Ons praat met

Suzette van der Merwe: ‘Ek was nog nooit verlief nie’

Op die oog af lyk Suzette van der Merwe se lewe na aan perfek. Die son breek vroegoggend deur haar kantoorvenster by Vodaworld in Midrand, waar sy ’n top-pos beklee – uitvoerende hoof van kommunikasie van die Vodacom Foundation, en sy’s gek daaroor. Teen een muur is glimlag-foto’s van haar kinders, Graydon (9) en Skye (7). In die boekrak is foto’s van haar saam met mense soos oudpresident Nelson Mandela en die Ierse sanger Ronan Keating.

Sy’s steeds slank, spontaan en goed versorg, nes in haar dae as Mej. SA in 1990. Nege uit tien keer trek sy swart aan, soos vandag: swart sykouse, ’n noupassende swart knielengte rok, ’n swart trui.

Al wat dalk nog kort, is die liefde.

In verhoudings het sy haar oë toegemaak en kanse gewaag. Met albei haar huwelike het sy haar kop vertrou en gehoop op standvastigheid. Dit het nie gewerk nie.

Op 40 is sy reeds deur twee egskeidings. Die eerste keer was sy net 25 toe sy in 1995 van Greg Vogt geskei is. Vier jaar gelede was haar tweede huwelik, met Bowen Goss, ’n Johannesburgse sakeman, ook op die rotse. Hierdie keer het sy kinders gehad.

In die toekoms wil sy ’n liefdesbesluit met haar hart maak, want as sy nou daaraan dink, was sy nog nooit verlief nie, sê sy.

Suzette praat vandag openlik oor haar swaar tye – sy “sit die kaarte op die tafel”. Maar ook oor hoe sy opgestaan en weer geluk gevind het.

Met haar lang, donker hare en bruin oë was sy een van die gewildste Mej. SA’s. Mense onthou haar vandag nog.

Kort ná haar kroning het die sprokiestroue met Greg in die Rhema-kerk in Johannesburg gevolg. Maar ná vier jaar was die huwelik op die rotse. Suzette sê sy was op 21 te jonk getroud. “En Greg was my eerste kêrel. Ek was nie emosioneel volwasse en opgewasse vir ’n huwelik nie en ek het geen vorige verhoudings gehad waaruit ek kon geleer het hoe ’n verhouding werk nie.“ (Ironies genoeg was dit juis Greg wat haar later in haar donkerste ure ná haar tweede huwelik sou bystaan.)

In 1998 het ’n vriendin gevra of sy Suzette se telefoonnommer vir Bowen kan gee. “Ek het ja gesê en hy’t my gebel en nie nee vir ’n antwoord gevat nie.” Hulle is agt maande later getroud.
“Ek het teruggekom van ons wittebrood en ek het geweet ek het ’n fout gemaak.” Voor die troue al het sy Bowen as jaloers en beherend ervaar, en nou het sy besef dit gaan nie beter raak nie.

Maar sy het reeds op die wittebrood swanger geraak met hul seun, Graydon. Omdat sy nie gewerk het nie, was sy boonop vir alles afhanklik van Bowen. Sy het haar selfrespek verloor.

 

Ek het my mag as vrou in my tweede huwelik opgegee – Suzette

 

“Ek het my mag as vrou in my tweede huwelik opgegee. Sewe jaar lank het ek geglo ek’s nie goed genoeg nie. Vir my was die huwelik emosioneel afbrekend, tot die punt dat ek al my selfwaarde verloor het. Maar ek was trots. Ek is met Christen-waardes grootgemaak, met die geloof dat die huwelik vir altyd is, deur dik en dun. En ’n tweede egskeiding was buite die kwessie. Met my eerste egskeiding het die hele drama in die media afgespeel. Jy het geen private hoekie waar jy kan gaan opkrul en jou wonde lek en herstel nie. Ek was vasbeslote ek sou nooit weer skei nie.

“Ek het besluit ek het my keuses gemaak en ek moet nou soos ’n volwasse vrou optree en my bes doen om ’n goeie vrou en ma te wees. Ek’t geglo dit sal eendag beter gaan . . . oor ses maande . . . oor ’n jaar. Dit het nie.”

