Corné Krige Survivor
Ons praat met

Survivor SA-kaptein Corné Krige: ‘Ek háát dit om te verloor!’

Corné Krige, voormalige Bok-kaptein, het in 2004 finaal sy toks opgehang. Maar binnekort is hy weer te sien as leier – dié keer as stam-kaptein in die M-Net-werklikheidsprogram Survivor SA: Champions op ’n afgeleë eiland. Maar dit is maar één deel van sy lewe …

Hoekom wou jy so graag in Survivor wees?


Ek is in Lusaka, Zambië gebore. My ouers, Corrie en Cecilia, woon steeds daar op ons plaas. Ek is gemaklik in die bos en die natuur en is op my gelukkigste as ek in die veld rondstap. Die natuur het ’n kalmerende invloed op my. Dit was ook vir my ’n uitdaging om ’n span te lei wat ek glad nie ken nie. Ek moes hulle onder haglike omstandighede saam- snoer. Dit was my plig om te sorg dat hulle mekaar onder- steun en dat die groep altyd voordeel trek uit hul optrede.

Geniet jy dit om werklikheidstelevisie te kyk?

Ek het geen behoefte om te sien hoe ’n ou in ’n huis vasge- keer is en in ’n jacuzzi sit nie, soos in Big Brother. Avontuur- programme soos Survivor en The Amazing Race boei my. Jy sien hoe mense onder druk presteer. Jy leer hul psiges ken.

Wat was die ergste uitdaging op die eiland?

Hongersnood! Niks kan jou daarop voorberei nie. Ek en niemand wat ek ken, het al lang tydperke honger gely nie. Ek het ses kilogram verloor. Soggens eet jy ’n bietjie kokosneut-stukke. Saans ’n bietjie gaar rys en ’n paar oesters. Jô, jy weet nie waar jou energie vandaan gaan kom nie.

Hoe het jy voorberei?


Ek is gelukkig fiks en staan vyf dae per week soggens vyf- uur op en oefen ’n uur voor werk. As ek nie genoeg oefen nie, funksioneer my liggaam nie. Ek en my vrou, Justine, het in 2013 die Otter-wedloop [42 km] binne 7 uur en 20 mi- nute voltooi. Ek ry gereeld die Absa Epic, ’n sowat 700 km lange fietstoer wat oor 8 dae strek. ’n Kort kursus by die Kaapse seiljagklub om knope te maak en goed aanmekaar vas te maak, was baie goed. Leierskapsboeke soos Robin Sharma se The Monk Who Sold His Ferrari en Malcolm Gladwell se The Tipping Point het my ook gehelp. Jy moet eers die beste in jouself kan uitbring om ander te kan lei. Ek glo aan balans en kombineer my Christenskap met alles wat ek doen: leierskap, ’n gesonde eet- en oefenprogram, tyd met my gesin, my werk …

Waarmee hou jy jou deesdae besig?


Ná my uittrede in 2004 het ek ’n maatskappy begin wat advertensieborde oprig. Sowat twee jaar gelede het ek en ’n vriend, Parkin Emslie, ons maatskappye saamgesnoer om BrandSpace te begin. Ons rig steeds advertensieborde op
en verskaf promosie-items aan groot maatskappye. Ek sal graag betrokke raak by skolerugby-afrigting as my seuns, Peter (4) en John (6), begin speel.

Wat is die stand van rugby in Suid-Afrika?


Ons het die meeste talent ter wêreld. Ek dink Nieu-Seeland en Australië wens hulle het soveel diepte soos ons. Tog is hulle beter georganiseerd as ons. Nieu-Seeland se spelers word báie beter bestuur en kan dus beter uitrus en langer speel. Ons afrigters is goed, maar ons het ’n probleem op skoolvlak waar daar nie altyd die beste grondslag-afrigting is nie. Suid-Afrikaanse professionele rugbyspelers word ook deesdae taamlik goed betaal – sekere ouens sal eendag kan aftree eerder as uittree.

Mis jy dit om te speel?

Ja, elke oudspeler mis die gevoel om uit te hardloop voor ’n stadion met 50 000 mense en om die volkslied te sing. Dit is ’n ongelooflike voorreg om betaal te word vir iets waarvoor jy so lief is. As seuntjie van sewe, toe ek agtste- man was – my ouers het my na Suid-Afrika gestuur vir my skoolopleiding – was ek mal oor rugby. Almal wou met die bal hardloop, maar my ding was om te tackle.

Jy is dikwels vir jou aggressiewe spel ge- kritiseer. Veral in November 2002 toe die Bokke ’n loesing teen Engeland [53 – 3] gekry het en jy as kaptein doelbewus probeer het om van die Engelse spelers te beseer. In 2004 is jy 2 maande geskors weens kopstampery …

Ek is ongelooflik mededingend. Ek haat dit om te verloor – veral in ’n Springboktrui voor duisende mense én miljoene TV-kykers. Die Britse voorval was ’n soort verdedigings- meganisme. Ek wou nie gaan lê nie. Dit was nie reg nie, maar hindsight is an exact science. Ek het al dikwels gesê ek is jammer daaroor. Almal maak foute, maar nie almal se foute beland op die televisie voor miljoene nie. Dit was ’n natuur- like instink – dit was veg of vlug en ek het nie gevlug nie …

Op jou Facebook-blad is daar soms mooi aanhalings, soos dié van Moeder Teresa: “Yester- day is gone, tomorrow has not yet come. We have only today. Let us begin.” Is sy jou ikoon?

Ek versamel aanhalings waar ek ook al gaan. Ek stuur elke Maandag vir sowat elf mansvriende met wie ek ’n pad gestap het inspirerendes per e-pos. Ek het dié een van Moeder Teresa gekies omdat sy so inspirerend en onselfsugtig is.

Wat moet jou kinders eendag van jou onthou?

Dat ek ’n pa was wat hulle en hul ma onvoorwaardelik liefgehad het en baie tyd saam met hulle spandeer het. Ek wil hulle leer dat die besluite wat jy neem, jou toekoms bepaal. Hulle moet ook besef jy kan so ’n groot Christen wees soos wat jy wil, die lewe gooi dinge na jou kant toe wat jou gaan omslaan. Jy moet die krag én die selfvertroue hê om te kan opstaan. Jy kry selfvertroue deur klein oorwinnings. Dit val nie uit die lug uit nie. Jy moet hard daaraan werk. Baie mense dink die gróót oorwinnings is belangrik en as hulle dít nie regkry nie, is hulle verpletter. Robin Sharma sê elkeen het ’n vuurtoring as baken op die pad – die droom wat ons eendag wil bereik. Maar op pad lê ’n klomp diamante. Ons moet soms stop, dié diamante optel en dán eers aanstap. Ek en Justine probeer dit doen.

Die belangrikste les wat jy van jouself en mense uit Survivor geleer het?

Jou kop beheer hoe ver jy kan gaan. Jou lyf sê jy het kos nodig, maar as jy jou kop reghou, kan jy langer sonder kos gaan as wat jy ooit gedink het. Mense het my ook verbaas. Jy dink iemand lyk baie sterk en gaan fisiek baie kan doen en kyk iemand anders dalk mis . . . Dan verstóm die een wat nie sterk lyk nie jou. Of andersom.

Survivor SA: Champions begin 19 Januarie om 17:30 op M-Net. Dit word ook die volgende Saterdag herhaal op M-Net Series Zone.

VIDEO-ONDERHOUD met Corné oor Suvivor SA: Champions