78717345
Ons praat met

Izak Davel vat weer boeke

Dié skuif beteken nie dat sy loopbaan iets van die verlede is nie. Izak het aan sarie.com gesê hy het iets gesoek om hom mee besig te hou as hy ’n af-tydjie het.

Dié 30-jarige het in Oktober verlede jaar Jy’s my lewe, sy vierde album, vrygestel. Ons het Izak leer ken as Scab in die M-Net-sepie Egoli: Plek van goud. Hy het ook aan die realiteitsreeks Survivor South Africa: Santa Carolina deelgeneem en op die grootskerm die hoofrol in Getroud met rugby: Die onvertelde storie gespeel.

Wat studeer ’n man met soveel talente? Dié 30-jarige het gekies om iets te studeer wat nié by sy huidige beroep aansluit nie: ‘n diploma in elektriese ingenieurswese.

Hy het dié idee gekry toe hy oor sy skoonpa se skouer loer en sien wat hy op sy rekenaar doen. “Dit het vir my interessant gelyk.” Sy skoonpa is betrokke by die ontwerpaspekte van myne.

“Ek wou ook weer studeer, want my hele gesin swot!” Izak se ouers werk aan hul doktorsgrade – Ma Irma in musiek en Pa Dewald in teologie – en sy broers studeer ook.

Izak loop soggens klas by die tegniese kollege Technicol, maar sê dat dit vir eers nie met sy loopbaan inmeng nie. “Dit is dán se worries, vir nou het ek genoeg tyd om alles te doen.”

Izak behoort in die volgende twee jaar sy diploma te verwerf.