Die egskeiding was een van haar moeilikste besluite, juis omdat hulle kinders gehad het, maar sy’t geweet sy kon nie langer so voortgaan nie. Al het sy niks gehad nie en nie geweet hoe om vorentoe te gaan nie, was dit beter as om te versmoor in haar huwelik.

“Ek het oornag oud geword en depressief gevoel. Party dae het ek nie krag gehad om my arms op te tel nie. Die huis het aan my man behoort, ook die kar waarmee ek gery het. Hy’t my by my huurhuis, waar ek ’n kontrak vir ’n jaar geteken het, gaan aflaai. Ek het geen versekering gehad my lewe gaan oukei wees nie. Ek het alles opgegee om in hierdie verhouding te wees en skielik moes ek van voor af begin.”

Sy kon nie help om soos ’n slagoffer te voel nie.

“Elke keer wat iemand my gebel en gesê het hoe jammer hulle is, het ek die storie weer en weer vertel en myself nog meer jammer gekry. Ek wou nie hê my kinders moes sien hul ma verval nie, hierdie ma wat heeldag huil, in haar pajamas rondloop en niks wil doen nie.”

Totdat ’n goeie vriend haar een dag uit die donker gat gepluk het. “Dit was my eerste man, Greg, wat my gebel en dié raad gegee het. Hy’t vir my gesê, gaan kyk in die spieël: Het jy jou gesondheid, twee arms en twee bene, gesonde kinders? Ek’t gesê, ja. Hy’t gevra, is jy intelligent? Ek’t gesê, ja . . . ek dink so . . .”

Sy lag asof sy nie haar woorde van tóé kan glo nie.

“Toe sê hy: Ruk. Jouself. Reg. Jy’s 37 en jy’s geskei. So what? Moet ons nou jammer voel vir jou?

“Dit was ’n keerpunt. Ek het geglo iets gaan na my kant toe kom, maar ek het nie geweet wát nie.”

Daardie iets was ’n werkaanbod van Vodacom. Dit was vir Suzette moeilik toe ’n Sondagkoerant dit uitbasuin: “Skone los ‘huwelik uit die hel‘“. Maar dit het ook nuwe deure vir haar oopgemaak.

“’n Kennis wat by Vodacom werk, het die berig gelees en my die volgende week vir ’n koppie koffie genooi. Kort daarna het ek ’n werkaanbod ontvang: om Vodacom se vrywilliger-program vir personeel te begin.

“Dit het my lewe verander. Ek’t vir hulle begin werk en vinnig my selfvertroue teruggekry.

“Van my geskeide vriendinne se mans kyk nog geldelik na hulle. Ek het nie daarop aangedring nie. Jy kan nie ’n prys op vryheid plaas nie. Ek het in daardie stadium niks van myself gedink nie en gevoel ek verdien dit nie.”

Ná haar egskeiding moes sy deur baie teleurstellings werk. “Die lewe gooi sagte en soms harde balle, maar daar’s altyd ’n vangnet. Dinge werk uit soos dit moet.”

 

Die lewe gooi sagte en soms harde balle, maar daar’s altyd ’n vangnet. – Suzette

 

Suzette het hierdie les reeds vroeg in haar lewe geleer, met die dood van haar broer. Isak is net voor sy 21ste verjaardag aan kanker dood. Suzette was 19. Isak is op 13 met leukemie gediagnoseer.

“Van alles het dit die grootste impak op my lewe gehad. Ons gesin het toe tot bekering gekom. Ons het besluit ons gaan op die Here vertrou. Ek het gevoel hoe harder ek gaan probeer om God tevrede te stel, hoe beter sal dit met Isak gaan. Ek het nooit jongmens-stoute dinge gedoen nie, nooit gerook, gedrink, gaan dans of boyfriends gehad nie. Dis eintlik so naïef. Ek was goed gewees in die hoop dat Isak oukei sal wees.”

Isak het gesond geword, ná skool Bybelskool toe gegaan, maar weer siek geword. Sy enigste kans was ’n beenmurgoorplanting. Die gesin is almal getoets om te kyk wie ’n geskikte skenker sou wees.

