Ons praat met

“Survivor” Shaleen Surtie-Richards ná haar beroerte

Die vuur is nog daar. Beroerte of te not, dis ’n vlamrooi Shaleen Surtie-Richards wat vandag hier sit. Aan die brand, aan die lewe. Dit begin op haar kop: Robynrooi strepe in haar hare gloei in lang hale in die son, ’n dik string rooi krale knetter in ’n vuurkrans om haar nek en ’n rooi baadjie omhul haar in ’n gloed. Selfs die skaapvel-pantoffels aan haar voete is bloedrooi.

En toe sy haar mond oopmaak, skiet die vlamme en vonke in alle rigtings soos sy gesels, rook, lag – soos almal weet net Shaleen (57) kan. “Man, dit gaan goed. Ek cope, kom ek sê vir jou so.”

Einde April het ’n beroerte ’n emmer water op haar vuur kom gooi, hom byna doodgegooi. “Daai stroke het my bekruip soos ’n dief in die nag. Dit was ’n skok meer as enigiets anders. Die groot fout wat ek in my lewe gemaak het, is ek het nie aandag gegee aan my liggaam nie. Was ek vyf sekondes later by die hospitaal, was ek dood, het die dokters gesê. Was die stroke ’n sentimeter laer in my brein, was ek blind in my regteroog. Ja, een voet in die graf, sê ek vir jou, God weet.”

Haar ooglede is swaar van silwer en swart oogskadu, dik gemaskara. Die naels is lank en rond gevyl, die lippe skarlakenrooi. Ordentlik gepoeier en gepaint. “Ja jinne, ek het maar ’n bietjie ‘polyfilla’ opgesit, anders lyk ek soos die hond se gat.” Op die tafel staan ’n bord vol koekies en ystervarkies om saam met ons koffie te geniet. By ons voete lê Pokkels en Tatiana, haar twee maltees-pikanees-kruisings – net twee bolle wol en twee paar oë.  

Met twee lang nael-vingers soos ’n vredesteken in die lug, steek sy ’n Dunhill op, sit terug in haar tuinstoel by haar huis in Randburg, Johannesburg, en vertel van daardie dag, Sondag 29 April, toe haar lyf vir haar gesê het: Klaargepraat.

“Man, ons het ’n funksie gehad, so ’n vrouefunksie. En ek was die seremoniemeester die oggend en ek was fine, man, ek was fine fine fine. Ek het so ’n stukkie gelees en een van die sinnetjies was ‘The hand that rocks the cradle rules the world’. En toe ek daar kom . . .”

Sy praat ’n brabbel-weergawe van die aanhaling om te demonstreer hoe sy skielik nie behoorlik kon praat nie. “Wee’ jy, ek staan agter daai podium en ek sê vir die vroue: ‘Hoe praat ek dan nou so snaaks?

Ek kan dan nou nie praat nie.’ Ek giggel toe nog daaroor. En ek praat weer, en ek praat weer so. Die een vriendin se oë staan soos tennisbolle en sy sê vir die mense: ‘Bel ’n ambulans. Nóú!’ ”

Sy gee ’n gelate sug. “Toe vat ek my siegrêts en ek gaan uit en gaan rook en wag vir die ambulans.”
Buiten die gesukkel om te praat, het sy glad nie gevoel asof daar iets fout is nie. “Ek het glad nie deurmekaargevoel nie, ek was oukei.”

By die hospitaal het hulle ’n breinskandering gedoen en gesien dis ’n beroerte. Dit het meestal haar regterkant geaffekteer.

“My regterhand kon nie lekker beweeg nie en hierdie kant van my mond was so ietwat só . . .” Sy trek die regterpunt van haar mond ondertoe. “Maar ek lyk in elk geval so as ek verergerlik is.” Haar bloeddruk het toe ook die hoogte ingeskiet en sy’s in die waakeenheid opgeneem.

