sr1101cover1rz
Ons praat met

Swanger Quinne Brown gesels uit Amerika

Haar hare is nou ‘n kort, krullerige bob. Sy gloei. Sy blom in haar swangerskap. Quinne Brown, wat in Maart ma word, is die mooiste wat ons haar nog gesien het.

“Die haarsny was seker ‘n onbewuste gewaarwording van ‘n nuwe begin,” gesels sy uit San Francisco waar sy en haar Amerikaanse man, Ryan Huffman, nou byna vier jaar woon. Maar sy is nog pure boeremeisie, verseker sy. Steeds dieselfde Quinne wat kykers se harte gesteel het as die kelnerin Connie in 7de Laan.Tot onlangs nog was sy ook tussendeur in Amerika ‘n regte kelnerin om die rekeninge te help betaal.

Quinne is ‘n bedrywige vrou. As sy nie in ‘n rits kortflieks speel nie, skryf sy tekste vir kortflieks en kinderstories vir die lekkerte. Sy het selfs vanjaar by die San Francisco-filmfees vir die organiseerders foto’s geneem van celebs met wie onderhoude gedoen is.

This is Charlotte King, waarin sy vanjaar die hoofrol gespeel het, is boonop as die beste kortfilm by die San Diego-filmfees aangewys. En sy het saam met ‘n paar SA akteurs wat almal in Amerika woon aan ‘n projek gewerk! Koedoe de la Rey in LA is Neil Sandilands (voorheen Bart in 7de Laan) se geesteskind, en Quinne, Esta TerBlanche (tevore Bienkie in Egoli), Christel Smith (Egoli se Tarien) en Stelio Savante (die SA akteur wat onder meer in Ugly Betty te sien was) speel in die loodsepisode van dié komedie. Dit gaan oor ‘n SA akteur wat gestuur word om Hollywood te infiltreer en dit in ‘n Afrikaanse bedryf te omskep. Hopelik word dit deur een van ons kanale aanvaar as ‘n TV-reeks. (Kry solank ‘n voorsmakie op sarie.com.)

Quinne en Ryan verhuis eersdaags na Los Angeles en sy glo daar gaan nog meer rolprentwerk wees. Maar in dié nuwe moederskapfase van haar lewe wil sy darem ook tyd maak vir koekies bak en sandkastele bou.

Om te weet – kyk net al Quinne se flieks!

2010
Nominated
(kameerol): Vollengte-film oor ‘n kinderster wat die spoor byster raak en dan ‘n Oscar wen.

2010
Sedona’s Rule (ondersteunende rol): Vollengte-riller oor ‘n verleidelike vrou wat haar krag op mans uitoefen.
The Black Road (kameerol): Dokumentêre projek met ‘n wetenskapfiksie-ondertoon. Die prent is nog in die redigering-stadium

2009
Lifeless (ondersteunende rol): Vollengte-riller oor ‘n gifmoordenaar.

2007 Ouma se slim kind (ondersteunende rol), foto links: Quinne speel die rol van Klaradyn, wat ‘n gestremde seun onder haar vlerk neem in dié vollengte- Suid-Afrikaanse fliek.

Inside David Mamet&aposs computer Quinne en mede-ster Eli Kramer

Kortfilms

2010-’11 The Walk (voorlopige titel): Die eerste van drie kortfilms oor ‘n uitgewekene se uitdagings in Amerika.
2010 This is Charlotte King (hoofrol): ‘n Kortfilm oor ‘n weermeisie wat mense op avontuurlustige maniere red. Uitgereik by die San Diego-filmfees.
2010 Tacos de Pescado (speler, skrywer en mede-regisseur): Kortfilm met ‘n absurde blik op ‘n liefdesteleurstelling.
2010 Life on Lexington (danser): Kortfilm oor die lesbiese lewe in San Francisco
2008 Keen Parallax (hoofrol): Kortfilm oor Drew Lanning, ‘n tydreisiger. Die prent is steeds in die naproduksie-fase.
2008 Just Under a Million (kameerol): Kortfilm oor die voorlê van rolprenttekste. Uitgereik by die Beverly Hills HD Film Festival.
2008 Drug of Choice (hoofrol): Kortfilm oor al die verskillende vorms wat dwelms aanneem.
2008 The Shadow of Evil (hoofrol): Kortfilm in die film noir-styl (die genre herinner aan die swart-en-wit speurfilms in die veertigerjare).
2007 Love in Public (hoofrol): Kortfilm oor paartjies wat hul liefdeslewe wil verbeter.
2007 In your Eyes (hoofrol): Kortfilm oor ‘n man wat sy vrou aan die dood afstaan en nou haar spook oral sien.
2007 The Jeffersons (hoofrol): Kortfilm oor ‘n verhouding waarin die vrou kop verloor wanneer sy vermoed haar man het haar verkul.

Quinne het ook in 2010 gespeel in Inside David Mamet’s Computer, ‘n kort toneelstuk oor drie karakters wat hulself in niemandsland bevind binne-in die rekenaar van David Mamet, die Amerikaanse skrywer en dramaturg wat al die Pulitzer-prys gewen het. Dis van Oktober tot November by Studio300 in San Francisco opgevoer.
*lees op www.quinne-justsaying.blogspot.com en www.quinnebrown.com meer oor Quinne se loopbaan.