“Vóór ons die uitslag gekry het, het ek vir my ma gesê ek gaan die een wees. Ons het dieselfde gelaatstrekke en olyfkleurige vel. Dit wás toe ek en reëlings is getref vir die oorplanting.”
Maar Isak het sy ma en pa ingeroep en gesê hy wil nie meer behandeling kry nie. Hy vertrou nou op die Here vir sy genesing. Hulle het dit só aanvaar.

“Ons het Isak se besluit nie vir ’n oomblik bevraagteken nie. Ek glo dinge gebeur soos dit moet, nog my hele lewe lank. “Ek sien soveel van Isak in my seun, Graydon. Hulle deel dieselfde saggeaarde eienskappe en sensitiwiteit.”

Suzette se tyd saam met haar kinders is nie onderhandelbaar nie.

“My dagboek pas by hulle aan. As hulle siek is, stop alles. Baie middae is ek die ma langs die sokkerveld met die Blackberry in die hand.”

Suzette is vasbeslote om ’n sukses van haar werk te maak. Dit beteken sy werk lang ure en ook naweke. Sy’s die afgelope drie jaar in beheer van kommunikasie en bemarking van die Vodacom Foundation, wat help om geld en vaardighede in die gemeenskap terug te ploeg.

“Ek begin gewoonlik agtuur werk. As die kinders by hul pa is, kom ek vroeër in en sit soms tot saans laat op kantoor. Bowen is betrokke in ons kinders se lewens. Elke tweede naweek is ek alleen, dan kan ek tot middernag met ’n boks sjokolade in die bed werk!”

Suzette wil haar kinders leer dat hul beste goed genoeg is. En belangriker: Hulle hoef nie ’n people pleaser te wees nie – dalk omdat hierdie eienskap vir háár baie pyn veroorsaak het. “Ek wou vroeër mense om my gelukkig hou vóór ek myself gelukkig gehou het.”

Sy het besluit haar kinders mag nie soos slagoffers voel nie.

“Net ná my egskeiding het Graydon my vertel iemand by die skool het hom geterg. Hy was in graad 0. Van die ouers het seker oor die storie gepraat. Hy’t gehuil en op my geskree. Dis goed hy het uiting aan sy woede gegee, maar ek het daardie dag besluit my kinders gaan nie vir hulself jammer voel hieroor of my blameer nie.

“Hulle gaan na private skole toe. Hulle is gesond, het vriende, twee huise, ouers en familielede wat hulle toevou in liefde en gehaltetyd met hulle spandeer. Hul ouers is dalk geskei, maar ons albei gee ons volle aandag en tyd sodat hulle die vrugte daarvan kan pluk.”

Suzette is ook handelsmerk-ambassadeur en die gesig vir die Franse skoonheidshuis Filorga in SA. “Ek hoef net na my ma en ouma te kyk om te weet ek is geseënd. Hulle is ongelooflik mooi vroue wat met grasie en min plooie ouer geword het. Skoonheid is ’n geskenk en ek het nog nooit gevoel asof ek die eer daarvoor kan inoes nie, want ek het nie daarvoor gewerk om dit te verdien nie.“

Suzette leer vir Skye ook om haarself goed te versorg.

“My een konstante boodskap aan haar is: ‘Skye, you’ve got to be a lady.’”

Suzette trek nie aan om op mense se best dressed-lysies te wees nie, sê sy. Sy doen wat gemaklik is. “Ek trek gereeld swart aan, want dis klassiek, tydloos, vat nie baie tyd in die oggend nie en boonop hou ek nie daarvan om uit te staan nie.”

***
Ná alles twyfel sy in haar vermoë om ’n maat te kies.

“Ek vertrou myself nog nie om dit te doen nie. Om in ’n verhouding te wees maak jou weerloos. Dis ’n groot stap en ek’s oorversigtig om betrokke te raak in hierdie tyd van my lewe. Natuurlik kom ek met baggage. Op hierdie ouderdom kom álmal met baggage.