“Teen die vierde dag toe kom die bloeddruk mooi af, toe sê ek: ‘Waar’s ’n plek waar ek kan rook?’ ” Sy gee ’n hees hoes-lag. “Vloek en rook is die twee goed – hulle wil nie 
vir my los nie. Dis soos obsessiewe boyfriends. Ek het hulle al afgesê, maar hulle wil my nie los nie.”

Dan tel sy die draad van die beroerte-storie weer op. Vertel hoe sy kort nadat sy ontslaan is vir nóg ’n week in die hospitaal opgeneem is – dié keer met dubbele long-ontsteking. En die hele tyd dat sy daar in die hospitaalbed lê, teister die vrese haar.

“Ek lê net en dink ek moet werk, ek het nie ’n inkomste nie, hoe gaan ek my huis betaal, gaan ek my huis verloor? Ek is ’n broodwinner, ek sien om na my 81-jarige ma [tannie Sakkie], wat vir my 
’n absolute plesier is, maar hier kan ek skielik nie werk nie. Dit was die ergste. Maar daar is goeie mense in my lewe, 
dit het ek besef.”

Sy moes vir ’n tyd lank uit die kykNET-sepie Villa Rosa, waarin sy tans te sien is, geskryf word sodat sy kon herstel. Fisiek het sy geen skade van die beroerte oorgehou nie, maar dit was nogtans ’n bitter moeilike reis, vertel Shaleen.

Emosioneel het ek gesukkel, omdat ek so hulpeloos was. Ek kon dit nie hanteer nie. Daar was dae dat ek niks met niemand te doen wou hê nie, wat ek net hier wou lê en tiewie kyk. Depressief geraak. Maar ek glo aan self regkom en self die waarheid in die oë staar. As ek nou opgee, dan val als uitmekaar. Ek kan nie myself toelaat om op te gee nie.”

Haar lewe lank was sy nooit vir haarself belangrik genoeg nie, sê sy. “Ek is nou. My geluk, my vrede. Ek het my jare afgesloof, járe.” Sy trek haar oë skrefies, haar stem raak hees. “Nie meer nie, nie meer nie.” Dan loop die trane oor haar wange. “Want ek kan nie meer nie.”  

Toe sy weer praat, raak haar stem plek-plek weg. “Ek’s 
nog ’n bietjie emosioneel. Ek gee nie meer om wat mense
sê nie, ek gee om wat met my en my mense gebeur.”

Sy sit ’n rukkie so, kyk dan na Pokkels, die hartseer en trane weer weg. “En daai skurk wat daar staan. Kyk hoe dik is hy.” Sy begin vir hom sing: “Tokkelossie, Ma se Tokkie-tokkie-tokke-lossie . . .”

Ja tog, sy weet sy moet aandag gee aan haar gesondheid, maar vir ’n handomkeer-leefstyl-verandering sien sy nie nou kans nie. “Ek het nog niks verander nie, ek is nog te besig om alles te verwerk. Ek het nie krag vir leefstyl-veranderinge nie. Ek wil eet wat ek wil eet, verstaan jy? Ek is ’n vuil uil as dit kom by eetgewoontes, dis hoekom ek so sukkel met my suiker. Maar ek sal daar kom, ek sal op my tyd daar kom. As dit dan te laat is, dan is dit te laat, dêmmit.”

Sy sit terug, frons ergerlik. “It is what it is. Ek’s mal oor daai sêding, it is what it is. Ek praat dit nie goed nie, asseblief, moenie vir een oomblik dink ek praat hierdie dinge goed nie, maar live and let live. Ek het my alie afgeskrik oor my siekte, maar ek het nie so geskrik dat ek nou ’n heel ander leefwyse wil hê nie.

“Ek is baie dankbaar vir die dokters wat hulle tyd aan 
my afgestaan het en dit beteken nie ek stoot hulle by die agterdeur uit nie, maar ek kan waaragtig nie nou gat-omkeer bolmakiesie slaat nie. My liggaam is gewoond aan sekere goed – ek dra 
hom al 57 jaar.”

Ja, die dokters preek vir haar, sê sy en skud soos sy lag terwyl sy die laaste stuk van ’n koekie in haar koffie doop. “Net 
ná die stroke het die dokter op sy hurke langs my bed kom sit, vir my gesê ek 
moet ophou rook. Toe sê ek vir hom: ‘Jy moenie met daai klas twak rondom my kom staan nie’.”

