sr1210cameron_jana_7_
Ons praat met

Swem het Ritalin vervang vir Olimpiese kampioen Cameron van der Burgh

Daar is ’n betowering aan ’n Olimpiese goue medalje wat jy nie in woorde kan beskryf nie. Wanneer dit in die palm van jou hand lê, kry dit ’n lewe van sy eie. Dit is asof jy die veggees, bloedsweet en oorwinning wat daarin opgesluit is, kan vóél. En jy is nie eens die een wat dit gewen het nie!

Die swemmer Cameron van der Burgh vat sy kosbare besitting versigtig terug nadat almal by die fotosessie dit bewonder het en gaan sit op die ottoman in die tuin by sy ouerhuis in Pretoria, medalje om sy nek, reg vir die flitsende kamera. Sy meisie, Jana Botes, ook daar vir die fotosessie, is gou doenig in die huis.

Ná ’n geselsie met sy ma, Bev, besef jy daar is iets ekstra opgesluit in Cameron se medalje: ’n ingebore wengees. Hy was maar elf jaar oud toe hy aan ’n swemgala in Australië gaan deelneem het. “Ek dink hy het vierde gekom,” vertel Bev. “Ná die tyd het hy in die kleedkamer gaan sit en gehuil. Toe die spanbestuurder vra wat fout is, het Cameron gesê hy wou ook ’n medalje gewen het.”

En van toe af was sy oog op oorwinning. Niks sou in sy pad staan nie. Nie eens ’n besering nie. Toe hy op 15 sy enkel gebreek het, was sy been skaars ’n week in gips toe hy sy ma vra om hom na die Virgin Active naby hul huis te vat, vertel sy. “Hy het gesê hy kan dalk nie swem nie, maar hy kan die res van sy lyf sterk hou terwyl sy enkel gesond word.”    

Sedertdien het hy verskeie medaljes gewen en wêreldrekords verbeter.

Maar dertien jaar ná klein Cameron se groot teleurstelling in daardie kleedkamer in Australië het hy die
grote, die belangrikste, gewen: ’n goue
medalje by die Olimpiese Spele. En hy het die eerste Suid-Afrikaanse manswemmer geword wat ’n goue medalje in ’n individuele nommer om sy nek kon hang.

Dis byna ’n maand nadat Cameron die 100 m-borsslag gewen het, en dit voel steeds “ongelooflik” om daardie medalje vas te hou, erken hy.

“Dit voel soos . . .” Hy bly ’n oomblik stil en dink. “Jy weet, as jy
’n kind kry, sal hy altyd jou baba wees en jy sal altyd gelukkig wees as jy hom vashou. Dít is hoe dit voel.”

Sy lang, lenige swemmerlyf is uitgestrek op ’n stoel op die stoep wat oor die swembad uitkyk. Jana, sy meisie van die afgelope drie jaar, sit langs hom – klein en fyn, met donker hare en ’n blas vel.

’n Paar minute vroeër, tydens die
fotosessie, het Cameron haar styf op
 sy skoot vasgehou. In haar goudgeel rok het dit nie veel verbeelding geverg om te sien dat sy Cameron se eintlike goue medalje is nie. En dit was net so moeilik om haar te kry, spot hy.

“Dit was ’n groot uitdaging. Sy was nie seker of sy die verhouding ’n kans wou gee nie. Sy het gedink ek is ’n player,” lag hy. “Ek moes baie moeite doen. Ek het gereeld vir haar blomme en sjokolade gestuur.”

Dié geskenke het hy Stellenbosch toe gestuur, want Jana was nog druk besig met haar graad in visuele kommunikasie aan die Universiteit Stellenbosch.

Die twee was ’n skoolliefde, maar dit het doodgeloop toe sy gaan studeer het. Cameron se sjokolade en blomme het toe gewerk, want dinge het weer vlamgevat nadat hy haar een jaar saam met hom na die Durban July-perdewedren genooi het. Hulle was toe vir twee en ’n half jaar lank in ’n langafstandverhouding, vertel Jana, totdat sy aan die begin van die jaar Pretoria toe getrek het om naby hom te wees. Sy werk nou as grafiese kunstenaar vir haar pa se maatskappy wat finansiële stelsels by myne in werking stel. Nou blom hul verhouding, net soveel soos Cameron se swemloopbaan . . .
 