“Ek was nog nooit regtig verlief nie; ek sien uit daarna. Ek hoop ek sal liefde nou met ’n gut feeling aanpak. My binneste moet vir my sê dis reg. Ek glo al die antwoorde lê in onsself.”    

  • Johan

    Het Suzette 1998 ontmoet tydens reëlings met Sonja Raciti. Sy het my voete onder my uit geslaan met haar skoonheid en my spraakeloos gelaat. My vrou lag vandag nog vir my as ons daaroor praat. Suzette, sterkte vir die toekoms en hoop jy vind ware liefde.

  • Chantel dos Santos

    Goeie storie maar hoekom maak sy haar kinders Engels groot? Is jy skaam vir jou taal? Ek verstaan Afrikaans sprekende vrouens glad nie. Hulle praat glad nie met hulle kinders in hul moedertaal nie. Sies man

  • Paula

    Nee wat praat met jou kinders Engels ek is seker hulle kan net so goed afrikaans praat en daar is bittermin afrikaanse privaat skole wat moet jy doen, ek het 2 kleinkinders wie se pa engels is en my dogter afrikaans en die oudste is 2 en half en begin nou al haar woorde wat sy as baba geleer het ook in afrikaans te se so by die tyd dat sy skooltoe gaan is sy al twee talig wat in SA baie belangrik is
    Sterkte ek hoop jou liefde kom gou

  • Lillian van den Berg

    Ek het ook dieselfde pad geloop, gelukkig net eenkeer getrou en het besef dat ek my afsloof in ‘n huwelik wat nooit gaan werk nie, want die harde werk kom net van eenkant!

    Ek het my vryheid 11 jaar gelede teruggekry en het met niks uitgestap! Vandag verruil ek my vrheid vir niks in hierdie wêreld nie! Geen man is jou trane werd nie!

  • Wayne Kukard

    Ek het Suzette ontmoet toe sy in `n kantoor oorkant my gesit het by Vodacom terwyl hulle haar nuwe kantore opgerig het. Sy is `n inspirasie vir almal. As klein seun het ek altyd gedink Suzette is die mooiste vrou op aarde . . .EK dink ek was Std 1 toe sy gewen het en van daai tyd af was ek verseker haar grootste bewonderaar. Dit was `n droom wat waar geword het die dag toe ek hoor ek gaan haar in lewende lywe hier by vodacom ontmoet. Mens sien haar elke nou en dan nog in die gange of die hysbak, nadat sy in haar nuwe kantoor ingetrek het, en sy het altyd `n vriendelike glimlag en groet mens altyd . . . dit wys net watse persoon sy werklik is. Jy is en was nog altyd fantasties Suzette, ek hoop dat jy werklik eendag Liefde vind en ervaar soos wat dit moet wees. Jou storie soos meeste dinge omtrent jou het my hart geraak nie net omdat dit jy is nie maar omdat ek self al deur so baie is en dit is goed om te sien dat mens nie alleen in die wereld is nie. Baie dankie vir alles wat jy doen en vir wie jy is Wayne

  • http://kcfjtahxuiqg.com/ jyomoe

    BMWSnm uoqyjzmjkalw, [url=http://opoubrexdrey.com/]opoubrexdrey[/url], [link=http://jrxlvxlbvicu.com/]jrxlvxlbvicu[/link], http://mkdqetjalsxy.com/

  • Renine

    Hi Suzette,Sarie en Sarie lesers.
    Suzette jy is werklik ‘n inspirasie vir alle vroue, veral oor wat jy alles moes deur maak in jou lewe. Jy is ‘n fantastiese mens. Wou net vir al die mense wat teen botox en vir skoonheid is, vra of julle al van die Galvanic Spa gehoor het? Fantastiese produk!
    Vir meer inligting kan julle my e-mail by reninedebruin@gmail.com
    Baie dankie dat jy so oop was oor jou persoonlike ervarings, dit help my baie om te weet ek is nie alleen nie.
    Dankie Sarie en Suzette.

  • Hannes Kilian

    Vraag: is Suzette van der Merwe oorlede? Ek sit in die Midde Ooste en het so n gerug gehoor.
    is dit waar dat sy een van n tweeling was?