Sy dink ’n bietjie na, kyk na die bord koekies asof dit ’n vyand is. “Gee daar 
vir my ’n ystervark aan, die siekte se 
voet.”  Tussendeur die happe: “Ek sál probeer minder rook.”

Ja, gee sy toe, sy voel die skade aan haar lyf. “My bors fluit so, dan dink ek daar’s iemand anders in die kamer.” Hie-hie-hie, lag sy skud-skud, hoes-hoes.

Maar sy hoop haar gesondheidsellendes is nou verby. “2012 wil ek rêrig nie vir ’n grap weer beleef nie. Ek het laagtepunte beleef wat ek in my lewe nie bereik het nie.”

Sy grawe vir haar selfoon. Wag, sê sy, sy wil vir my iets wys. Die SMS lees: “Al ooit gewonder hoekom ons voorruit so groot is en ons tru-spieëltjie so klein? Omdat ons verlede nie so belangrik is soos ons toekoms nie.”

So ja, die beroerte is in haar verlede. En die toekoms? “Oop. Blink!” Sy gooi haar arms oop dat haar Michel Herbelin-horlosie teen haar armband klingel.

“Man,” voeg sy dan ná ’n rukkie by en tuur peinsend na ’n horison wat ons nie kan sien nie. “Ek is ’n survivor. Ek vat die dinge soos dit kom.” Dan maak die vuurvrou haar oë toe en draai haar gesig na die son.  

  • Madelein

    Sy sal ook nooit verander nie. Nog steeds so mal soos altyd

  • Lettie Jacobs

    Shaleen, om ongeskonde deur ‘n beroerte te kom, is ‘n God’s wonderwerk! Besef jy dit? Daarom glo ek dit is nie te veel gevra om maar die gifpyltjies te los ter wille van jou gesondheid nie, en om op ‘n gesonde dieet te gaan is glad nie ‘n opoffering nie – dis ‘n tweede kans op die lewe! Jy is wel deeglik bewus waar jy oortree, en jy moet hierdie liggaam, waarvan daar net een is, koester as die woning van God – dit maak jou uiters verantwoordelik by wat by daardie mond ingaan!

    Op 57 is jy nog bloedjonk! Gebruik die oorblywende jare, vrugbaar. Gee die liggaam wat hom toekom: ‘n Gesond dieet, geen sigarette en drank en oor die algemeen dit wat goed is.

    Tweede kanse kom nie sommer weer nie!

  • Peter Bezuidenhout

    Het jou storie waardeer en geniet.Mens leef net een keer.Baie bly jy is weer amper jou ou self.Go Girl Go.Alle Voorspoed.

    Baie Liefde

    Peter Bezuidenhout

  • Pierre

    Great Nenna, you go girl. Jy is n baie spesiale ster in elke Suid Afrikaner se hart en dit sluit alle rasse in. Alles van die beste.

  • Stephanie Gernandt

    Ai Charlene! Ons almal geniet so jou toneelspel! Pas jou gesondheid op!

  • George

    Hou so vol Surtie jy is n hero, en laat jou nie deur siekte afskyf nie.Ek is baie bly jy is weer op die bol.

  • Monica

    Ek is bly dit gaan beter met jou!! Ek hou van jou toneelspel. Jy is n mens 1000

  • Cecile

    Op 15 Januarie 12 het my kleinseun van 15 jaar oud ‘n beroerte gehad. Hy is nou gestrem aan sy regterkant. Hy loop met ‘n "kink" en sy hand wil nie werk nie. Hy moes dringend leer skryf met sy linkerhand. Hy kon darem teruggaan skool toe waar die onderwysers en maats hom ondersteun met sy "gebrek" Dit is wonderlik om te lees van iemand wat die BESTE uit haar wil kry, hou so aan, jy is een van ons land se beste aktrises.

