Ons praat met

Survivor SA: ‘n Onverwagse stem stuur Louw huis toe. Hy praat met sarie.com.

Die teiken was vierkantig op Okkert Brits se rug. Wie sou kon raai dat Louw Venter toe uitgestem sou word? Hy gesels oor Izak Davel se onverwagse stem teen hom en die dag toe hy in trane uitgebars het.

Jy’t die idee gekry Okkert Brits was die volgende deelnemer om te gaan, maar toe word jy onverwags uitgestem.
Dit was nie vir my so onverwags nie.Ek het geweet die lede van Chibudu gaan vir my stem, die stem kon enige kant toe gaan. Dis die ding met Survivor: Daar gebeur altyd iets onverwags. Ek was wel verbaas toe ek uitvind Izak het teen my gestem. Ek het dit nie gesien kom nie. Ek was teleurgesteld, maar daar is belangriker dinge in die lewe as om te wen en geld te maak.

Hoe het jy gevoel toe Gys met die tribal council vir jou sê daar’s slange in jou voormalige stam wat jy nie kan vertrou nie.
Ek het nogal geskrik. Ek het geweet mense kan mekaar in die rug steek, maar ek het gedink Gys sê dit dalk om my te mislei.

Het jy ooit op ’n punt gekom waar jy gedink het jy kan Survivor wen?
Ja. Ek het nie vir een oomblik moed opgegee nie. Jy moet speel asof jy gaan wen, andersins wat is die punt? Dit was lekker om die merge te haal. Van toe af het ek gedink ek staan regtig ’n kans om te wen.

Wat was jou strategie?

Ek wou nie my kop te veel uitsteek nie, maar ek is ongelukkig nie ’n ‘nie-kopuitsteker’ nie. Ek het op die eiland besef jy kan nooit ontsnap van wie jy is nie. Dit kom natuurlik vir my om te voorsien.My stam het naderhand soos my familie geword. Ek het verantwoordelik vir hulle gevoel en ek was tot aan die einde lojaal teenoor hulle.

Jy het vroeër in die reeks ’n woede-uitbarsting gehad en Ashley het daarna gesê jy’t haar bietjie bang gemaak. Het jou gedrag jou verras?
Glad nie. Die een ding waarvoor ek bang was voor ek eiland toe gegaan het, was om my humeur te verloor. Ek’s baie emosioneel. Ek het intens lief, maar ek raak ook intens kwaad. Toe ek nie enigiets van waarde vir my stam kon terugvat nie omdat Chibudu alles weggesteek het nie, het die wolf in my uitgekom.

Die meeste deelnemers met wie ek al gesels het, sê nooit weer nie. Sal jy weer aan Survivor deelneem?
Definitief! Jy kry nie sommer die geleentheid om deel te wees van so ’n avontuur nie, om uit te vind waartoe jy regtig in staat is nie. As daar nog ’n reeks is, wil ek weer deelneem. Toe ek op die jurie was, het ek met elke tribal council gewens ek kan teruggaan eiland toe. Ek het myself nogal verras. Ek kon nie in terme van spierkrag kompeteer nie, maar dit gaan nie altyd oor hoeveel muscles jy het nie, maar oor of jy jouself beskikbaar stel. En ek het. Ek kon nie glo hoeveel vis ek met die speargun gevang het nie. In daardie opsig het ek goed gevaar.

Wie speel Survivor goed?
Dis ’n moeilike vraag, want dit kan iemand wees wat ’n goeie strategie het of iemand wat net mooi niks doen nie.Vir my gaan dit oor hoe mense hulself gedra en dit is ook hoe ek aan die einde van Survivor gaan stem. Uiteindelik is dit mense wat aan Survivor deelneem en mense kry seer. Om deelnemers te beledig en in die rug te steek is nie vir my ’n goeie strategie nie.

Wat was vir jou die moeilikste op die eiland?
Om weg te wees van my mense af. Om nie met my vrou en kinders te kon praat nie. Dit vreet jou op as jy nie weet hoe dit met jou kinders gaan nie. My vrou het ons kinders gevra om prentjies met kryt op my denimbroek te teken wat ek saamgevat het. Sy’t toe oor die prentjies borduur. Dit was my ‘foto’s’ van hulle. My dogtertjie het ’n reënboog geteken en my seuntjie een of ander vreemde simbool. Ná ons almal gehuil het toe ons die briewe van ons liefdadigheidsorganisasies gelees het, het daar iets in my gebreek. Ek was baie emosioneel. Ek’t die volgende dag na die prentjies op my broek gekyk en in trane uitgebars.

Is jy spyt oor enigiets?

Ek is ongelooflik spyt oor een ding: Dat ek nie R500 000 vir die liefdadigheidsorganisasie wat ek ondersteun, kon wen nie. Hulle doen ongelooflike werk met straatkinders.

* Besoek Louw se liefdadigheidsorganisasie by www.mylife.org.za