Cameron, voel jy nou soos ’n superster?

Ek dink baie mense sien my nou as ’n held of superster omdat ek op ’n “wêreldverhoog” presteer het. Maar ek voel steeds soos Cameron, soos ’n gewone mens. My verhouding met Jana en my familie het nie verander nie. Ek voel eerder daar kom groot verantwoordelikheid saam met ’n Olimpiese medalje. As jy in ’n posisie van mag is en jy kan mense se lewens verander, moet jy dit doen. Dit is hoekom ek besig is om die Cameron van der Burgh-stigting op die been 
te bring.

Vertel meer daarvan.

Ek beplan projekte om armoede te verlig. Ek sal nie so ’n groot verskil kan maak soos die regering deur byvoorbeeld huise te bou nie, maar dit sal wonderlik wees as ek ’n honger kind vir net ’n halfuur van sy lewe gelukkig kan maak deur vir hom 
kos te gee.

Jy het in ’n onderhoud gesê jy het nou bereik wat jy wou in jou lewe. En dit op 24. Wat lê nog voor?

Ek wil baie aandag aan my stigting gee. Ek moet gaan sit en dink oor my nuwe swemdoelwitte. ’n Borsslag-swemmer se goue jare is tussen 24 en 28. Dis hoekom ek voel die volgende vier jaar behoort my beste swemjare te wees -‒ ás ek nie ’n besering opdoen nie. Ek wil my titel by die volgende Spele gaan verdedig. Die belangrikste is om gemotiveerd te bly. Ek raak so vinnig verveeld . . .  Maar ek is nie verveeld met háár nie. [Hy draai na Jana. Sy lag.]

Jana, dis jul tweede keer in ’n verhouding. Wat is dit van hom wat jou so aantrek?

Cameron [lag]: Ek gaan dít geniet!

Jana: Hy is baie joviaal en het net ’n manier om my dag op te helder. Omdat hy so gedrewe is, dwing hy my uit my gemaksone en help my om gemotiveerd te bly. Veral om te oefen en gesond te leef.

En vir jou, Cameron?

Sy daag my uit en ek hou daarvan. Baie van die meisies met wie ek vroeër uitgegaan het, het heeltyd ja en amen gesê. Dit het dalk iets te doen met my posisie, jy weet? Jana vat my maklik vas as ek iets halfhartig doen. En sy kook ongelooflik!

Die pad na ’n man se hart is mos deur sy maag. Kyk, ons verhouding is nie normaal nie. Vroue kom vra nou skielik om saam met my afgeneem te word en gee my drukkies. Maar Jana verstaan dat ek net ondersteuning van aanhangers kry. Dis nice dat sy nie jaloers raak oor stupid dinge nie.

Jana, dis seker moeilik as vroue so aangaan oor hom?

Dis iets waaraan jy gewoond moet raak. Maar die een ding in ons verhouding wat uitstaan, is vertroue. As hy byvoorbeeld oorsee gaan deelneem, is ek nie bekommerd nie. Dis deel van sy werk om saam met vroue afgeneem te word. Ek gun hom dit, want ek weet hy sal my net so ondersteun in enigiets wat deel van my werk is.

Cameron, hoekom sê jy jul verhouding is nie normaal nie?

Eerstens sien ons mekaar min omdat ek so baie reis. Dít is soms moeilik. Ek voel ook ek moet Jana beskerm en ons private lewe soveel as moontlik uit die kollig hou. ’n Onderhoud soos hierdie is oukei, want ek wil graag vir mense wys sy is myne, maar ek gaan nie in die toekoms ’n tydskrif bel as ons op die strand lê om te vra of hulle foto’s wil kom neem nie.

Hoe hanteer julle dit om mekaar
 so min te sien?

Jana: Ons langafstandverhouding het ons albei geleer om ons eie ding te doen, al het jy iemand spesiaal in jou lewe. Ons wil natuurlik soveel as moontlik bymekaar wees, maar ons kan op ons eie oor die weg kom. Wanneer ons nie bymekaar is nie, het ons spesiale Skype-dates en ons BBM mekaar ook gereeld. Dit werk goed.

