sr1002tammy09
Ons praat met

Tammy-Anne se 5 groot liefdesfoute – ghoeroe gee raad

1. “In my eerste ernstige, volwasse verhouding (op 19) het ek op ‘n té jong ouderdom té ernstig geraak.”

Shannon sê:

“As ‘n mens na Tammy se persoonlikheidsprofiel kyk, is dit duidelik dat sy ‘n ‘ou siel’ (geestelik baie volwasse) is, maar dat ‘n ‘naïewe innerlike kind’ ook deel van haar is. Sy het ouskoolse waardes. Dis vir haar belangrik om in ‘n verhouding nie die ander party te verkul nie en hom te respekteer.

“Haar eerste volwasse verhouding was ‘n pragtige ervaring, maar dit was grotendeels ‘n langafstand-verhouding. Hulle het mekaar wel dikwels oor naweke gesien, maar dit kom voor asof sy die liefde geromantiseer het. Dit het grootliks berus op mooi fantasieë.

“Daar was baie respek, maar hoe ouer sy geword en hoe meer sy gegroei het as mens, hoe meer het sy haar eie identiteit ontwikkel. Die fantasieë is vervang met ‘n groter begrip van die werklikheid. Die ouer Tammy-Anne moes aanbeweeg.

“Haar ‘ou siel’sal help om haar in die toekoms wysheid te gee. Maar sy moet ook ontvanklik wees vir nuwe liefdeskanse. Haar naïwiteit sal sorg dat sy warm en vriendelik bly. Romanse is die belangrikste element in ‘n verhouding en help as daar af-tye kom.”

2. “Ek is ‘n vrye siel en het soms time-out nodig. Dit kan tot ‘n breuk in ‘n verhouding lei.”

Shannon sê:

“Tammy is ‘n onafhanklike vrou en hoegenaamd nie klouerig of emosioneel behoeftig nie. Sy het haar eie ‘heilige ruimte’ nodig waarin sy kan leef. Stylvolle binneversiering in haar woonstel in Bloubergstrand maak haar rustig. Dis ook vir haar belangrik om boeke wat haar vermaak en spiritueel laat voel, soos Eat, Pray, Love deur Elizabeth Gilbert, te lees.

“Sy sukkel soms om van ‘my’ en ‘jou’ na ‘ons’ in ‘n verhouding te beweeg, veral as die verhouding ernstiger raak en daar byvoorbeeld sprake is van saamwoon.

“Sy is ‘n tipiese millennium-mens en dis deel van hul ‘emosionele DNS’ dat hulle nie so gou tot trou kom en kinders kry nie. Maar hulle het wel, soos Tammy-Anne, baie gesonde morele waardes.

Time-out is goed en belangrik in almal se lewens. As jy ‘n bietjie stilstaan en bestek neem van jou lewe help dit jou om perspektief te kry.

“‘Tammy-Anne het ‘n natuurlike vermoë om haar behoeftes te balanseer – die sleutel is dat dit nooit na selfsug of selfbelangrikheid oorslaan nie.

“Namate sy ál meer na die ‘onsfase’ in ‘n verhouding beweeg, sal albei partye saam groei, maar ook individueel hul batterye kan herlaai om beter as ‘n eenheid te werk. Ons almal groei daagliks. Niks is staties nie. Ook nie verhoudings nie.”

3. “My loopbaan is vir my ongelooflik belangrik. Nie alle mans kan dít hanteer nie.”


Shannon sê:

“Die régte man sal dit verstaan. Tammy-Anne het hom beslis nog nie ontmoet nie! Sy is op die oomblik op haar eie reis met haar loopbaan en dis vir haar belangrik en nodig om haarself te ontwikkel by die werk.

“Gelukkig is sy ‘n liefdevolle mens en dít sal haar in die toekoms help om die regte balans te vind tussen werk en ‘n verhouding. Sy is ook baie nederig en haar sogenaamde celeb-status het nie haar menswees aangetas nie. Die regte man sal dit koester, aanmoedig en waardeer.”

4. “Soms is ek baie hardkoppig in verhoudings.”

Shannon sê

“Tammy-Anne het ‘n sterk persoonlikheid en is trots en energiek. Sy weet wie sy is en hou daarvan om dinge te doen en te laat gebeur. Nie alle mans is opgewasse teen dié ‘hitte’ wat sy uitstraal nie.

“Sy moet as glanspersoon in ‘n harde wêreld haar vrou staan, maar het nie nodig dat mense haar die heeltyd lof toeswaai of komplimenteer nie. Sy is intelligent en het ‘n sterk selfbeeld en die vermoë om haarself goed te laat voel. Haar ideale vennoot sal dít moet verstaan. Ook dat sy haar doelwitte gaan najaag.

“Hy sal waarskynlik iemand wees wat nie bedreig of jaloers op haar sukses is nie en wat haar hardkoppigheid in toom sal kan hou. Dit sal ideaal wees as sy iemand kan vind wat haar nie in tradisionele geslagsrolle dwing nie, maar wat haar as ‘n ‘totale vrou’ beskou en haar toelaat om te wees wie en wat sy is.

“Sy moet iemand met ‘n baie sterk selfbeeld uitsoek. Sy het ook die vermoë om ‘n man slim/sterk/ manlik te laat voel, sonder dat hy dit agterkom! Dít sal haar vorentoe help.”

5. “Ek kan glad nie by iemand betrokke wees wat nie my toekomsvisie deel nie. Watter nut het dit hoegenaamd?”

Shannon sê:

“‘n Mens het baie wysheid nodig om iemand te vind wat by jou pas, ook wanneer dit kom by jou siening van die toekoms. Maar die sleutel tot ‘n suksesvolle verhouding, selfs al verskil julle in jul toekomsuitkyk, is om ‘n besluit te neem om dit te láát werk as jy ernstig genoeg oor die persoon voel. Liefde is nie nét ‘n gevoel nie, dit verg báie toewyding.

“Om kompromieë te tref is ‘n groot deel van die liefde-spel. As ‘n mens werklik vir iemand omgee, is jy egter meer gewillig om aanpassings te maak. Maar dan moet dit van albei kante af kom. Dit is belangrik om te onthou dat compatibility daaroor gaan om die persoon wat jy gevind het, lief te hê ondanks sy of haar tekortkominge.

“Tammy-Anne sal bereid wees om kompromieë te tref as sy iemand vind wat haar doelwitte deel. Dit help dikwels as jy iemand kies met dieselfde agtergrond en waardes as jy. Beskou die verhouding as spanwerk. Natuurlik gaan daar slegte tye ook kom, maar onvoorwaardelike liefde beteken dat ‘n mens die vermoë het om te vergewe. Onthou, niemand is perfek nie. Verhoudings is, nes die lewe,’n aanhoudende leerproses.”

  • Ronel

    Wat ‘n pragtige miesiekind en met die mooiste persoonlikheid daarby. Sy is vir my Suid Afrika se eie Diana! Plat op die aarde fantasties!