan op uit haar leerstoel agter haar reuse-lessenaar en steek haar hand uit. Sy maak glimlaggend verskoning met ’n “’skuus ek’s laat, ek’s druk besig”. Haar hande is sag, die liggaamshouding skaam, maar sy lyk opreg belangstellend.

[...]

Jy is baie besig. Hoe ontspan jy?

Ek bring soveel moontlik tyd saam met my kinders deur. My kinders is weer terug in die huis nadat hulle twee jaar weg was en dis lekker om hulle weer daar te hê. Wenzile het eers aan Tukkies studeer, maar het besluit om na die Universiteit van die Vrystaat toe te skuif en neem nou eers ’n jaar af. Wantu het in ’n kommune in Pretoria gewoon terwyl hy teologie gestudeer het, en is nou weer tuis tot hy sy sakereg-kursus klaarmaak. Ons speel gereeld bordspeletjies en aandetes saam is kosbaar.

Ek’s ongelukkig so besig dat ek aanhoudend afsprake met vriende kanselleer, maar wanneer daar tyd is, sal ons saam tee drink of gaan stap. Ek en my vriendinne hou ’n jaarlikse teepartytjie, waar rokke en hoede verpligtend is. Ons hou daarvan om nou en dan mooi aan te trek en moeite te doen, want daar is meestal nie tyd daarvoor nie!

Ek is mal oor musiek en sal ook soms op Twitter uithang, maar omdat dit so tydrowend is, probeer ek dit vermy.

My truuk om tyd op te maak is om vroeg op te staan. Ek is elke oggend drie-uur op en kry dan die meeste van my werk gedoen. Dis waar, ek is altyd besig, en ek het geen planne om rustig te raak nie!

Lees die volledige (en baie insiggewende) onderhoud in die November 2014-uitgawe van SARIE. Dié uitgawe is ongelukkig nie meer op die rak nie, maar kan digitaal HIER afgelaai word.

November 2014 andrea streso nov