Cameron: Ek dink nogal daar was tye die afgelope jaar wat sy baie geïrriteerd was met my. Alles het net oor my gegaan, my voorbereiding vir die Spele. Dis nou tyd dat ek regtig op ons verhouding fokus, want ek is so lief vir haar.

Dit was seker nie maklik nie, Jana?

Soms moet jy terugstaan en hom toelaat om sy drome na te jaag. Ek weet hy sal dit vir my ook doen. As ek in die toekoms byvoorbeeld vir hom sê ek wil fokus op my loopbaan, sal hy my ondersteun en toelaat om te doen wat ek moet doen om my doelwitte te bereik. ’n Verhouding gaan oor gee en neem. Soms gaan ek meer vat en hy meer gee. Oor ’n paar jaar is dit weer andersom.

Cameron, jy volg seker ’n streng eetplan. Kan julle ooit saam ’n hamburger geniet of ’n bottel
 wyn drink?

Ons is mal oor lekker eet en ons het albei ’n gesonde eetlus. Hare is gesonder as myne, en ék is die atleet! Maar ons hou daarvan om gesond te eet. Omdat Jana lief is vir kook, stel sy my bekend aan allerlei interessante koskombinasies soos aarbei-en-geroosterde-beetslaai. Voorheen sou ek net ’n toasted broodjie geëet het.

Cameron, jou ma sê jy was hiper-aktief as kind. Het swem jou daarmee gehelp?

Swem was byna soos behandeling vir my hiperaktiwiteit. Ek het vir ’n ruk lank Ritalin gebruik, maar dit het my soos ’n zombie laat voel. My ma het my toe eerder aan sport laat deelneem. Swem het later oorgeneem. Ek kon my hiperaktiwiteit in iets produktiefs insit en toe was die medikasie nie meer nodig nie.

Wat is die grootste les wat jy by Ryk Neethling, jou bestuurder, geleer het?

Jy ontmoet baie mense op jou pad boontoe, na sukses. Jy moet hulle met respek behandel, want op pad terug ondertoe gaan jy hulle nodig hê. Jy dink mos maklik jy is ’n meneer as dit goed gaan met jou en dat jy nie tyd het vir mense nie.

Hoe bly jy nederig?

Ek dink jy kry grootkop wanneer jy die positiewe dinge glo wat mense van jou sê, soos dat ek nou ’n “goue seun” is. Mense gáán jou prys en natuurlik moet jy trots wees op wat jy bereik het, maar wanneer jy jou selfbeeld bou op dít wat mense van jou sê, is dit maklik om die pad byster te raak.

Ek is op die oomblik aan die bopunt van die leer omdat ek ’n goue medalje gewen het. Maar sodra ek weer gaan begin oefen, gaan ek vir myself sê 
ek is nou weer aan die onderkant 
en ek moet van voor af werk om bo uit te kom.

Nadat Chad le Clos sy goue medalje gewen het, was dit byna asof sy sukses joune oorskadu het. Het dit jou gepla?

Glad nie. Hy’s my pêl. Omdat ons albei goue medaljes gewen het, het dit soveel meer opwinding rondom swem in Suid-Afrika veroorsaak. En dit beteken swem gaan nou moontlik meer aandag en hulpbronne kry.

Jou stokperdjies?

Ek is mal oor branderplankry. Ek dink dit is omdat ek so lief is vir water. Ek hou ook van fotografie.

Jana: En gholf!

Cameron: En gholf. Ek is mal oor gholf.

Jana: Ons speel saam gholf.

Cameron: Ek wil graag leer kook. Sy gaan my leer.

Dis geen geheim dat die swemgeriewe in Suid-Afrika nie op peil is nie. Tog het ons swemmers baie beter as ons ander atlete gevaar. Hoekom dink jy is dit die geval?

Omdat ons so honger is vir sukses. Ons sit nie en huil oor wat ons nie het nie. Ons werk met wat ons wel het. Ons bewys die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie.

Het jy al planne vir as jy eendag uittree?

Ek het al ’n paar vakke in finansiële bestuur aan Unisa voltooi. Ek hoop om my graad te kry as ek eers klaar geswem het. Ek sien myself in die sakewêreld.

  • Frans

    Hy was ‘n kampioen van jongs af en ook ‘n baie goeie leier. Eer om hom te ken .Well done and keep the good work up!