Ons praat met

Tanya van Graan stel haar eerste solo-album bekend

Suid-Afrikaners ken haar as die donkerkopmodel met die blou oë wat al in talle publikasies te sien was. Sy het ook as aktrise in Suid-Afrikaanse reekse soos Snitch en Binnelanders gespeel en het selfs al in internasionale flieks haar verskyning gemaak. Dan was sy ook deel van die groep Bok van Blerk en die Mossies, maar moes as gevolg van haar besige skedule dié deel van haar lewe opsy skuif. Maar vanjaar het sy besluit om haar sangloopbaan voort te sit met die uitreiking van ‘n solo-album, Nuwe Seisoen

Wat het jou laat besluit om ‘n CD te maak?
My fokus en passie was nog altyd toneelspeel. Ek het dit ná skool gaan swot en toe toevallig begin model. Sing was altyd vir my ‘n deel van ‘n performer wees en as kind wou ek altyd aan musiekblyspele deelneem! Ek het nou eers by die punt gekom waar dit reg gevoel het om ‘n solo-album op te neem. Die rede was nie om my beroep in ‘n nuwe rigting te stuur nie, maar om myself uit te daag, te groei en op nuwe terrein te beweeg waar ek impak kan hê, myself kan wees en nie ‘n karakter hoef te speel nie.   

Was musiek nog altyd een van jou groot passies?
Om te perform was nog altyd my passie en musiek is deel daarvan. Maar om iets regtig goed te doen moet jy fokus op een ding op ‘n slag.

Jy was voorheen deel van Bok van Blerk se groep. Hoekom het jy ophou sing en nou weer begin?
Ja, ek was baie lank terug, toe Bok net begin het, deel van die band. Dit was ook die begin van my acting-loopbaan. Ek het toe ‘n rol in ‘n M-Net-TV-drama gekry wat my ‘n paar maande sou besig hou en besluit om die band te verlaat. Daar was net nie genoeg tyd om albei te doen nie. Om ‘n solo-album op te neem is baie makliker tydgewys. Jy hoef nie te sukkel om ‘n paar mense saam by die ateljee te kry nie. Dié jaar het net reg gevoel en die geleentheid was daar. Wanneer ek ook al ‘n daggie kon afknyp, was ek in die ateljee.

Hoe het dit gegaan met die opneem van die album?
Dit het goed gegaan. Om te sing is nie my voltydse beroep nie, so party dae was die uitdaging groter as ander, maar die mense saam met wie ek gewerk het, was wonderlik. Aan die einde van die dag het dit goed uitgewerk.

Watter soort musiek kan mense verwag om op die album te hoor?
Die musiek is lig. Daar is ‘n paar stadige liedjies en dan is daar ‘n klomp waarop ‘n mens kan dans en lekker kan saamsing.

Skryf jy self liedjies?
Ek het nie die liedjies op die album geskryf nie. Ek los dit vir dié mense wat werklik talent het. Maar ek sal tog graag eendag wanneer ek tyd het ‘n song of twee wil skryf.

Speel jy enige instrumente?
Ek het as kind klavier en viool gespeel, maar deur die jare het die speel van ‘n instrument ‘n plek op die back seat gekry. Om ‘n instrument op performance level te speel moet jy elke dag oefen, so ek het met die maak van die album maar net hard gekonsentreer om so goed as moontlik te sing.

Van watter soort musiek hou jy?
My smaak is baie wyd, maar ek geniet meestal meer rustige musiek. Dit hang maar alles af van my mood op daai oomblik.

As jy nou moet sê, wat is moeiliker: toneelspeel, modelwerk of sing?
Toneelspeel en modelwerk is my sterk punte, want ek het baie jare bestee om gemaklik te wees en selfvertroue op te bou om te kan sê ek kan enige rol aanpak. Sing is ‘n terrein wat meer onbekend is vir my, veral as ek as Tanya moet optree en nie in ‘n musiekblyspel nie. Dan het ek nie ‘n karakter om agter te skuil nie. Die enigste manier om te groei is om uit jou gemaksone te beweeg en nuwe uitdagings aan te pak. Mettertyd sal dit ook hopelik makliker word.

As jy ‘n duet saam met enigiemand kan opneem, wie sal dit wees?
Op my album het ek ‘n duet saam met Dewald Wasserfall gesing. Hy is baie talentvol en het die liedjie self geskryf. Daar is soveel wonderlike sangers saam met wie ek graag ’n duet sou wou doen, maar ek moet sê, dit sal fun wees om ná al die jare weer saam met Bok (van Blerk) te kan sing.

Waarmee is jy tans nog besig?
Ek was die laaste paar maande besig met ‘n paar flieks. Die meeste van hulle Amerikaans. Ek is geseën met soveel wonderlike werk en geleenthede, en die album was die kersie op die koek vir my!