  • Cheryl

    Jene man n mens moet so happy go lucky wees die probleme kom as jy begin wik en weeg wat om te eet en drink en wat nie.Jy stress jouself so uit dat dit jou meer siek maak
    Ek like jou attitude

    Love you omdat jy so jy is en nie probeer om iemand anders te wees nie

  • Willa

    Charlene, daar is so baie dieete op die mark. Iemand moet jou net help om jou huidige eetgewoontes om te sit in gesond-eet. Sonder om honger te lei of altyd belustig te wees. Jy is kosbaar, pas jouself op. Klein veranderings gaan groot wees vir jou liggaam. Sterkte.

  • Cornelia Nel

    Shaleen, jammer te hoor van jou terugslag, is net baie bly dat dit soveel beter gaan! Ek wil ook maar net ‘n stuiwer in die armbeurs gooi deur vir jou te se let op na jou gesondheid. Soos Lettie se jy het ‘n tweede kans gekry, maak gebruik daarvan. Leef gesond!! Weet jy dit is nie so ‘n vreeslike groot aanpassing en oplossing nie. Mens pas baie gou daarby aan. Ek weet, want ek sukkel self met diabetes. Ons is so lief vir jou en wil jou nog graag baie lank saam met ons he as dit die wil van die Vader is. Sterkte en liefde.

  • Mervyn

    As n mens nie swaar werk doen nie, dan hoef jy nie 3 keer per dag te eet nie. Daai is sommer nonsense van 3 keer per dag eet. Ek eet 2 keer per dag. 11h00 en19h00. Tussen in drink ek water as honger voel. Jy word dit gewoont. Ek dra nou 38 vanaf 44. As jy weer n beroerte wil he, eet nog. Terloops ek doen geen oefening behalwe bietjie loop nou en dan. Trek net die "dertag" (eet) bietjie in. Jy kan dit regkry want ek kon en ek is n man.. Lag my klaar

  • Aletta

    Ek luv jou humorsin! Jy is n legend Shaleen en n rolmodel vir my. Dankie dat jy net jy is. Gee meer om vir jouself en jou gesondheid.

  • Charlene

    Ek is altyd oop vir positief wees. Maar – die skok ten spyt – as mens mens roei op "deNial" moet jy jou voorberei daar nog skokke op jou kan wag.

    Elke mens het die verstand en motivering om so bietjie meer te doen as om positief te wees.

    Doen wat nodig is, dis nie so moeilik nie.

    En glo my – jy IS sterker as die sigarette. Jy is die baas, jy is die een wat die besluite neem. Nie die sigarette nie.

    Sterkte.

  • Ronel Byleveld

    Jy is so kosbaar!! Ek sit hier in Rooiland en huil van die lag!!

  • Sannie

    Shalee, ek is dankbaar dat die Here jou ‘n kans gegee het om jou aandag nou aan Hom te gee. Ons land paretykeer op ‘n siekbed sodat ons moet opkyk, na jou maker. Word stil en weet wat Hy vir jou wil gee. Voorspoed en nie teespoed nie. Wanneer die Here praat moet ons luister. Jou liggaam het nou genoed gif ingekry. Die beste is om daarvan ontslae te raak. Met die hulp van die Here sal jy slaag. Dink aan jou moeder wat jou ook nodig het. Pas jouself op. Baie liefde, en ‘n geseende spoedige gesond word.

  • Mac Koekemoer

    Hi Shaleen ek weet waar deur jy is ek het ook n beroerte gekry 2010 ek sukel nog met my spraak ek kan gesels ek het my hakel trug gekry ek blameer die dr daarvoor as hy na my geluister het sal dit nie met my gebeer het nie ek se net dankie dat ek ons se Vader daar bo ken hy is wonderlik hy het my gehelp en doen dit elke dag ek weet wat jy se van vrese ek het n man en 2 seuns wat my help my linker kant is nog onnosel ma ek kan als doen sit nie meer in n rolstoel nie harkloop saam my kinders moet elke vrydag nog gaan bloed trek so sterkte ek weet elke dag is nie die selfde nie soms gaan dit goed en dan kom die vrese weer so ek dink aan jou en sterkte vir jou en als wat mooi is.

  • Anita

    Ek stem saam met Lettie. My man het net ‘n week na Shaleen beroerte gekry. Dr het gesê hoofoorsaak was rook en cholestrol. Hy het dit ongelukkig nie gemaak nie. Was verlam aan regterkant, kon nie praat nie en heeltemal hulpeloos. Dit was baie erg om ‘n man wat nooit in sy lewe siek was nie, skielik so hulpeloos te sien. Op 10 Augustus is hy oorlede. So, jammer Shaleen, ek wil nie jou lewenslus breek nie, maar eerder vir jou sê hoe genadig die Vader was teenoor jou. Gebruik asb die 2de kans wat jy gekry het. Offer maar bietjie op! As jy dit nie vir jouself doen nie, doen dit vir jou geliefdes.

  • Sandra

    Sharleen ek hou baie van jou so moet nou nie loop en stupid wees oor hoe jy is en hoe jy sal bly..maak veranderinge vir jouself soms is ons almal hardkoppig maar wat gaan van ma Sakkie word as jy eerste sand kombers toe gaan..doen dit dan vir haar..

  • Lienkie

    SHARLEEN JY HET ONS ENTERTAIN VANAF 1984. BAIE DANKIE JY IS KOSBAAR! JOU VERHOOG WAS EENS ‘N KLASKAMER VOL KLEUTERS. EN VANDAG IS JOU VERHOOG GROTER AS DIT. IN ELKE HUIS WAAR DAAR ‘N TV STAAN HET JY ONS LEKKER GESELSKAP GEHOU MET EGOLI! FIELA SE KIND UITMUNTENDE TONEELSPEL! JY IS ‘N BESONDERSE AKTRISE EN SUID-AFRIKANERS KON NIE HELP OM MET SULKE EERLIKE WARME TALENT OP HULLE KASSIES VERLIEF TE RAAK NIE. VERSKOON MY AFRIKAANS. EK WERK AL VIR 5 JAAR OORSEE SO MY AFRIKAANS WORD SOMS LELIK AFGESKEEP. MAAR VANDAG WIL EK JOU SE HOU MOED EN PROBEER GESONDER LEWE. JA, DIE ROOK LAAT MENS LEKKER VOEL, LEKKER SLAAP MAAR DIT MAAK JOU LEWE KORTER EN IS ALLESBEHALWE BEDOEL OM JOU TE LAAT DE-STRES, DIS ALS IN MENS SE BREINKAS. DIT IS ‘N REUK WAT GEEN ANTI-BACTERIAL WIPES OF SEEP KAN WEGVAT NIE. DIT LAAT MENS SE KLERE, TANDE, EN LIGGAAM LYK SOOS GEEL MIELIES. EINTLIK KAN ‘N MENS AAN NIKS ANDERS DINK AS NET ‘N BLAASKANSIE OM TE ROOK! EK KON MY OE NIE GLO TOE EK LEES DAT JY GEROOK HET VOOR DIE AMBULANS GEARRIVEER HET NIE. DIS NOU ‘N REGTE SOLDAAT-ROKER DIE. EK WEET DIS MOEILIK JONG. ONS IS SEKER MAAR SELFSUGTIG AS ONS VRA, KYK MOOI NA JOUSELF EN KOM ENTERTAIN ONS VIR NOG ‘N BIETJIE LANGER TOE ASSEBLIEF. SELFS EK HET OPGEHOU ROOK. EK HET MEER GELD NOU. EK HET MEER PIESANGS IN MY HUIS NOU. EERS HET EK NET GELEWE VIR MY PAKKIE ROTHMANS OF MENTHOL. MAAR SORRY, EK HET DIT OPGEGEE. EK IS BIETJIE RONDER, MAAR N HELSE HOU GESONDER EN LYK JONGER! ONTHOU WATER BLUS DIE HONGER TONG VAN ‘N ROOK GEES. ONS IS LIEF VIR JOU SHARLEEN! EK HOU DUIM VAS VIR JOU! JY KAN DIT DOEN! STERKTE!